Lanklaas het ’n somer soveel belofte ingehou as die huidige een. Reën het op die regte tyd gekom en somergrane se pryse het einde 2020 onverwags ’n lopie beleef. Die vraag na mieliemeel, die land se stapelvoedsel, het ondanks een van die grootste ekonomiese insinkings wat die land nóg getref het, bestendig gebly.

Die naasgrootste mielie-aanplanting die afgelope dekade is in die grond en daar word met optimisme na die res van die seisoen uitgesien.

Kommersiële boere in die somerreëngebied is voornemens om 2,746 miljoen ha mielies in 2020-’21 te plant. Dit is 135 200 ha (5,18%) meer as wat die afgelope seisoen beplant is. Daar is laas in die seisoen 2012-’13 meer as 2,7 miljoen ha mielies aangeplant, sê mnr. Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA. “Die planttyd tot dusver het baie goed verloop. Die meeste mielies is betyds geplant en die produksietoestande lyk goed met reën wat wydverspreid oor die land voorkom.”

Hy waarsku dat die weer in Januarie en Februarie ’n groot risikofaktor kan wees. “Dit is die bestuiwingstydperk en genoeg vog in dié maande is uiters belangrik. Die huidige voorspellings vir verdere reënval vir die seisoen vorentoe lyk gunstig en ons hoop op die beste.” Weerkundiges voorspel dat die huidige La Niña-weerpatroon, wat tot goeie neerslae oor Suid-Afrika se somerreënstreek lei, in die eerste paar maande van 2021 steeds ’n faktor sal wees.

Oesgrootte

“Gegrond op die plantsyfers, en indien die reënval vir die res van die seisoen goed lyk, kan Suid-Afrika ’n nasionale opbrengs van 16 miljoen ton verwag,” sê dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat.

“Omdat die oes vroeër in die grond gekom het, het dit ’n gunstige impak op produksie. Ons kan verwag dat die opbrengs selfs groter kan wees, maar dan moet gemiddelde toestande tot en met April normaal tot bogemiddeld wees.”

Oesgrootte het ’n merkbare impak op vraag- en aanbodsyfers. Rossouw sê dit lyk tog asof pryse nader aan uitvoerpariteitsvlakke gaan verhandel. “Wat gunstig is, is dat Suid-Afrika as gevolg van die relatief swak rand, maar ook as gevolg van hoër internasionale pryse nader aan uitvoerpariteitsvlak beweeg vir lewering in Mei, Junie en Julie 2021. Vanaf Augustus, wanneer die Suid-Amerikaanse oes geoes word, is die pryse in Suid-Afrika weer ’n bietjie duurder.”

Indien die internasionale pryse styg, beteken dit die pariteitsband verskuif opwaarts en dat Suid-Afrika teen hoër pryse kan uitvoer. Dit sal baie goeie nuus vir boere wees, veral gegewe die verwagte groot oes, sê Rossouw.

Ontleders sê dit is moeilik om nou al te sê of witmielies weer, soos in die vorige seisoen toe daar laat reën geval het, probleme met gehalte sal hê. “In groot dele van die land waar die gehalte werklik ’n wesenlike probleem was, is die mielies die vorige seisoen laat aangeplant,” sê Van der Walt.

“Die mielies is vanjaar meestal betyds aangeplant. In die algemeen gaan die witmielies na die voermark wanneer daar ’n plaaslike oorskot mielies is. As ’n algemene reël in so ’n seisoen beslaan witmielies dan 35-40% van die veevoermark.”

Internasionale pryse kan hoog bly

Wêreldmarkontleders meen die huidige hoër pryse gaan minstens die eerste helfte van 2021 voortduur. Hulle wys op verskeie faktore wat ’n rol in die onlangse styging speel.

Van der Walt verwag dat internasionale pryse ’n sywaartse tot opwaartse neiging in die komende seisoen kan volg ná die sterk opwaartse beweging die afgelope paar maande.

Alle oë sal vanjaar veral op Suid-Amerika gerig wees, waar die La Niña-weerverskynsel die kaarte deurmekaar kan krap, sê Rossouw. “Vir Suid-Afrikaanse boere is ’n La Niña goeie nuus, maar in Suid-Amerika, spesifiek Argentinië, kan dit tot ondergemiddelde reënval oor ’n belangrike produksietydperk lei.”

