Mnr. Mooketsa Ramasodi, adjunkdirekteur-generaal van landbouproduksie, gesondheid en voedselveiligheid, het op ’n onlangse vergadering van die koringforum die sluier effens gelig oor die planne met die AAMP. Die mikpunt is dat die plan moet lei tot ’n maatskaplike verdrag tussen die regering, die landboubedryf, arbeid en gemeenskappe met die oog op die ontwikkeling van die landbou- en voedselsektor. Daar word ook gewerk aan meesterplanne vir verskillende bedrywe en sommiges is al voltooi.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad is aan die stuur van die ontwikkeling van die AAMP met ook die betrokkenheid van staatsdepartemente, navorsingsliggame soos die buro vir voedsel- en landboubeleid en die landboubedrywe self.

Oor die finansiering van die plan, het Ramasodi gesê dit sal kom uit ’n vennootskap tussen die private en openbare sektor met gemengde finansieringsbronne soos staatstoelaes, private fondse, statutêre heffings en trustgeld. “Wat die tydskale betref, word die plan gekoppel aan die Nasionale Ontwikkelingsplan met sy mikpunte vir lewering teen 2030.”

Hy het gesê beleidskwessies wat aandag moet geniet ten einde ’n beleggingsvriendelike klimaat te skep, sluit in die versterking van bewoners se regte op kommunale grond, die afhandeling van regulasies vir die produksie en verwerking van kannabis, ’n beleid oor grondskenkings, beleid waarvolgens begunstigdes geïdentifiseer kan word en grond toegedeel word, die hersiening van wetgewing oor die bemarking van landbouprodukte, die hersiening van wetgewing oor grondwaardasies, die verbetering van varsproduktemarkte se bedryfsdoeltreffendheid en die bywerk van wetgewing oor verblyfregte.

Volgens Ramasodi het die department al sowat 8,7 miljoen ha bekom vir die totale grondhervormingsprogram. Van dié grond wat oorgedra is, het 87% geen waterregte gehad nie. Hiervan was 81% geskik vir vee, 12,4% vir gesaaides en 4,5% vir tuinbou.

Met die oog op die uitvoering van die meesterplan word beoog om voorligtingsdienste uit te brei van die huidige 1 voorligtingsbeampte vir elke 850 boere na 1 vir elke 250 boere. Terselfdertyd sal aandag geskenk word aan infrastruktuur soos water, besproeiing, opbergingsgeriewe en kolleges.

“Ons trek nou by die vierde konsep van die meesterplan met insette van provinsies, arbeid en die kommersiële en ontwikkelende landbou. Ons verwag nog insette.”

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het beklemtoon dat dit nog net ’n konsepplan is. “Daar is verteenwoordigers van die bedryf wat deelneem aan die proses en daar is aspekte waarmee ons nog nie saamstem nie. Die mikpunt is egter steeds om by ’n konsensusverdrag te probeer uitkom.”