Vraag

Sommige boere in die Vrystaat het weens hoë reënval probleme met stambreek (green snap), waar mielies 500 mm van bo af eenvoudig net afbreek. Wat kan boere doen?

Raad

Stambreek en hoë reënval gaan hand aan hand en dus is dit nie verbasend dat dit dié seisoen voorkom nie. Stambreek kom tipies voor tydens die vegetatiewe groeistadium, maar kan in enige stadium voorkom vanaf groeistadium V5 tot V18 (vyf tot 18 blare ontvou waarvan die kraag sigbaar is).

Algemene voorkoms is tydens die V5-V8-groeistadium en tydens die V12-R1-stadium (sowat twee weke voor saadstadium). Plante wat tydens die V5-V8-stadium breek, breek op die grondoppervlak af. Hierdie plante kan nie herstel nie en sal dus geen opbrengs lewer nie. Spruite kan wel in sekere gevalle uit die wortelbasisse ontwikkel en in enkele gevalle kan die spruite koppe grootmaak.

Winde – veral rukwinde – is hoofsaaklik verantwoordelik vir die afbreek van die stamme. Die gebreekte plante of stamme lê dus in een rigting.

Stambreek kom ook algemeen net voor saadstadium of tydens bestuiwing voor. ’n Mielieplant verdubbel gewoonlik elke sewe dae in grootte. Op die heuphoogtestadium gaan die mielieplant oor in ’n versnelde groeifase. Daartydens vergroot die wortelstelsel drasties en die plant se water- en voedingsopname neem dienooreenkomstig toe om in die snelgroeiende plant se behoeftes te voorsien.

Tydens koel, vogtige en nat toestande neem die mielieplant baie water op, wat die turgordruk in die selle verhoog. Die internodes verleng vinnig, met die selwande wat dan nie sterk genoeg is nie omdat min lignien neergelê word. Swak selwande verhoog die risiko van stambreek.

Winde in die oggend veroorsaak meer skade as storms laat in die dag, wanneer plante ietwat “verlep” of minder turgordruk het en meer elasties is. Selfs plante wat ietwat meegee by die wortelbasisse vertoon minder stambreek as dié wat baie stewig geanker is.

Die voorkoms van stambreek kan wissel van minimaal tot baie erg. Plante wat afgebreek het, vang dadelik die oog omdat die afgebreekte dele verdroog. Dit lyk altyd erger as wat dit werklik is. Soos die plant ouer raak en lignien neergelê word, verminder die risiko van stambreek. Daarom sal dit selde voorkom nadat koppe reeds gevorm het.

As sekere soorte chemiese middels toegedien word, kan dit die voorkoms van stambreek verhoog. Voorbeelde van sulke produkte is 2,4-D en dikamba. Die toediening van hierdie middels het die gevolg dat plante vinniger abnormale seldeling ondergaan, wat die plant meer geneig maak tot stambreek. Stambreek word dan gekenmerk deur die feit dat die plante presies op die nodes afbreek.

Hoë vlakke van stikstof kan bydra tot stambreek, veral wanneer plante se groeitoestande hoë opbrengste moontlik maak.

Hoe hoër die plantestand, hoe hoër is die voorkoms van stambreek. Die rede hiervoor is dat plante meer onderling meeding om voedingstowwe, water en son. Dit lei daartoe dat plante hoër sal uitgroei met gevolglike dunner stamme. Só word swakker stamme verkry.

Sekere genetiese groepe kan meer onderhewig wees aan stambreek. Plante met ’n meer regop blaargroeiwyse kan minder stambreek toon as plante uit die tipiese tropiese agtergrond. Daarom is dit altyd raadsaam om ’n pakket saamgestel uit meer as een baster aan te plant.

Die plek van afbreek bepaal die skade. As dit onder die kop is, sal daar geen opbrengs wees nie. Indien dit bo die kop afbreek, sal daar wel ’n opbrengs wees. Die res van die plant se blare sal die noodsaaklike funksie oorneem en die plante sal steeds ’n kop grootmaak.

Plante kan vergoed wanneer meer sonlig ewe skielik die blaredak binnedring deur groter koppe of pitte, of deur meer koppe te produseer in die geval van ’n meerkoppige baster. Die verlies aan graanopbrengs stem daarom nie altyd ooreen met die hoeveelheid plante wat gebreek het nie. Die grootste verliese kom voor wanneer ’n groot aantal plante breek, veral as rukwinde voorkom.