Suid-Amerika se produksie is ook iets wat hy vanjaar fyn sal dophou, sê Van der Walt. “Indien die seisoen nie verbeter nie, kan dit ondersteunend wees tot die internasionale markte.”

Tot 89% van die wêreld se uitvoermielies kom vanaf vier lande, naamlik Amerika, Brasilië, Argentinië en die Oekraïne. Daarom word produksie daar gewoonlik fyn dopgehou. Die ander land wat internasionale graanpryse beïnvloed, is China wat ’n groot koper van uitvoermielies is en ’n belangrike invloed op die wêreld se verbruiksyfers en die uiteindelike eindvoorraad het.

“Die belangrikste faktor wat pryse bepaal, bly vraag en aanbod, hetsy plaaslik of internasionaal. Die verwagting is dat China ’n sterk koper van mielies in die komende seisoen sal bly. Die land brei sy plaaslike verwerking uit en sy vraag na veevoer groei ook sterk.”

In Amerika, waar die laaste oeste van 2020 ingesamel en verwerk is, is die geskatte eindvoorraad van mielies met byna die helfte afwaarts aangepas. Die opbrengs- en oppervlakteskatting is verlaag weens droogte teen die einde van die produksieseisoen, asook ’n vernietigende derecho, ’n windstorm wat aan ’n wye front skade aangerig het.

Prysoorlog moontlik

Rossouw sê die sojaboonvoorraad in Noord-Amerika is ook onder druk, daarom word verwag die komende seisoen kan ’n prysoorlog tussen mielies en sojabone bring. “Die gewas wat die winsgewendste is, gaan meer aangeplant word. Tans is soja so ’n kort kop voor mielies. Dit kan daartoe lei dat die mieliepryse in Amerika, gebaseer op die Amerikaanse vraag- en aanbodsyfer, relatief sterk kan bly.”

Die Oekraïne se oordragvoorraad is ook laer as aanvanklik verwag, wat die internasionale mieliepryse ook relatief sterk behoort te hou in die komende seisoen.

Rabobank het in sy vooruitskouing vir 2021 ’n verdere faktor uitgelig wat die pryse van internasionale landbouhulpbronne kan verhoog. In 2020 het spekulante rekord-hoeveelhede landbou-termynkontrakte gekoop. Dit het daartoe bygedra dat pryse begin styg het.

“Fiskale en monetêre stimulusmaatreëls het ’n klomp geld uit staatseffekte laat vloei. Beleggers begin al meer kyk na landbouhulpbronne as ’n bateklas om in te belê.”

Wisselkoers

Van der Walt sê plaaslike somergraanpryse word grootliks deur die internasionale mark en die wisselkoers beïnvloed. ’n Swakker rand skuif invoerpryse op, maar indien die wisselkoers versterk, kan die plaaslike mark onder druk kom.

“Die plaaslike mark is tans nie ver bo ’n uitvoerpariteit vanaf gunstige liggings nie, en daarom sal die internasionale mark en die wisselkoers dus ’n groot impak op die plaaslike pryse hê.”

Prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom, sê dit is baie moeilik om die wisselkoers van die rand teenoor die dollar te voorspel, maar ’n mens kan tog verwag dat Amerika onder die aangewese president Joe Biden ’n meer stabiele beleid sal volg. “Dit behoort die dollar te baat en die rand kan dan weer verswak."

Wat oordragvoorrad betref, sê ontleders dit lyk tans of die mielievoorraad aan die einde van April redelik laag kan wees. Van der Walt sê huidige goeie uitvoervlakke tesame met ’n stewige binnelandse vraag kan die eindvoorraad vir 2021 redelik laag hou.

Willemse sê weer daar sal meer wees as die minimum voorraad wat nodig is om die pyplyn aan die gang te hou. “Die knyp is vanaf Februarie tot Julie 2021 en vroeë lewering is dus noodsaaklik.”

Hoewel die prentjie tans rooskleurig lyk vir ’n goeie seisoen, maan Willemse dat produsente hulself steeds teen prysdalings moet beskerm. “Die wêreld bly maar ’n onstabiele plek op die oomblik.”