Hy het vroeër aangedui dat die reën wat vir die eerste naweek van Maart voorspel is, “krities belangrik” sou wees vir die huidige somergraanoes. Die neerslae wat oor die naweek van 8 tot 10 Maart by Silostrat se metingspunte aangeteken is, wissel van geen neerslae by Douglas en Middelburg (Mpumalanga) tot 43 mm op ’n plaas tussen Hoopstad en Hertzogville.

Op Landbouweekblad se sosiale mediaplatforms is neerslae van tot 95 mm in die distrik Vrede aangemeld. Tydens Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensie op Reitz, wat met die samewerking van Graan SA en die Riemlandstudiegroep aangebied is, het meer as 80 mm in die distrik uitgesak.

Hoewel die reënvalmetings wesenlik verskil van gebied tot gebied, het die reën wel die bedryf meer optimisties gestem. Dit het egter niks verander aan die verwagte lae oordragvoorrade van wit- en geelmielies, asook oliesade nie. 

Die oordragvoorraad geelmielies word op 800 000 ton geskat, wat sowat 25 dae se voorraad verteenwoordig. Rossouw sê gewoonlik is sowat 85 dae se oordragvoorraad beskikbaar, derhalwe kan pryse nader aan invoerpariteit verwag word mits wesenlike hoeveelhede mielies nie ingevoer word nie. 

Groter aanplantings

Volgens Rossouw word verwag dat van 600 000 ton tot 1 miljoen ton geelmielies by die hawens in die Oos- en Wes-Kaap ingevoer sal word. “As dit die geval is sal geelmielies in die afsienbare toekoms rondom invoerpariteitsprysvlakke moet bly verhandel. Invoerpariteitsprysvlakke kan wel groter aanplantings in die volgende seisoen tot gevolg hê, wat dan weer groter oeste kan lewer, en dan kan geelmielies in die onderste helfte van die pariteitsband verhandel.”

Rossouw sê as die volgende oesskatting met 200 000 ton daal, sal Suid-Afrika nog 200 000 ton mielies moet invoer. Die hawens in die Oos- en Wes-Kaap kan van 800 000 tot 1 miljoen ton graan hanteer, derhalwe sal nog 200 000 ton moontlik by die Durbanse hawe gelewer moet word. Die invoerpariteitprysvlak by die Durbanhawe is gewoonlik sowat R100 hoër as by ander hawens. “Dan kan ons begin kyk na invoerpariteitspryse van tussen R2 800/ton en R2 850/ton by Durban.”

Die invoerpariteitprys by die Oos- en Wes-Kaap se hawens is tussen R2 700/ton en R2 750/ton.

Oesskattingskomitee

Rossouw sê die Oesskattingskomitee doen “fantastiese” werk. Sy skatting verwyder die emosie uit die mark omdat hy werk op syfers en help met groter akkuraatheid op die mark. “Die komitee haal die raai uit die pryse uit.” 

Die komitee word gereeld gekritiseer, veral oor die impak wat sy skattings op pryse kan hê. Rossouw sê die komitee is geneig om konserwatief te wees met sy skattings aan die begin van ’n seisoen, soos wat in 2016 gesien is. 

Rossouw sê die komitee se eerste produksieskatting van 10,510 miljoen ton vir die 2018-’19-mielie-oes, tesame met die onsekerheid van die droogtetoestande, het pryse verbeter. “Hoewel die skatting groter was as wat verwag is, het die mark ’n syfer gehad om mee te kon werk, ook ten opsigte van oordragvoorrade. Ons het gesien dat die prys per ton mielies vir drie dae aaneenlopend gestyg het.”

Koring

Tydens Graan SA se kongres het sommige boere in die sentrale en westelike dele van die Vrystaat, onder meer by Hoopstad en Bultfontein, aangedui dat hulle beoog om koring te plant mits hulle reën kry. Rossouw sê hulle het ook aanduidings van boere gekry dat hulle laat reënval in die somerreënstreek wil benut om koring te plant.

“Die moontlike aanplantings behoort nie ’n beduidende impak op koringpryse te hê nie, omdat Suid-Afrika tydens drie van die afgelope vier jaar meer koring invoer as wat plaaslike geproduseer word,” sê Rossouw. “Koring gaan by invoerpariteitsvlakke moet bly verhandel, omdat die moontlike verwagte styging in aanplantings nie genoeg sal wees vir plaaslike verbruik nie. Suid-Afrika sal dalk minder koring invoer, maar die land gaan steeds ’n netto invoerder van koring wees.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.