Luidens Katoen SA se markverslag vir Januarie is die verwagting dat die aanplantings weens die onlangse oorstromings nog laer kan wees. Die eerste skatting vir die seisoen dui op ’n plaaslike oes van 105 515 bale vesel, teenoor die 134 230 bale wat die vorige seisoen geoes is. In die 2019-’20-seisoen is sowat 27 675 ha katoen aangeplant, terwyl die raming vir die nuwe seisoen op 22 627 ha staan.

’n Gunstige faktor is dat byna die helfte van Suid-Afrika se katoen aan die internasionale beterkatoen-inisiatief (BCI) voldoen en daarom meer gesog op die internasionale mark is. Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, wat die BCI-toepassingsvennoot in Suid-Afrika is, sê die mikpunt is om alle Suid-Afrikaanse katoen binne die volgende paar jaar aan die vereistes te laat voldoen. Gemiddeld net 22% van die katoen wêreldwyd voldoen aan die BCI-vereistes.

Bruwer sê die eerste skatting is uiteraard teleurstellend, maar hulle het laer aanplantings verwag. “Ons is nou weer 50% laer as waar ons twee jaar gelede was nadat ons daarin geslaag het om die bedryf baie mooi te laat groei. Daar was vertragings met nuwe pluiskapasiteit wat boere benadeel en hulle laat wegbeweeg het van katoen af, maar die hoër pryse vir gewasse soos mielies en sojabone moet ook nie onderskat word nie.

“Ons is egter vol vertroue dat die situasie weer sal herstel. Internasionaal beweeg katoenpryse mooi opwaarts en katoen bly by baie boere deel van hul wisselboustelsel. Boere is winsgedrewe en as dit ekonomies sin maak, sal hulle weer meer katoen plant.”

Wat die internasionale situasie betref, sê die internasionale raadgewende komitee vir katoen (ICAC) dat die wêreldproduksie vir die 2020-’21-seisoen op 24,1 miljoen ton geraam word. Dit is ’n 8% minder as die vorige seisoen. Wêreldverbruik word geraam op 24,1 miljoen ton, wat dieselfde as die geraamde produksie is.

Die seisoen se gemiddelde prys het teen Januarie op R25,01/kg gestaan teenoor die vorige seisoen se gemiddelde van R23,23/kg.