Jy skop nie só ’n jong boer agter elke bos uit nie; veral nie een wat al drie keer die afgelope vier jaar die beste kweker van aartappelmoere in die hele Suid-Afrika was en toe ook as Noordwes se Jongboer van die Jaar bekroon is nie – en steeds nederig bly en met groot respek van sy ouers en ander voorsate praat.

Mnr. JP (Jacobus Petrus) van den Berg (31) was in 2015 ’n finalis in die provinsie se jongboerkompetisie en vanjaar wen hy toe. Hy het ook die kroon as Aartappels SA se moerkwerker van die jaar in 2014, 2016 en 2017 gedra en was in 2015 ’n finalis. Vooruitgang behoort dus eintlik sy tweede naam te wees.

Die jong man het ná skool aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein gaan studeer, waar hy ’n B.Agric.-graad en honneurs in natuurlewestudies behaal het. Hy het daarna by mnr. Johan Greyling, ’n aartappelboer van Christiana, gewerk om praktiese kennis van aartappelboerdery op te doen.

Daar het hy kennis van al die vertakkings opgedoen – van vragmotor bestuur tot alle take in ’n pakskuur. “Die plan was dat ek vir ons familieboerdery ’n aartappelafdeling sou begin. Tot in daardie stadium het my pa, Koos, sy ploeglande uitverhuur,” In 2009 het JP op die plaas begin boer.

Die eerste jaar het hy 12 ha aartappels onder ’n spilpunt geplant om moere te lewer.

“Hierdie deel van Suid-Afrika het ’n groot voordeel vir moerproduksie, want weens die relatiewe afsondering van Tosca is hier ’n laer siektedruk danksy baie min gasheerplante vir aartappelsiektes. Ons plant die moere in Januarie en oestyd begin in Junie. Gedurende die koue winter en droë, vroeë somer word enige siektesiklus op die land verbreek,” sê JP.

“Jy oes dus so gou moontlik, aangesien die vatbaarheid vir veral virussiektes daar- na toeneem.” Die afweer van siektes is baie belangrik. Daarom plant hy eers ná 10-14 jaar weer aartappels op dieselfde land. Hoe langer die onthoudingstydperk is, hoe beter.

Oupa koop plaas

Terloops, JP is die derde geslag op die plaas; ook die derde Koos. Sy oupa Koos het eers transport gery met die ontwikkeling van die Vaalharts-besproeiingskema in die1930-’40’s. Met dié geld en die geld wat hy met die verkoop van vragmotors gekry het, wou hy grond koop. By die aktekantoor op Vryburg het die plaasnaam Buttermere hom geval.

Die plaas het aan die destydse Rhodesiese spoorweë behoort. Met ’n ou vragmotor het hy en ’n landmeter in 1943 met ’n tweespoorpad tot 40 km van die plaas af gery. Van daar moes hy verder met ’n gehuurde perdekar ry sodat die landmeter die plaasgrense kon uitwys.

So het hulle tot op Buttermere, 180 km noord van Vryburg, gevorder waar oupa Koos deur die ongerepte natuurskoon begroet is – asook geen pad, huis, heining óf boorgat nie – net die natuurskoon. En kyk hoe lyk die plaas nou!

Geïsoleerde gebied

JP vermeerder moere vir Wesgrow op Christiana. Vandag plant hy 63 ha aartappelmoere van 34 kultivars. Party lewer ’n opbrengs van tot 70 ton/ha, maar die gemiddelde is 55 ton/ha. ’n Deel van die lande word aan proefaanplantings afgestaan om kultivars te evalueer wat nog nie kommersieel vir boere beskikbaar is nie.

JP plant 63 ha aartappelmoere wat uit 34 kultivars bestaan. Party lewer ’n opbrengs van tot 70 ton/ha, maar die gemiddelde is 55 ton/ha.
’n Deel van die lande word aan proefaanplantings afgestaan om kultivars te evalueer wat nog nie kommersieel op die mark beskikbaar is nie, soos hierdie pers aartappelkultivar.

Die vermeerdering op Buttermere geskied op ’n skaal van 1:10; met ander woorde die 63 ha wat hy verbou, kan die volgende jaar vir sowat 630 ha se aanplantings sorg. JP vermeerder miniknolle, ook bekend as generasie 0, wat sowat 45 ton/ha oplewer, en G1-moere (eerstegeslagmoere), wat ongeveer 65 ton/ha voortbring.

G0-moere kom van die Rascal-kweekhuis af en word dan geplant. Die opbrengs daarvan word ’n G1, mits dit aan die kriteria voldoen. Die moere word 90 dae ná planttyd geoes. Sandgrond se voordele Sandgrond het ’n voordeel vir aartappelmoerproduksie omdat dit nie soveel water vashou nie en dus loog.

Aartappels hou nie van aanhoudende, sopnat toestande nie. In sandgrond ervaar die aartappels net vir kort tye nattigheid ná besproeiing of reën. Moere wat in sandgrond gekweek word, is ook baie skoon en min klei kleef aan die moere vas.

