Daar is vele faktore wat ’n boer “beter” kan maak as sy medeboere. Vrugbare grond, ’n gunstige klimaat en ’n tikkie geluk help natuurlik. En met ’n goeie dosis ervaring, kundigheid en goeie besluitneming kan jy verder die voordeel in jou guns swaai.

Maar wat maak jy as jy ’n beginner sonder enige landbou-agtergrond is en geen opleiding in boerdery het nie? As jy boonop half toevallig begin boer op sanderige grond, is die kans waarskynlik beter dat jy eerder klaaglik gaan misluk as om een van die topboere in die wêreld te word.

Ondanks al die struikelblokke het mnr. Randy Dowdy van Dowdy Farms egter sy eie weg gebaan as ’n eerstegenerasieboer wat die beste in sy veld is. Vir ’n groentjie het hy sy doelwitte taamlik vinnig behaal. Hy het in 2006 die eerste keer begin boer en in 2008 sy eerste mielie-oes afgehaal.

Die plaas is by Valdosta in die deelstaat Georgia in die suidooste van Amerika geleë. Deesdae strek Dowdy Farms oor die suide van Georgia tot in die noorde van Florida. Hierdie groot sprong in Randy se status as graanboer het gekom ná die nasionale mielieprodusentevereniging (NCGA) se 50ste jaarlikse mielie-opbrengskompetisie in 2014.

Met Monsanto se Dekalb-kultivar DKC620 het hy die wêreldrekord vir mielieproduksie onder besproeiing met ’n opbrengs van 503 skepels per acre (sowat 31 ton per hektaar) behaal. Danksy sy deelname kon hy sy vordering teen dié van ander boere meet en agterkom of sy produksiemetodes op die regte spoor is.

Só lyk vergelykende proewe van mielies (bo) en sojabone (regs) wat met Brandt Smart Quatro® en Brandt Smart B-Mo™ behandel is en onbehandelde lande.

In die 2016-kompetisie het Dowdy Farms twee inskrywings gelewer wat meer as 500 skepels per acre was (in die afdeling vir mielies onder besproeiing met geen- of strookbewerking).

Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die NCGA-opbrengstekompetisie dat ’n plaas meer as een inskrywing met ’n opbrengs van meer as 500 skepels per acre kon lewer. Hoewel nie weer ’n wêreldrekord nie, was dit steeds ’n fenomenale prestasie om elke ander inskrywing in Amerika uit te stof met sy topopbrengs van 521,4 skepels per acre.

Sy weninskrywings in die 2016-kompetisie is met AgriGold-basters behaal. Met sy mielieproduksie in die hoogste rat het Randy sy produksiepraktyke by sojabone ook verbeter.

Dit het in 2016 vrugte afgewerp toe hy 171,7 skepels per acre (11,47 t/ha) behaal het. Dié wêreldrekord vir sojaboonproduksie onder besproeiing is met die kultivar 74A74 van UniSouth Genetics behaal.

“Ek versprei my risiko en gebruik verskillende saadmaatskappye se produkte. Dowdy Farms het oor die jare goeie sukses met Pioneer, Dekalb (Monsanto), UniSouth en AgriGold se saad behaal. Ons gebruik GM-saadtegnologie om siektes, onkruid en skadelike insekte se impak op die oes te beperk.”

PLOEG TERUG

“Ek het regtig niks van boerdery geweet nie, afgesien van handlangerswerk wat ek as ’n baie jong man op ’n tabakplaas verrig het.” Sy uitgangspunt was om kenners te raadpleeg.

“Ek het myself met slim mense omring en het die voorligtingsbeamptes in my streek, kenners van die Universiteit van Georgia en suksesvolle boere vir raad genader.” Hy vertel hoe sy boerderyverhaal begin het.

“Ek het my vorige werk in die staatsdiens bedank en na ’n stuk grond gesoek waar ek kon ontspan en jag. In 2006 het ek my plaas gekoop en gereken dit is ’n goeie plan dat die grond aangewend word om ’n inkomste te verdien. Min het ek geweet waarvoor ek my inlaat.”

