Waar in Suid-Afrika word koring oral verbou?

Die Wes-Kaap is verreweg die grootste produksiegebied. Destyds is daar ook op plekke soos die Oos-Vrystaat met koring geboer, maar dit het weggeval. Die voordeel in die Wes-Kaap is dat ons natuurlike winterreën kry; elders moet koring onder spilpunte verbou word.

Hoe bemark julle?

’n Oop vryemarkstelsel geld vir die koringbedryf. Ons verskaf aan agente wat die koring namens ons verkoop aan die Bokomo’s, Tiger Brands en Sasko’s van die wêreld.

Ek en my vrou het al die organiese nismark ondersoek, maar dit was ’n doodloopstraat omdat dit duur is om ’n meule op te rig. Produksie en bemarking is ook moeilik. Mense is gewoond aan luukse, sagte kos; hulle wil nie meer goeie, growwe meel eet nie.

Watter voordele bring bewaringsboerdery?

Dis eintlik ’n klomp klein dingetjies; daar is nie een wat uitstaan nie. Die grootste waarde is seker dat dit ons in staat stel om water beter te ontgin en doeltreffender te gebruik. Ons spuit ook nie insekdoders nie, wat ’n groot pluspunt is. Insekdoders is nie ’n groot uitgawe vir graanboere nie, maar elke bietjie wat ons kan spaar, help.

Sedert ons nie meer gif spuit nie, het die natuurlike roofinsekte teruggekeer en hulle speel nou klaar met die probleeminsekte.

Watter rol speel meganisasie in die koringbedryf?

’n Koringboer kan nie sonder trekkers, planters en spuite boer nie. Tegnologie raak ook belangriker. Ál meer graanboere maak staat op GPS-stelsels om so min as moontlik op die grond te trap. Dis ’n manier van bewaring, want jy versteur jou grond so min as moontlik. Met kartering kan jy ook kolle in jou lande merk wat verbeter kan word of liewer gelos moet word.

Wat is ’n koringboer se grootste struikelblokke?

Produksiekoste en wins. Tans voel dit rêrigwaar of dit net oor oorlewing gaan en nie vooruitgang nie. Ons koste styg vinniger as ons wins. Dit gaan waarskynlik ’n werklikheid bly, daarom moet ons probeer om ons produksiekoste so laag as moontlik te hou en met tegnologie probeer om ons beste landerye uitstekende opbrengste te laat behaal. Marginale grond moet eerder met skape (of iets anders) benut word.

Waarom geniet jy dit om met koring te boer?

Ek het daarmee grootgeword. Boonop is dit mos net ’n klein handjie vol mense wat die voorreg het om dit te doen, daarom sal ek dit nie laat vaar nie. Ek weet ook danksy die manier waarop ons boer, is daar elke jaar ’n verbetering

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.