Enkele graanboere is op die termynkontrakmark en die mark vir fisieke lewerings op die JSE-termynmark bedrywig. Slegs daardie boere wat ’n margerekening by die JSE het, kan aan transaksies op die termynmark deelneem. Die rede waarom so min boere aan die JSE-termynmark deelneem, is omdat dit groot kontantvloeigevolge vir hulle inhou.

Indien ’n boer ’n termynkontrak wil koop of verkoop met die doel om sy graan se prys “vas te maak” (te verskans teen latere dalings), moet hy ’n aanvangsmarge betaal vir elke 50-ton-termynkontrak wat hy koop of verkoop. Daarmee saam loop hy die risiko dat ’n spesifieke kontrak se vasgemaakte prysvlak “uit die geld” kan beweeg en daar marge-inbetalings gemaak moet word. Dit het kontantvloeigevolge vir boere wat hulle gewoonlik nie in hul bestaande kredietgeriewe voor oestyd kan insluit nie.

Om bogenoemde redes werk die meeste graanboere slegs op die fisieke graanmark. Die ironie is dat baie graanboere onder die indruk is en onder die indruk gebring is en steeds word, dat hulle op die JSE-termynmark én die mark vir fisieke lewerings aan die termynmark deelneem. Hierdie stelling klink vreemd, maar dit is presies die rede waarom die kontantmark as ondeursigtig beskou word en waar ’n groot oorsaak van die “liggingsdifferensiaal- probleem” lê.

Dit word bevestig deur dr. Matt Robberts se stelling op bladsy 4 van sy verslag Recommendations for Commodity Futures Delivery on the JSE: “Similar to 2009, this dissatisfaction is misplaced. The energy of those dissatisfied with the LD system should be towards educating farmers on how to keep and market more of their grain.”

Sy bevindinge en voorstelle is dan ook gerig op die funksionering van die JSE-termynmark en, meer spesifiek, die lewering van fisieke graan op die JSE-termynmark en nie die fisieke graanmark in Suid-Afrika nie.

Sedert die vroeë Safex-dae is boere onder die indruk gebring wanneer hul ’n agent, graanhandelaar, middelman of landboubesigheid aansê om graan se prys op Safex (vandag die JSE) “vas te maak”, daar dan vir die boer ’n Safex-posisie ingeneem word en dat dit die rede is waarom die liggingsdifferensiaal op hom van toepassing is. Die boer is nou kwansuis ’n deelnemer aan die mark vir fisieke lewerings op die JSE-termynmark.

Wat inderwaarheid gebeur het, is dat die agent, graanhandelaar, middelman of landboubesigheid vir homself die verkoopposisies op Safex ingeneem het en bloot ’n vooruitkontrak (’n fisieke markkontrak voor oes) of ’n kontantkontrak (spot; ’n fisieke markkontrak ná oes) vir die boer gegee het om te teken (sien die diagram ). Met hierdie twee tipes kontrakte staan die boer eienaarskap van daardie betrokke tonnemaat graan aan die agent, graanhandelaar of landboubesigheid af teen die fisiekemarkprys wat op daardie kontrak aangedui is.

Die oorsaak van die probleem waar JSE-liggingsdifferensiale as standaardaftrekkings op die fisieke mark gebruik word, is in hierdie vroeë jare van Safex gevestig deurdat die aftrekking van die liggingsdifferensiale gespesifiseer is op hierdie vooruit- en kontantmarkkontrakte wat aan boere voorgehou is.

Met ander woorde, die vaste vervoerkoste-aftrekkings (liggingsdifferensiale), wat slegs van toepassing is op graan wat aan die Safex/JSE-termynmark gelewer word, het ’n standaardvervoerkoste-aftrekking op die fisieke graanmark geword deur dit as spesifikasie in vooruit- of kontantkontrakte te gebruik.

Hierdie praktyk om die Safex/JSE-liggingsdifferensiale op die fisieke graanmark (vooruit- of kontantkontrakte) as vervoeraftrekkings te spesifiseer, is vir die eerste tien jaar sedert 1996 volgehou, maar is sedertdien gestaak (moontlik ná regsadvies). Die praktyk om die liggingsdifferensiale as standaardaftrekkings by boere tydens fisiekemarktransaksies te verhaal, was egter nou goed gevestig en word steeds mondelings aan boere voorgehou tydens fisieke markkontraktering.

Dit is die rede waarom talle pogings om basispremies op die fisieke mark te ontsluit, misluk het en steeds misluk. Dit is ook waarom die JSE se Spot Basis Window-platform dit nie regkry om premies te ontsluit nie. Die eienaarskap van die meeste graan word lank voor oestyd reeds oorgedra na graanhandelaars en gevolglik meulenaars en onbedingbare vervoerkoste-aftrekkings word van boere verhaal.

Wanneer die betrokkenes op ’n mark dieselfde vervoerkostekomponent in ’n prys aanbied, word vervoerkoste onbedingbaar vir die verkopers van graan. Dit is die definisie van pryssamespanning, en is ’n praktyk wat teen hierdie tyd al ’n ondersoek verdien het.

Silo-eienaars is deur die Mededingingstribunaal skuldig bevind aan samespanning ten opsigte van opbergingskoste toe hulle Safex/JSE se standaardopbergingskoste as aftrekkings tydens die opberging van graan op die fisieke graanmark gebruik het. Dit is dieselfde beginsel van pryssamespanning waar JSE- liggingsdifferensiale tydens fisie- kemarkkontraktering gespesifiseer word (mondelings of skriftelik). 

Mnr. Hennie Visser, ’n oudkoringboer van Serviteurskraal, Piketberg, het met ’n fynkam gewerk deur die verslag Recommendations for Commodity Futures Delivery on the JSE wat dr. Matt Roberts op versoek van die Johannesburgse Effektebeurs opgestel het. Hy vertel in twee artikels van sy bevindinge en voorstelle. Die afgelope paar jaar het hy ’n intensiewe studie van die Suid-Afrikaanse koringbedryf gemaak en doen gereeld voorstelle aan die hand om dit te verbeter.

Lees Robberts se verslag by https://bit.ly/305ZQdI.

NAVRAE: Mnr. Hennie Visser, e-pos: hwvisser@agrizone.co.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.