Graan SA het met groot moeite, as deel van die koringbedryf se omdraaistrategie, ’n aangepaste formule vir die berekening van die invoertarief beding.

Die oogmerk is om Suid-Afrikaanse koringprodusente gedeeltelik te beskerm teen lae en gesubsidieerde internasionale koringpryse.

Die tariefformule is daarop gegrond dat as die internasionale prys vir harde rooikoring in Amerika tot onder $279/t daal (op ’n drieweekskuiwende gemiddelde), sal die verskil aangepas word met ’n invoertarief in rand. Dit sal dan teoreties daarop neerkom dat die invoertarief sowat elke drie weke aangepas word, soos die drieweekskuiwende internasionale prys verander.

Die tariefformule is bekend. Binnelandse markdeelnemers kon dit in ag neem vir hul berekeninge en prysaanbiedinge op Safex, want die prys waarteen koring ingevoer kan word, kan vooruit bepaal word. Die resultaat was dat Safex-koringpryse die internasionale prys direk nagevolg het soos die tarief gereeld aangepas word. Dit het ’n taamlik deursigtige en voorspelbare mark gegee. Die tariefaanpassings is in oorleg met die tesourie en die direktoraat vir doeane en aksyns gedoen en in die Staatskoerant afgekondig.

Die afgelope ses maande het die staat eensydig gesloer met die tariefaanpassing. Die invoertarief is nie weer aangepas nadat dit begin Maart op R516,60/t vasgestel is nie.

Sedertdien het die internasionale koringprys verder gedaal. ’n Invoertarief van tot R1 000/t moes afgekondig word, maar dit is nooit gedoen nie. Die staat het skynbaar eensydig besluit om nie die tarief aan te pas soos die internasionale dollar prys daal nie, terwyl die verswakkende wisselkoers van die rand ’n sterk invloed het op ingevoerde pryse.

Dit kan vertolk word as ’n poging om die prys van ingevoerde koring kunsmatig laer te hou, dus ook die binnelandse Safex-afgeleide prys en uiteindelik ook die broodprys, hoewel koring minder as 20% van die broodprys uitmaak.

Invoerders, spekulante en meulenaars verdiskonteer die onsekerheid oor wanneer gaan die tarief verhoog of verlaag word in hul prysbenadering. Dit is ’n ekstra risikofaktor. Die onwilligheid om die tarief op te skuif, benadeel egter beslis koringprodusente en ander markdeelnemers.

Die tarief is nou al ses maande vas. Die risiko bestaan dat dit enige tyd aangepas word. Die dilemma is dat niemand weet of die staat die prysveranderinge deur die laaste ses maande gaan volg met tariefaanpassings nie en of hy doodgewoon die tussenperiode na goeddunke gaan ignoreer en wag totdat die tarief laer aangepas kan word voordat hy reageer.

Die staat het nou begin deelneem aan die koringprysmeganisme, maar op ’n wyse wat groter risiko en ondeursigtigheid skep. Die jongste voorstelle van die staat in die president se landbougroeiplan is dat die Bemarkingswet ook aangepas moet word.

Dit wil voorkom of die staat met al sy onbeholpenheid nou bykomende mag wil kry in landboumarkte en die landbouprysmeganisme. Landboubedrywe moet dit ten sterkste teenstaan.

Internasionale koringprys bly daal met groter voorrade

Die internasionale produksie van koring bly groei, veral in Oos-Europa. Amerika het sy dominante posisie in die wêreldmark verloor. Die Oos-Europese lande produseer koring (ook van bakgehalte) heelwat goedkoper as Amerika. Die wêreldproduksie van koring word vanjaar op 769 miljoen ton geraam, maar met ’n rekordeindvoorraad van 315 miljoen ton (sien Grafiek 1).

Die groter wordende voorraad druk pryse in dollarwaarde al laer, wat die noodsaak van ’n behoorlike invoertarief in Suid-Afrika beklemtoon. Rusland gaan vanjaar sowat 36 miljoen ton koring uitvoer, teenoor Amerika se 26 miljoen ton. Suid-Afrika voer taamlik min koring uit Amerika in, want koring uit Oos-Europa is goedkoper.

Grafiek 2 toon Suid-Afrikaanse koringproduksie die afgelope paar jaar, asook die invoer wat benodig word om in die plaaslike verbruik te voorsien. Invoer het in die jongste aantal jare meer geraak as wat binnelands geproduseer word. Vanjaar sal daar net minder as 2 miljoen ton koring ingevoer word.

In die nuwe koringbemarkingsjaar sal invoer daal weens ’n potensieel baie goeie oes in die Wes-Kaap.

Ingevoerde koring voorsien in omtrent die helfte van Suid-Afrika se verbruiksbehoeftes. Die prys waarteen dit ingevoer word, plus die invoertarief, is die binnelandse prysbepaler vir koringboere, met inagneming van die ligging en gehalte. Daarom is dit belangrik om die gelyke speelveld wat die invoertarief probeer skep, deursigtig en behoorlik te laat werk.

Plaaslike oes en prys

Die eerste oesskatting van die Nasionale Oesskattingskomitee raam die koringoes wat tans op die lande is, op sowat 1,96 miljoen ton. Dit is die beste in ’n hele aantal jaar, hoofsaaklik as gevolg van ’n baie belowende oes in die Wes-Kaap. Ten spyte van die goeie oes is die voorlopige beraming dat 1,5 miljoen tot 1,7 miljoen koring ingevoer sal moet word om die plaaslike oes aan te vul.

Grafiek 3 toon die samestelling van plaaslike koringproduksie. Die oes in die Wes-Kaap kan net minder as ’n miljoen ton wees danksy ’n baie goeie potensiële opbrengs van 3 t/ha. Dit is feitlik die helfte van die binnelandse oes.

Die dilemma is dat die Wes-Kaap heelwat meer koring produseer as wat in die streek gemaal word, wat beteken dat sowat 300 000 ton na die noordelike koringmeulens vervoer moet word. Die Wes-Kaapse boere word dan gestraf met die vervoerkoste.

Die Vrystaat is die ander provinsie waar ’n gedeelte van die oes op droëland geproduseer word. Koringproduksie in die Vrystaat word vinnig minder weens die verskuiwende reënpatroon.

’n Dekade of twee gelede het die Vrystaat en die Wes-Kaap albei sowat ’n miljoen ton koring geproduseer. Veranderinge in weerpatrone en goedkoop invoer het tot gevolg dat koringaanplantings bly daal. Die meer stabiele gebiede is die res van die land, waar betreklik goeie opbrengste met besproeiingskoring behaal word.

Die verswakking in die wisselkoers van die rand gee plaaslike koringboere ’n tydelike blaaskans.

Grafiek 4 toon die verloop van die verswakking van die rand teen die dollar en die korrelasie met die Safex-koringprys. Onthou, die regering kan nie die uitwerking van die verswakkende rand uit die koste van invoer haal nie. Vandaar die stygende neiging soos invoerpryse styg en dit binnelandse pryse opdruk.

Hoewel die koringinvoertarief bereken word op die prys van Amerikaanse harde rooikoring, is koring uit Oos-Europa heelwat goedkoper. Dit is selfs moontlik dat die prys van Oos- Europese koring laer is as die Amerikaanse prys wat gebruik is toe die tariefformule opgestel is.

Die onwilligheid van die staat om die tarief tydig aan te pas ten spyte van dalende internasionale pryse, is problematies. Vermoedelik probeer die regering om só die opwaartse druk op broodpryse te versag, maar dit benadeel koringboere en skep ’n bykomende risiko in die markmeganisme.