Só het mnr. Robert Paterson van Twaktuin Boerdery op ’n aanlyn webinaar van Landbouweekblad en Nexus Citrusdal se Citrusdal-herlewingstudiegroep gesê. “Dit is belangrik om hierdie kopskuif te maak en die plante wat natuurlik by jou voorkom, te leer ken. Jy moet kan identifiseer wat is dekgewasse en wat is onkruid.”

Wittedrift, Twaktuin se plaas naby Redelinghuys in die Sandveld, het arm, sanderige grond. Natuurlike en aangeplante dekgewasse word aangewend teen winderosie en om grondgehalte te verbeter.

In jong boorde werk graandekgewasse, soos rog, goed in die winter omdat dit vinnig groei en tot laat in die somer staande bly en as windbeskermer dien, sê mnr. Jarred Murphy, plaasbestuurder op Wittedrift. “Ons plant rog in die winter in die werkrye teen 75 kg/ha en sorghum tussen die jong bome as ons genoeg water het om dit te vestig.

“Sorghum het nie veel aandag nodig nadat dit gevestig is nie, en is goed bestand teen droogte. Wees egter versigtig om nie té veel saad in een plantgat te gooi nie. Ons plant die sorghum met die hand en het gesien hoe meer pitte in ’n enkele plantgat gegooi word, hoe swakker is die opkoms en die groei.”

Hierdie sorghum het nog nie gepluim nie, maar bied reeds doeltreffende windbeskerming in dié jong boord.

Murphy kan tot drie snysels per jaar van die sorghum kry. Dit lewer uitstekende materiaal onder die bome. Sorghum kan maklik met ’n vurk uitgesteek word om dit uit boom- of werkrye te verwyder.

Op Wittedrift word gewag vir die eerste reën om te sien watter inheemse dekgewasse opkom. Dit word daarna met dekgewasmengsels aangevul. Paterson meen ramnas is ’n goeie Brassica wat voordelig vir grondgesondheid is.

“Dit onderdruk in ’n mate aalwurms en is ’n voorloper vir ander Brassicas in ons dekgewasmengsels. Dit klink dalk na geldmors om dekgewasse aan te koop as daar gewasse is wat natuurlik opkom en as dekgewasse gebruik kan word. Aangeplante dekgewasse het egter ’n langer groeitydperk en bied dus ’n beter habitat en beskerming vir roofinsekte as gewasse wat natuurlik opkom. Dit sorg ook vir ’n langer tyd vir aktiewe wortels in die grond en produseer dikwels meer materiaal.”

Murphy laat baie ramnas en kiesieblaar in die jong boorde op Wittedrift toe om natuurlik te groei. Dit word aangevul met onder meer radys, weiwieke, hawer, kanola en rog.