Daar is nietemin ook nadele verbonde aan sandgrond weens die hoë verdampingskoers in baie warm toestande en die uitloog van plantvoedingstowwe. Dus gee JP aanvanklik gereeld korrelkunsmis en later vloeibare kunsmis en blaarvoeding.

“Die oplossing vir suksesvolle moerproduksie is skoon, siektevrye lande wat lank gerus het, die plant van gesertifiseerde, siektevrye moere en deurgaanse handhawing van streng higiëne. Die skure word skoon gehou en masjinerie gereeld ontsmet, selfs voor hulle na ’n volgende land beweeg om siekteverspreiding te voorkom,” sê hy.

JP hou die landerye voor planttyd vry van opslagaartappels en onkruide sodat hy op ’n skoon land kan plant.

Terwyl die aartappels groei, doen spanne werkers suiweringswerk deur aartappelplante wat stres toon, te verwyder sodat dit nie as gasheer vir plae kan dien nie.

Terwyl die gewas groei, doen spanne werkers suiweringswerk deur enige aartappelplante wat stres toon te verwyder sodat dit nie as gasheer vir plae kan dien nie. “Op Buttermere streef ons na die vermeerdering van topgehalte moere wat méér as net aan die verwagte kriteria voldoen. Dus plaas ons kwaliteit bo kwantiteit.”

Bespaar water

Aanvanklik het JP mielies direk ná aartappels verbou en daarna ’n grasgewas gesaai. In 2014 het hy opgehou mielies plant om water te bespaar; ook omdat mielies nie meer winsgewend genoeg was nie. Al die besproeingswater kom uit boorgate wat ongeveer 80 meter diep is.

Danksy minder waterverbruik kan hy nou met sy toegekende staatswaterkwota deurkom, wat met ’n meter gemonitor word. JP is lid van Tosca se ondergrondse waterverbruikersvereniging. Hy neem elke Maandag ’n lesing en stuur dit aan dié vereniging, wat dit dan aan die Departement van Water en Sanitasie verskaf.

Ander verbruikers in die streek monitor ook hul waterverbruik. Die jong man loof die instansie vir die goeie werk wat gedoen word om beheer oor die verbruik van water uit te oefen.

“Ek het genoeg water beskikbaar om méér lande te besproei, maar ek verkies om dit nie te gebruik nie. Elke mens moet tot waterbesparing bydra. Dis my bydrae.” JP sê hulpbronne moet in ooreenstemming met regulasies verantwoordelik gebruik word sodat dit volhoubaar kan wees.

Nuwe wisselboustelsel

Sedert hy nie meer mielies plant nie, is JP se wisselboustelsel nou een aartappeloes, gevolg deur ’n grasaanplanting bestaande uit witbuffels-, bloubuffels- of borseltjiegras op verskillende lande. Dit is weiding vir die beeste en rehabiliteer terselfdertyd die grond. In goeie reënjare kan die grassade geoes en verkoop word.

Daarvoor gebruik hy ’n werktuig, asook die plaaspersoneel se vroue vir wie hy só werk skep. Na gelang van die reën kan hy selfs hooi maak en die bale bêre om ’n voerbank vir minder goeie seisoene op te bou. Die pompe wat water uit JP se vyf boorgate pomp, word met Eskom-krag aangedryf.

Die water word eers na opgaardamme gepomp en van daar na die spilpunte. Daar is drie spilpunte van onderskeidelik 13 ha, 20 ha en 30 ha. Die lande is op die plaas se verste westelike, oostelike en noordelike uithoeke. Dit is vir JP ’n voorreg dat albei sy ouers, Koos en Erina, nog saam met hom op die plaas betrokke is.

Hy is oorkoepelend in beheer en behartig ook die administrasie, soos betalings, begrotings en bemarking.

‘Texas van Suid-Afrika’

Die gebied om Vryburg is puik beeswêreld en word nie verniet as die Texas van Suid-Afrika bestempel nie. Beespryse op veilings is mededingend met die res van Suid-Afrika s’n en gee soms die toon aan vir toekomstige pryse, sê JP.

Siektes kom en gaan saam met die seisoene, maar oor die algemeen het Vryburg ’n lae siektedruk danksy die betreklik droë klimaat en koue winters wat die siektekettings in ’n groot mate verbreek. Bosluise is altyd deel van veeboerdery en sal nooit uitgeroei kan word nie.

Dus is dit belangrik om uitwendige parasiete te bekamp en middels verantwoordelik te gebruik om te keer dat weerstand ontstaan. Boere moet ook wegbly van veemiddels wat miskruiers en voëls nadelig kan raak, veral renostervoëls wat baie bosluise van diere afpik.

Fisante en tarentale skrop in beeskrale en bekamp só plae. Dus moet hulle ook beskerm word. Die kommersiële vleisbeeste op die plaas is uitsluitlik vir speenkalfproduksie. JP verkoop die kalwers op die ouderdom van agt maande van die moeders af as hulle sowat 260-270 kg weeg.

