In sy reaksie op die nasionale oesskattingskomitee (NOK) se derde produksieskatting vir die 2020-’21-seisoen sê hy daar kan, veral wat sojabone betref, gesien word die stroopproses en die skatting is beslis in ooreenstemming met wat boere sê. Die stroopproses van sojabone is al ver gevorder.

“Dit is vir ons goeie nuus, veral in ’n jaar waarin pryse ook beter is. Normaalweg sit ons met baie lae pryse as daar groot oeste is, maar die wêreldprys help ons vanjaar. Dit kan ’n goeie hersteljaar vir die graanbedryf wees.”

Die NOK skat die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes nou op 16,096 miljoen ton, wat 173 800 ton (1,09%) hoër as die vorige skatting is. Die skatting vir sojabone is met 65 500 ton (3,79%) verhoog tot 1,794 miljoen ton op ’n geskatte oppervlakte van 827 100 ha, en teen ’n verwagte opbrengs van 2,17 ton/ha.

Die oppervlakte onder mielies is 2,755 miljoen ha en die verwagte opbrengs is 5,84 ton/ha. Die geskatte oes is ook 5% groter as verlede jaar se oes. Die drie belangrikste produserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 84% van die oes lewer. Die skatting vir witmielies is nou 8,93 miljoen ton, wat 1,57% meer as die vorige skatting is. Vir geelmielies staan die oes op 7,16 miljoen ton, wat 0,51% meer is.

Terwyl daar doemprofete is wat meen die oes word oorskat, is daar ander wat reken dit kan selfs nog hoër wees. Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê hul eie raming vir mielies is 16,7 miljoen ton, en die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) raam dit selfs op 17 miljoen ton.

“Te oordeel na die optimisme van boere oor opbrengste en ons eie waarnemings op plekke wat ons besoek het, glo ons die skatting kan in die komende maande nog hoër wees. Alles dui daarop dat Suid-Afrika ’n netto uitvoerder sal bly. Suid-Afrika se jaarlikse verbruik is sowat 11,4 miljoen ton. Uitvoer kan dus in die 2021-’22-bemarkingsjaar rondom 2,8 miljoen ton beloop.”

Vir sonneblom is die jongste skatting onveranderd gelaat op 692 290 ton, met ’n opbrengs van 1,46 ton/ha. Die verwagte grondboonoes is ook onveranderd gelaat op 57 900 ton. Vir sorghum is dit 189 885 ton (1,18% meer) en vir droëbone is die skatting 56 577 ton.

Wat wintergewasse betref, raam die NOK volgens vroeë aanduidings dat produsente 512 500 ha koring gaan aanplant vir die 2021-produksieseisoen. Dit is 0,53% meer as die vorige seisoen. Die verwagte aanplanting van moutgars is 95 000 ha, wat 33% minder as die vorige seisoen sal wees. Die verwagte aanplanting vir kanola is ook 95 000 ha, wat 28,2% meer as die vorige seisoen sal wees.

Volgens De Villiers is die afname in moutgars te verstane weens die surplusse en opbergingsprobleme wat ondervind word. Vir kanola kan die groter aanplantings toegeskryf word aan uitvoermoontlikhede en ’n moontlike toename in verwerking.