Mnr. Rudi Wium, Wenkem-konsultant op Malmesbury, beklemtoon egter dat hierdie bevestiging uit ’n voorlopige proef kom en nie statistiese bewyse is nie.

Hy sê die doel van die proef was om vas te stel of statistiese proewe wel geregverdig is en daarin het hulle geslaag. “Ons wou vasstel of ons swamdoder met vliegtuie in oggenddou kan spuit. Ons het met ons voorlopige proewe gesien dat daar ’n 21,9%-afname is in die doeltreffendheid tussen ’n vliegtuigspuit wat teen 30 liter/ha swamdoder toedien in die oggenddou teenoor ’n trekkerspuit wat dieselfde swamdoder teen 150 liter/ha in die ideale, droë omstandighede toedien.”

Daar is ’n afname van slegs 4% tot 8% in doeltreffendheid van swamdodertoediening tussen bespuiting met ’n trekker en ’n vliegtuig in optimale toestande.

“Hoewel hierdie resultate nie ’n aanduiding gee dat vliegtuie in die oggenddou gebruik kan word nie, is dit wel bemoedigend genoeg om ons te oortuig om voort te gaan met statistiese proewe,” sê Wium. “Ons sal die proef uitbrei en gaan weer die doeltreffendheid van bespuitings in die oggenddou toets en sal waarskynlik meer produkte ook toets.

“Ons moet ook bepaal watter faktore alles ’n rol speel op die doeltreffendheid van bespuitings in die dou. Faktore soos temperatuur, humiditeit, druppelsnelheid, druppelgrootte, windspoed, atmosferiese stabiliteit, hoogte bo seevlak, die volume en konsentrasie aktiewe bestanddeel, asook die landskap dra alles by tot die doeltreffendheid van ’n bespuiting.”

Gehoorsaam etiket-aanwysings

Wium benadruk dat aanbevelings op produketikette streng nagekom moet word. “Hierdie resultate is bemoedigend, omdat dit data lewer wat ons in die toekoms kan gebruik, maar bowenal omdat dit ons die kans gee om statistiese proewe plaaslik te doen. Ons sal diverse persele kies om die statistiese proewe te doen en sal in die komende maande besluit watter aspekte alles by die navorsing ingesluit sal word.”

Mnre. Louis Reynolds, bemarkingsbestuurder by Villa Crop Protection, Hardus van Vuuren, streekbestuurder van Wenkem in die Wes-Kaap, en De Wet du Toit, junior bemarkingsadviseur vir Villa Crop Protection in die Swartland, sal die navorsing saam met Wium behartig.

Reynolds is tevrede dat die resultate wat hulle uit hierdie voorlopige proef gekry het, grondige rede is om die navorsing uit te brei.

Wium sê met die samewerking van Orsmond Aviation en mnr. Hentie Smit van Paardefontein-boerdery net buite Malmesbury is ’n koringswamdoder op Paardefontein in die oggenddou met ’n trekker en balkspuit teen 150 liter/ha en ’n vliegtuig teen 30 liter/ha toegedien. Drie herhalings van elke behandeling is gedoen en is in die namiddag in droë omstandighede herhaal.

Blaarmonsters is een dag ná die bespuiting geneem en na M-en-L-laboratoriumdienste in Johannesburg gestuur vir ontleding om die lading van die aktiewe bestanddeel binne die blare te ontleed. Hierdie blaarmonsters is getrek deur drie monsters te neem in elke spuitstrook. Hoëspoed-kameras is ook in die koring se loof gemonteer om die beweging en plasing van die druppels waar te neem.

Navrae: Mnr. Rudi Wium, sel 082 434 0818, e-pos: rudi.wium@wenkem.co.za