“Die Linkseed-kulitvar wat die 1 893 peule gelewer het, is ’n bepaalde groeier. Omdat ek vanjaar sowat drie weke vroeër as verlede jaar kon plant, het ons goeie sonligure op hom gekry, maar hy het volgens sy bestemde tyd so vier weke gelede begin afgaan. Gegewe die plantdatum en die weersomstandighede, meen ek dat ’n onbepaalde groeier selfs beter sou kon doen,” sê Bester.

Hy het verlede jaar agt sojaboonkultivars onder verskillende omstandighede aangeplant met die doel om verskillende faktore se uitwerking op sojaboonproduksie te meet.

“Dit is eintlik die gevolg van ’n kompetisie wat so vyf seisoene gelede tussen my en mnr. Stefan Jacobs van die gewasbeskermingsmaatskappy Stoller ontstaan het. Elke jaar kyk ons wie die sojaboonplant met die meeste peule op kan produseer en die wenner kry ’n wisseltrofee – ’n getekende R100-noot,” sê Bester.

Hy meen die groot geheim agter ’n goeie sojaboonoes word bepaal deur drie faktore: plantdatum, voeding en kultivarkeuse. Klimaat en die grond speel natuurlik ook ’n rol.

“Ons was vanjaar gelukkig dat die temperature effens koeler was as teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Ek het egter ook drie weke vroeër as verlede jaar geplant en ek beoog om volgende jaar nog vroeër te plant as die omstandighede dit toelaat. Ek wil sien wat die uitwerking van meer sonligure op die plant se produksie is,” sê Bester.

Sy plantvoeding bestaan uit verskeie produkte, maar Bester gee toe dat hy self twee van sy mededinger se produkte ook by sy sojabone gebruik, asook verskillende kunsmis. “Ek soek eintlik rond vir my produkte. Ek koop byvoorbeeld die koolstof wat ek gebruik, by ’n kwekery, omdat ek dit nêrens anders kry nie.”

Organiese inhoud in grond ook deurslaggewende faktore

Bester is ’n bekende in bewaringslandboukringe en sê die grond waarin sy sojaboonproewe vanjaar geplant is, het ’n stewige skeut organiese materiaal in.

“Dit is natuurlik maklik om ’n kleiner stuk grond se organiese inhoud vinnig op te stoot. Ek gee baie hoendermis en dan is die stuk ook voorheen onder dekgewasse geplant om die organiese inhoud verder op te stoot. Met die laaste grondontleding was die organiese inhoud van die gedeelte waarin die proewe geplant is rondom 3,1%. Ek wens natuurlik dit was my hele plaas se organiese inhoud.”

Op hierdie stadium wissel die organiese inhoud op sy lande rondom 2%.

Internet-sensasie

Bester sê kort op die hakke van sy Twitterboodskap oor die sojaboonopbrengs het mnr. Randy Dowdy, huidige wêreldrekordhouer vir sojaboonopbrengs per hektaar, vir hom gesê hulle moet die enkele sojaboonopbrengs na ’n opbrengs op 1 ha uitwerk.

“Die resultaat was dat jy ’n opbrengs van 32,8 t/ha sou stroop indien elkeen van jou sojaboonplante hierdie tipe opbrengs sou gee. Ek het vir Randy gesê ek wil asseblief nooit soveel sojabone probeer stroop nie,” sê Bester laggend.

Hy sê teen die laaste meting het sy sojaboonfoto reeds meer as 34 000 reaksies op Twitter ontlok. “Dit is eintlik wat ek wil regkry: om die ouens anders oor sojabone te laat dink. Om hulle sover te kry om verder te dink oor hul voeding, hul kultivarkeuses en die manier waarop hulle sojabone produseer. As my kompetisie in die kleine dit kan regkry, is ek tevrede.”