Suid-Afrikaanse sojaboonprodusente het ’n groot agterstand wat opbrengs betref teenoor lande soos Amerika, Brasilië en Argentinië omdat hulle geredelik toegang het tot die jongste beskikbare kultivars en biotegnologie nie. ’n Statutêre heffing vir die bedryf maak nou ’n groot verskil.

Die eindpuntheffingstelsel wat sedert 2018 vir die sojaboonbedryf in werking gestel is en sedert 1 Maart 2019 in Suid-Afrika betaal word, gaan binnekort begin vrugte afwerp. Die finale beskikbaarstellingsproses van nuwe biotegnologie (Intacta Roundup Ready2 Pro®) in Suid-Afrika is in die finale fase en produsente sal eersdaags daartoe toegang kry.

Die statutêre heffing wat dit moontlik gemaak het, is in Junie 2018 met die oog op teling en tegnologie deur die destydse minister van landbou, bosbou en visserye ingestel. Dit het gevolg nadat belanghebbendes in die bedryf, verteenwoordig deur die sonneblom-en-sojaboonforum, daarvoor gevra het omdat opbrengsverhogings en die gemiddelde opbrengs in Suid-Afrika nie tred gehou het met die opbrengs in mededingerlande nie.

Volgens die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) ding plaaslike boere mee met internasionale sojaboonprodusente soos Amerika, Brasilië en Argentinië, waar die opbrengs per hektaar die afgelope 20 jaar met 1,63%, 1,56% en 0,62% per jaar verbeter het. In Suid-Afrika het opbrengs oor dieselfde tyd met 0,71% per jaar verbeter. Een van die belangrikste redes hiervoor is die gebrek aan die jongste beskikbare kultivars en biotegnologie.

Die gemiddelde opbrengs per hektaar is sowat 3,5 t/ha in Amerika, 3,3 t/ha in Brasilië en 2,9 t/ha in Argentinië, terwyl dit in Suid-Afrika minder as 2 t/ha is. Suid-Afrikaanse produsente ding dan ook in die internasionale sojaboonmark met dié internasionale produsente mee.

KOSTE VAN KULTIVARS

Waarom het opbrengste in Suid-Afrika agtergeraak teenoor die res van die wêreld?

Dit is wêreldwyd ’n erkende praktyk om sogenoemde oopbestuifde gewasse se graan as saad vir eie gebruik terug te hou. Suid-Afrikaanse sojaboonprodusente plant hoofsaaklik saad wat hulle van vorige seisoene af teruggehou het.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (Sansor) beraam dat die terughouding van graan deur produsente, vir plantdoeleindes, so hoog as 80% kan beloop in die geval van sojaboonsaad. Die nadeel hiervan is dat saadverkope dan relatief min is en gevolglik is dit nie vir saadmaatskappye lonend om in die ontwikkeling van nuwe kultivars te belê nie.

Die hoë graanterughouding vir plantdoeleindes het veroorsaak dat Suid-Afrikaanse sojaboonproduksievlakke agtergeraak het teenoor dié van ander lande. Amerika en Suid-Amerika het groter toegang tot nuwe biotegnologie en teelmateriaal. Dit veroorsaak dat plaaslike produsente moeilik in ’n hoogs mededingende internasionale sojaboonmark hul merk kan maak.

Dit duur byvoorbeeld agt tot tien jaar en kos etlike miljoene rand sedert die eerste kruisings gemaak word totdat ’n suiwer kultivar op die mark geplaas kan word. As saadmaatskappye nie goeie verkope kan verwag nie, sal hulle huiwerig wees om hierdie koste in Suid-Afrika aan te gaan.

Hoewel saadmaatskappye die vinnige groei in plaaslike sojaboonaanplantings benut het deur gereeld nuwe kultivars bekend te stel, was die nuutste ontwikkelings in biotegnologie steeds vir Suid-Afrikaanse produsente ontoeganklik. Internasionale saadmaatskappye het gereken dat hulle nie ’n behoorlike opbrengs op hul belegging sou verdien met die hoë vlakke van saad wat teruggehou word nie.

Gevolglik moes ’n stelsel ontwikkel word om saadmaatskappye op ’n ander manier te vergoed vir die ontwikkeling van aangepaste kultivars vir Suid-Afrikaanse produksietoestande.

EINDPUNTHEFFING

In Suid-Afrika het die sojaboonbedryf op ’n statutêre heffing besluit wat die koper van sojaboongraan verplig om ’n sekere bedrag van die produsent te verhaal en aan die Suid-Afrikaanse kultivar-en-tegnologie-agentskap (Sacta) oor te betaal. Sacta versprei dan hierdie geld aan die betrokke saadmaatskappye volgens hul markaandeel. Die doel van die heffing is om saadmaatskappye aan te moedig om nuwe kultivars met gevorderde saadtegnologie op die plaaslike mark beskikbaar te stel.

Sacta is ’n niewinsgedrewe maatskappy wat gestig is met die uitsluitlike doel om die administrasie van die statutêre heffingsgeld vir teling en tegnolgie te behartig. Saadmaatskappye gebruik die geld wat deur die heffing gelewer word om:

  • Nuwe genetiese bronne vir gebruik in plaaslike teelprogramme te verseker en te vergoed (hierdie genetiese lyne bevat dikwels reeds die nuutste biotegnologie).
  • Nuwe kultivars uit buitelandse teelprogramme behoorlik in Suid-Afrika te evalueer en vir produksie beskikbaar te stel. Die houer van die planttelersregte kan dan ook vergoed word vir die gebruik van die kultivars.
  • Biotegnologie wat in lande soos Amerika, Brasilië en Argentinië vir produsente beskikbaar is ook, waar van toepassing, in Suid-Afrika aan produsente beskikbaar te kan stel. Eienaars van die intellektuele eiendomsreg kan dan ook deurlopend vergoed word.

Die stelsel word ook in Suid-Afrika gebruik om nuwe kultivars in die koring-, gars- en hawermark te verseker. Opbergers, onder meer lede van Agbiz Grain, lewer ’n bydrae tot die wêreldwye mededingendheid van Suid-Afrikaanse sojaboonprodusente deur te help met die invordering van die eindpuntheffing.

GEVOLGTREKKING

Die probleme wat ontstaan weens te veel saad wat teruggehou word, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Wêreldwyd word verskeie maatreëls toegepas of stelsels ontwikkel om aanvullende vergoeding vir teelmateriaal en tegnologie tydens graanlewering te laat plaasvind.

In Suid-Afrika word ’n eindpuntheffingstelsel gebruik om heffings tydens graanlewering te verhaal. Die langtermyn gebruik van hierdie heffing gaan verseker dat Suid-Afrikaanse produsente deurgaans beter toegang tot die jongste en aangepaste teelmateriaal en toepaslike biotegnologie gaan hê om wêreldwyd ál mededingender te word.

Mnr. Wessel Lemmer is hoofbestuurder van Agbiz Grain en mnr. Gert Heyns is uitvoerende hoof van Sacta.