Saam met inentingsveldtogte wat in die meeste ontwikkelde lande reeds begin het, het die internasionale verwysingsprys vir katoen herstel van omtrent 65 Amerikaanse sent per pond in die ooreenstemmende tyd verlede jaar tot van 80c tot 85c per pond tans.

Saam met die gunstige wisselkoers is dit goeie nuus vir Suid-Afrikaanse uitvoerders, sê mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA. Boonop is Suid-Afrika se produsente goed geposisioneer om onder veral Europese verbruikers voordeel te trek uit sy goeie produksiepraktyke.

In ’n onlangse ontleding van die katoenbedryf sê Nedbank katoen wat aan die beterkatoen-inisiatief (BCI) voldoen sal met die Green Deal-inisiatief wat ekonomiese herstel in Europa aandryf, al hoe belangriker in daardie mark word.

Terwyl 44% van die afgelope seisoen se Suid-Afrikaanse katoengewasse aan die BCI voldoen, voldoen wêreldwyd gemiddeld net 22% van die katoen aan die BCI. Katoen SA is die BCI-toepassingsvennoot in Suid-Afrika, wat die proses aandryf om alle Suid-Afrikaanse katoen binne die volgende drie tot vyf jaar aan die BCI te laat voldoen.

Die voordeel wat BCI-katoen inhou vir produsente wat wil uitvoer, sê Bruwer, is dat dit eerste op die internasionale mark opgeraap word. Katoen wat nie aan die BCI-standaarde voldoen nie, sal ook verkoop, maar die BCI-katoen verkoop eerste uit.

Bruwer sê dit is duur om aan enige sertifiseringliggaam te behoort en veroorsaak ekstra werk en administrasie vir produsente. Daarom het Katoen SA die BCI gekies. Dié inisiatief staan neutraal teenoor GM-tegnologie, iets waarop die Suid-Afrikaanse katoenbedryf swaar steun. Katoen SA het in sy soeke na ’n registrasieliggaam gesien Suid-Afrikaanse produsente wat aan die verskillende wette ten opsigte van arbeid, omgewingsake, water en die bestuur van ander hulpbronne voldoen, het byna reeds aan al die BCI-vereistes voldoen. “Ons was feitlik klaar daar. Dit was dus nie ’n groot sprong om by die inisiatief se standaarde in te val nie.”

Bruwer noem dat die BCI ook plaaslik vir produsente ’n voordeel inhou. Woolworths koop byvoorbeeld slegs katoenprodukte aan wat organies gesertifiseer is, of aan die BCI-standaarde voldoen.