Drinkwater sê dit het hom nog altyd gepla dat so baie landbounavorsers aftree sonder om hul kennis in geskrewe vorm na te laat vir mense wat dit kan nodig kry.

Hoewel hy baie wetenskaplike en populêre artikels vir tydskrifte, bladskrifte en bulletins geskryf én praatjies tydens sy lang loopbaan by die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) gelewer het, het hy besluit om alles in een boek saam te vat. Hy het ook ander bronne geraadpleeg.

Die boek is veral op boere, studente, landbouvoorligters en verteenwoordigers van maatskappye gerig, en word in eenvoudige taal aangebied. Dit behandel meer as 50 insekplaagspesies.

Elke plaag se wetenskaplike, Afrikaanse en Engelse naam word verskaf, asook inligting soos orde, familie en verspreiding. Dit beskryf elke plaag breedvoerig, en kyk ook na die skade en simptome waarna die boer moet oplet. Bekampingsmetodes word ook behandel.

Dr. Johnnie van den Berg, ’n insektekundige aan die Noordwes-Universiteit, sê dit is die eerste publikasie oor die totale spektrum van mielieplae wat die lig sien. Die boek word deur die LNR-IGG uitgegee.

PRYS: R480.

NAVRAE: Mev. Mary James, e-pos: JamesM@arc.agric.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.