Sojabone is die Suid-Afrikaanse gewas wat die afgelope dekade die vinnigste veld gewen het, met sy oppervlakte-aanplantings en produksie wat onderskeidelik met ’n gemiddelde van 15% en 20% jaarliks toegeneem het, volgens ’n vooruitskouing deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) vir die tydperk 2018 tot 2027.

Wêreldprentjie

Ná ’n vyfjaarperiode van betreklik stabiele globale produksie van graan en oliesade, het die pryse in 2017 tot die lae vlakke van 2010 gedaal.

Die nominale produsentepryse sal na verwagting in die oesjare 2018-’19 en 2019-’20 slegs geringe stygings toon, onder meer weens ’n wêreldwye toename in vraag, veral in China, en ’n toename in veeteelt in opkomende ekonomieë. Die produsenteprys van sojabone, sonneblomme en kanola sal oor die volgende jaar met gemiddeld of minder as 0,5% styg.

Die wêreldwye produksie van sojabone sal na verwagting met gemiddeld 0,7% per jaar toeneem, teen ’n aansienlik stadiger tempo as die 2,1% per jaar oor die afgelope dekade.

Die stadiger groei word toegeskryf aan ’n inkorting in oppervlakte-uitbreiding weens die laer pryse, wat die winsgewendheid van graan en oliesade knou. Sojaboonaanplantings in Amerika sal vir die eerste keer in die geskiedenis dié van mielies oorskry.

Die drie toonaangewende sojaboon-uitvoerders, Brasilië, Amerika en Argentinië, sal sowat 87% van die wêreld se sojaboonhandel oor die volgende dekade hanteer.

SA oliesade-neigings

In 2017 is in Suid-Afrika altesaam 1,3 miljoen ton sojabone op 574 000 hektaar verbou, en ná ’n aansienlik hoër opbrengs as die vorige jaar het die nasionale gemiddelde ’n rekord van 2,29 t/ha bereik.

Verlede jaar het die aanplanting volgens die Oesskattingskomitee ’n rekordvlak van 787 000 ha bereik, ’n verhoging van 37% teenoor die vorige produksiejaar. Die gemiddelde prys van sojabone in 2017 het rondom R4 600/ton gedraai, wat op ’n jaargrondslag ’n afname van 29% getoon het.

Dit het gebeur weens verlaagde internasionale pryse en ’n versterking van die rand se waarde. Faktore wat tot die uitbreiding van dié gewas bydra, is onder meer die toename in die getal kultivars wat beskikbaar gestel word, die uitbreiding in die aanplantingsoppervlakte (selfs in die westelike produksiegebied), asook die toepassing van verbeterde produksietegnieke.

Die verwagting was dat sojabone se bruto marge in 2018 dié van mielies sou klop, en dat dit ook vanjaar in verskeie produksiegebiede die geval sal wees. Sonneblomme en mielies is egter makliker en veiliger om te produseer onder ongunstige omstandighede as soja.

Sonneblomme

Die oppervlakte onder sonneblomproduksie het in 2017 met 12% na 635 000 ha teruggesak, wat ’n opbrengs van sowat 874 000 ton sonneblomsaad teen ’n gemiddeld van 1,38 t/ha beteken het. Die verwagting is dat die oppervlakte onder sonneblomme ’n geringe daling tot 2027 sal toon, maar hoër opbrengste sal in die hoër vraag kan voorsien.

Sonneblomme se opbrengs sal na verwagting met gemiddeld 2,2% per jaar tot 1,65 t/ha toeneem, deels te danke aan voldoende reënneerslae en verbeterde kultivars.

Die vraag en aanbod van sonneblomme sal na verwagting oor die volgende dekade wipplank ry en die pryse sal tussen uitvoerpariteit en die afgeleide prys vir olie en oliekoek verhandel. Die gemiddelde Safex-prys vir sonneblomme het in 2017 met 30% tot R4 607 gedaal, weens groot voorraad ná ’n rekordoes.

Oliekoek-neigings

Die prys van oliekoek het in 2017 gedaal – sojaboon- en kanola-oliekoek onderskeidelik met 4% en 3%, maar sonneblom-oliekoek met ’n aansienlike 23%. Sojabone, met sy hoë proteïeninhoud, het die leeue-aandeel van die internasionale oliekoek-mark bekom, veral vir gebruik in veevoer.

In Suid-Afrika het die parskapasiteit vir sojaboonkoek sedert 2012 tot altesaam 1,7 miljoen ton toegeneem, terwyl dit ’n verhoogde kapitaalbesteding van R2 miljard teweeg gebring het. In 2017 is 891 000 ton sojabone (sowat 68% van die plaaslike produksie) gepars.

Dié vlak sal na verwagting tot 75%, of 1,06 miljoen ton, in 2018 toeneem. Die plaaslike vraag na sojaboonkoek oorskry plaaslike produksie en word deur aansienlike hoeveelhede ingevoerde sojaboonkoek aangevul. Plaaslike verwerkers sal na verwagting in sowat 90% van die totale oliekoekvraag teen 2027 voorsien.

Groente-olie

Die verbruik van groente-olie het in ontwikkelde én ontwikkelende lande bly toeneem, hoewel teen ’n vinniger pas in die ontwikkelende lande. Palmolie dra 35% by tot die wêreld se produksie van groente-olie, teenoor sojabone en ander oliesaad (kanola, sonneblomme en grondbone) wat 55% bydra.

Die res is palmpit-, kokosneut- en katoensaadolie. Op die plaaslike front het die totale vraag na groente-olie, palmolie ingesluit, die afgelope 10 jaar teen ’n jaarlikse gemiddelde van 3% toegeneem. Sowat 41% van land se groente-olie word deur plaaslike produsente verskaf.

Die invoer van palmolie het van 300 000 ton in 2007 tot 468 000 ton in 2017 toegeneem. Die bydrae van palmolie tot die totale plaaslike verbruik het egter ’n geringe styging getoon van 33% in 2007 tot 35% in 2017.