Hierdie statutêre heffing is deur die nasionale minister van landbou, bosbou en visserye ingestel, nadat belanghebbendes in die bedryf, verteenwoordig deur die sonneblom- en sojaboonforum, daarvoor gevra het.

Die doel van die heffing is om saadmaatskappye aan te moedig om nuwe kultivars met gevorderde saadtegnologie in die plaaslike mark beskikbaar te stel. Suid-Afrikaanse sojaboonprodusente plant tans hoofsaaklik saad wat hulle van vorige seisoene teruggehou het. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) beraam dat die terughouding van saad deur produsente so hoog as 80% is in die geval van sojabone.

Dit is wêreldwyd ’n erkende praktyk om sogenoemde oop bestuifde gewasse se graan as saad vir eie gebruik terug te hou. Die nadeel hiervan is egter dat werklike saadverkope relatief min is en dit dus nie vir saadmaatskappye lonend is om in die ontwikkeling van nuwe kultivars te belê nie.

Mededingend

Die hoë saadterughouding veroorsaak dat Suid-Afrika se sojaboonbedryf agter raak en baie moeilik in ’n hoogs mededingende mark sal kan funksioneer. Dit neem tot ’n dekade se navorsing en saadteling, asook etlike miljoene rande, om een verbeterde kultivar te ontwikkel. Indien saadtelers nie goeie verkope kan verwag nie, sal hulle huiwerig wees om hierdie koste aan te gaan. 

Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid(BFAP) ding plaaslike produsente mee met internasionale sojaboonprodusente soos Amerika, Brasilië en Argentinië, waar opbrengs per hektaar die afgelope dekade met tot 1,5% per jaar verbeter het. In Suid-Afrika het opbrengs oor dieselfde tyd egter met skaars 0,4% per jaar verbeter. Een van die belangrikste redes hiervoor is die behoefte aan nuwe kultivars en bio-tegnologie.

Gemiddelde opbrengs per hektaar in Amerika is rondom 3,5 t/ha, terwyl dit in Suid-Afrika minder as 2 t/ha is. Die plaaslike gemiddelde sojaboonopbrengs oor die afgelope 20 jaar is 40% laer as die gemiddelde opbrengs van die drie hoofproduserende lande.

Die vraag na proteïene neem wêreldwyd toe en sojabone is ’n reusekomponent van dierevoeding, asook menslike gebruik.

Aanplantings

Sojaboonaanplantings in Suid-Afrika het oor die afgelope 50 jaar skerp gestyg, van minder as 10 000 ha tot 787 000 ha in 2017-’18. Belegging in perskapasiteit en die bewusmaking van die voordele van sojabone as wisselbougewas het meer produsente oorreed om dit by hul boerderye in die somersaaigebiede in te sluit.

In 2017 het sojabone die aanplant van sonneblomme verbygesteek as die tweede grootste somergewas, in terme van die oppervlakte wat beplant is. BFAP beraam dat Suid-Afrika tot een miljoen hektaar sojabone binne die volgende vyf tot tien jaar sal aanplant.

Die tegnologieheffing wat op 1 Maart in werking tree, word deur die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) ingevorder en bestuur. Dit is betaalbaar op die eerste verhandeling van sojabone wat in Suid-Afrika geproduseer is, ongeag die graad daarvan.

SACTA is ’n maatskappy sonder winsbejag wat die heffing invorder en aan saadmaatskappye – volgens hul markaandeel – uitbetaal as gewaarborgde vergoeding vir hul belegging in gevorderde saadtegnologie.

Die heffing is geldig van 1 Maart 2019 tot 29 Februarie 2020. Daarna verhoog dit tot R80 per ton tot en met 28 Februarie 2021.

Vir nog inligting, kontak Gert Heyns, uitvoerende hoof van SACTA, by 082 388 0211, of besoek www.sactalevy.co.za.