Mnr. Corné Louw, senior ekonoom van bedryfsdienste by Graan SA, het dié berekeninge op ’n forumvergadering in Johannesburg van belanghebbendes in dié bedrywe bekend gemaak. Dit is gegrond op die Nasionale Oeskattingskomitee se voorlopige oppervlakteskattings en die gemiddelde opbrengs vir die afgelope drie produksiejare,

Hy grond sy raming van die soja-situasie op die voorlopige oppervlakteskatting van 743 600 ha, ’n gemiddelde opbrengs oor drie jaar van 1,85 ton/ha, ’n oordragvoorraad van 530 000 ton en plaaslike verbruik van 1,3 miljoen ton.

Wat sonneblom betref, is die oppervlakteskatting 444 000 ha, die opbrengs 1,25 ton/ha, die oordrag 70 000 ton en die totale verbruik 830 000 ton.

Die algemene gevoel was dat ’n opwaartse aanpassing in veral sonneblom-aanplantings verwag kan word, terwyl die groot oppervlakte vir veral mielies verras het. Die Oesskattingskomitee se ergste afwyking voorheen was in 2009 toe daar ’n 6,5%-onderskatting tussen die syfers vir Januarie en Februarie was. Die berekeninge word gegrond op inligting wat deur boere verskaf is.

Ontleders skryf die groter mielie-aanplantings en die moontlike onderskatting van sonneblom toe aan boere se vermoë om deesdae in ’n kort tydjie baie meer te kan plant, asook die feit dat boere ’n week gelede nog geplant het en tans dalk steeds plant.

150 000 ha binne ’n week

Dr. Ferdie Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, het verwys na boere se vermoë om baie hektare in ’n kort tydjie te beplant as dit reën. “In die westelike dele kan boere 150 000 ha sonneblom in ’n week plant.”

Oor die groot voorraad plaaslike sojabone, terwyl daar veral nog baie soja-oliekoek ingevoer word, het mnr. Joseph du Plessis, voorsitter van die forum, gesê vanjaar sal ernstig gekyk moet word hoe om plaaslike verbruik te laat toeneem. “Ons moet ’n wensituasie vir almal in die waardeketting skep.”

’n Beplanningsvergadering is in Desember op versoek van die forum gehou tussen die Proteïnnavorsingstigting en ander belanghebbendes in die bedryf om te kyk hoe plaaslike verbruik en uitvoer bevorder kan word.

Van die voorstelle sluit in dat ’n plaaslike bedryfsnorm vir die gehalte van soja-oliekoek ontwikkel sal word om gehaltebeheer te kan toepas, ’n oliekoek-termynkontrak op die JSE-mark vir afgeleide kommoditeite en ’n indaba vir die graan- en oliesaadwaardeketting vroeg vanjaar om ’n vyfjaarplan vir die bedryf saam te stel.

Mnr. Gerhard Keun, uitvoerende hoof van die Olie-en-proteïensade-ontwikkelingstrust, sê verdere gesprekke met belanghebbendes in die bedryf sal voortgesit word.

Die Suid-Afrikaanse bedryf se verwerkingsvermoë is 2,1 miljoen ton. Teen 80% benutting beteken dit ’n parsvermoë van 1,68 miljoen ton per jaar. Mnr. Nico Hawkins, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens, het gesê daar word verwag dat in hierdie bemarkingsjaar, wat nou sy einde nader, ’n rekordhoeveelheid van 1,073 miljoen ton sojabone gepars sal word. Vir sonneblom is die raming 900 000 ton, wat ook ’n rekord sal wees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.