Trouens, sojabone wat met net die helfte van die aanbevole N bemes is, kan byna dieselfde opbrengs lewer as sojabone wat die volle dosis N ontvang het. Só wys drie jaar se data in ’n bemestingsproef op ’n herlewingslandbouboer se plaas in Suid-Carolina, Amerika.

Mnr. Carl Coleman, wat buite die stad Dillon boer, het met prof. Buz Kloot, grondgesondheidkenner, saamgewerk om op sy plaas navorsing te doen oor of amptelike bemestingsriglyne nie te hoog is nie as dekgewasse ’n vaste komponent van ’n saaiboerdery vorm.

Buz, ’n oud-Namibiër wat nou in Amerika woon en werk, is internasionaal bekend vir sy bydrae tot die bevordering van herlewingslandbou. Hy het ’n ruk gelede meer as $5 000 (sowat R62 000) op die skarefinansieringswebtuiste experiment.com gewerf vir die navorsingsprojek op Carl se plaas.

Buz verduidelik dat die meeste amptelike bemestingriglyne vir Amerikaanse boere, wat deur staatsdepartemente ontwikkel is, dertig jaar of ouer is. “Dit is gegrond op die siening dat grond net ’n medium is waarin plante verbou kan word. Dertig tot veertig jaar gelede was dit dalk geldig, maar namate geenbewerking en die gebruik van dekgewasse toegeneem het, het baie boere hierdie opvatting begin bevraagteken.”

Die jongste verwerkte data vanaf die proefpersele op Carl se plaas sluit twee jare se koringoeste (2015 en 2017), twee jare se sojaboonoeste (2015 en 2017) en een jaar se mielie-oes (2016) in. Op geen van die proefpersele het die aanvanklike grondtoetse voordat geplant is, gebrekkige vlakke van N, fosfor (P) of kalium (K) uitgewys nie.

Carl doen geenbewerking en verwyder geen oesreste van die land nie. Ná sy mielie-oes in Augustus plant hy ’n somerdekgewasmengsel van gras, erte, radyse en sonneblomme. Ná sojabone plant hy ’n wintermengsel van Abruzzi-rog, korog, klawer en wieke, asook radyse as dit nog vroeg genoeg is.

As die dekgewasplanttyd laat in die produksiejaar is, pas hy hierdie dekgewasmengsel dienooreenkomstig aan. Hy meng self die dekgewassaad met ’n menger op die plaas.

Vier verskillende bemestingsprogramme is op elk van die proefpersele gevolg:

  • Die volle aanbevole N en K (volgens die plaaslike universiteit se aanbevelings).
  • Die volle N, maar geen K.
  • 50% van die aanbevole N, maar geen K.
  • 66% van die aanbevole N, maar geen K.

Telkens was die persele waar geen ander bemesting as stikstof toegedien is nie, die opbrengswenners. Sojaboonpersele waarop die stikstoftoedienings met onderskeidelik die helfte en ’n derde verminder is, het ook relatief na aan dieselfde opbrengs as op persele met ’n volle N-dosis gelewer. Die tabel toon die jongste resultate.

Die oes (skepels per acre) wat met verskillende bemestingsprogramme behaal is

Oor een aspek van die proefuitslae – die K-resultate – krap die kenners nog kop, sê Carl. Op die persele waar K volgens die universiteitsaanbevelings toegedien is, was die eindvlakke van dié element in die grond ná drie jaar se toedienings minder as toe met die proewe begin is.

Op die persele waar geen K in die drie jaar toegedien is nie, was die K-eindvlakke hoër. “Moeilik om te verduidelik, maar interessante inligting,” sê hy.

“Die (kunsmis)bedryf vertel ons al jare lank dat ons die voedingstowwe uit ons grond ‘myn’ as ons nie kunsmis toedien nie. Hulle waarsku dat ons dalk ’n jaar of twee daarmee kan wegkom, maar dat die vlakke gaan daal en dat dit dan twee keer so lank gaan duur om dit weer op te bou,” sê Carl. Hy hoop dat die proewe anders sal bewys.