JP-hulle het ook ’n Brahmanstoetery, Buttermere Brahmane, vir die teel van stoetbulle wat veral van die plaas af verkoop word.

Die boerdery het ook ’n Brahmanstoetery, Buttermere Brahmane, vir die teel van stoetbulle wat van die veld af verkoop word, of vir eie gebruik in die kommersiële kudde.

Goeie voervloei

Die aangeplante weidings speel ’n belangrike rol om die plaas se drakrag en voervloei te verbeter. Op die natuurlike weiding is die belading 10 hektaar per grootvee-eenheid (GVE) en op die aangeplante weiding 7 ha/GVE, met ’n gemiddelde langtermyndrakrag van 9 ha/GVE “om veilig te speel”.

Buttermere se 2 633 ha word aangevul met ongeveer 3 500 ha huurgrond. Die boerdery het ’n geregistreerde aanhoudingskamp vir mak wild. Daar maak hulle beseerde wild gesond, soos gemsbokke, elande, koedoes en springbokke. As hulle gesond of gerehabiliteer is, verkoop JP weer die diere.

Daar is ook ’n kamp vir vlaktewild, soos gemsbokke, wat nie draadspring nie. Biltongjagters kom gereeld op die plaas jag, vir wie JP ’n houthuis in stand hou. Hoenderboerdery se rol Die boerdery het sedert 1994 ook ’n hoenderboerdery en ’n geregistreerde abattoir. Die produksie word bepaal deur die vraag op die mark.

Die daaglikse slagvermoë is 300 braaihoenders. Dit is moeilik vir klein, private abattoirs om met groter verskaffers mee te ding sonder om gehalte in te boet. Dus is Buttermere Hoenders tans 90% ingestel op werkskepping vir die vroue van plaaspersoneel. Die meeste van die braaihoenders word plaaslik verkoop of in die boerdery self gebruik.

Die personeel – 16 heeltydse werkers en 120 seisoenale werkers – het kontrakte. Hul salarisse is mededingend en dikwels hoër as die voorgestelde minimum loon. Twee gebalanseerde etes word daagliks aan die personeel voorsien. Die werkers word vir goeie prestasie vergoed en kry bonusse as hulle hul doelwitte behaal.

Elke personeellid se doelwit word individueel met hom bespreek en is haalbaar. JP sê dit help nie om ’n onrealistiese mikpunt te stel nie, want dan breek dit die werker se moed.

Hy het ook ’n verlofstelsel en bied huisvesting, water en elektrisiteit. JP is ook op ander gebiede by die personeel betrokke, soos om hulle by te staan as hulle siek word en hulle te help om by die winkels te kom. Die kinders word na die skool op die dorp vervoer. Hy skenk bulle vir teeldoeleindes aan die plaaslike gemeenskap wat beeste op meentgrond laat loop.

Tegnologie en wetenskap

JP sê tegnologie is baie belangrik in die landbou en boere moet hulself altyd op die hoogte van nuwe ontwikkelings hou. Dit sorg vir die hoogste opbrengste per hektaar. “In die toekoms gaan dit nóg belangriker word namate meer kos op minder grond gelewer moet word.”

Tegnologie moet tot winsgewendheid bydra, maar die boer moenie die belangrikheid van sy maatskaplike verantwoordelikheid vergeet nie. JP sê as sy berekenings wys dit is finansieel die moeite werd om byvoorbeeld ’n nuwe aartappeluithaler te koop wat homself binne vyf jaar sal afbetaal, sal hy dit nie noodwendig doen nie.

Die maatskaplike aspek is ewe belangrik, naamlik om werk te verskaf. “Ek moet altyd my maatskaplike verantwoordelikhede teenoor my mense en ander mense in die gemeenskap nakom. Dus neem ek sulke besluite met die gemeenskap se belange in gedagte.”

Saad van die aangeplante witbuffels-, bloubuffels- en borseltjiegras word in goeie reënjare geoes en verkoop. JP staan hier in ’n land witbuffelsgras.

LBW vra . . .

Mnr. JP van den Berg

WAT WAS JOU BESTE BESLUIT TOT NOG TOE?

Om gehaltetyd aan menseverhoudinge te bestee.

WIE IS JOU MENTORS?

My ouers, by wie ek lewensvaardighede leer om verskillende situasies so goed moontlik te kan hanteer.

WAT IS DIE BESTE RAAD WAT JY AL GEKRY HET?

Definieer sukses vir jouself, aangesien almal se omstandighede verskil.

WAT IS DIE GROOTSTE BOERDERYFOUT WAT JY GEMAAK HET?

Aanvanklik het ek te min tyd in my kantoor deurgebring.

WAT IS JOU GROOTSTE PROBLEEM?

Om tyd te maak vir myself om te ontspan.

WATTER TEGNOLOGIE IS ONMISBAAR?

Die reminder-funksie op my selfoon en Excel op my rekenaar.