Vir hom was die moeilikste aanpassing nie die nuwe vaardighede wat hy moes leer, die harde werk of baie kennis wat hy vinnig onder die knie moes kry nie. Dit was eerder om sy voete in die bedryf en tussen sy medeboere te vind.

“Ek was ’n buitestander in die gemeenskap en nie eens ’n boer van beroep nie. Dit was dus baie moeilik vir die ander boere om my te aanvaar. Dit was dikwels baie ontmoedigend.

“Ek het myself voorgeneem as ek suksesvol is, sal ek terugploeg deur ander boere van my ervaring te vertel,” sê Randy, wat ook deesdae as konsultant optree. Sy natuurlike mededingende geaardheid is een van die dryfvere vir sy sukses.

“Dit is egter alles genade uit God se hand. Sonder seën op ons arbeid sou hierdie sukses nie moontlik wees nie.”

BOERDERY

Sy bewerkbare landerye beslaan sowat 2 000 acre (810 ha). Bykans 70% daarvan is onder spilpuntbesproeiing. Hy plant tans mielies, sojabone en in ’n mindere mate ertjies, katoen, grondbone, kleingrane en ’n verskeidenheid dekgewasse. Strookbewerking en die minimum versteuring van grond word toegepas.

Die dekgewasse help om die biomassa in die sanderige grond te verhoog. Randy het twee heeltydse werkers en familielede kom sit soms hand by. Sy vrou behartig die plaas se administratiewe take.

“Water is ’n beperkende faktor in boerdery. As ons dit dus kan beheer, hoekom nie? Hoewel ons goeie reën kry, gee die besproeiingstelsel ons die vermoë om presies die regte hoeveelheid water op deurslaggewende tye in die plant se ontwikkeling toe te dien. Deur presisieboerdery in alle aspekte te gebruik, kan ons die impak van beperkende faktore aansienlik verminder,” sê hy.

“Die klem is eerstens op volhoubare en winsgewende produksie, nie op rekords of kompetisies nie. Dit is bloot ’n bonus en aansporing. “Dit is malligheid om dieselfde ding oor en oor te probeer en ’n ander uitkoms te verwag. Mense is dikwels bang vir verandering en wil nie nuwe produksiemetodes beproef nie.

“Ons probeer altyd nuwe dinge om te sien of die opbrengs op die belegging in nuwe tegnieke en produkte beter is. Soms werk dit, ander kere nie. Daar is nie generasies se kennis waarop ons kan bou nie, maar aan die ander kant is daar ook nie die ‘beperkinge’ van ’n ou resep van pa of oupa nie,” sê hy.

Só lyk vergelykende proewe van mielies (bo) en sojabone (regs) wat met Brandt Smart Quatro® en Brandt Smart B-Mo™ behandel is en onbehandelde lande. (Dieselfde byskrif vir twee foto's.)

PRODUKSIETEGNIEKE

“Plantvoeding en kunsmis maak ’n verskil, daarom gebruik ons dit. Soms het ons te veel water met tussen 45 duim (1 143 mm) en 60 duim (1 524 mm) reën per jaar, maar ons besproei steeds om seker te maak die plante het genoeg water op die regte tyd.

“Hierdie strategie gee ons dubbeld die opbrengs as wanneer ons nie besproei nie. Die bietjie droëlandaanplantings is op grond wat nie onder die spilpunte pas nie. Mielies, katoen, grondbone en sojabone word op dié grond aangeplant.” Produksietegnieke sluit die gebruik van verskeie middels in wat gewasse teen swamsiektes, siektes en plae beskerm.

Randy se plantvoeding- en kunsmistoediening maak ’n groot deel van sy bestuursprogram uit. Die program begin met ’n wisselboustelsel aan die einde van die winter. “Ons plant mielies einde Februarie of begin Maart en stroop dan in Julie of Augustus, na gelang van die plantdatum. Daarna plant ons dadelik ertjies of sojabone.”

Die streek geniet gematigde grondtemperature van 55 °F (12,7 °C) in Februarie, maar kry wel ryp in November. “Dit beteken dat ons ’n lang produksietyd het. Gewoonlik kan ons die sojabone teen Dankseggingsdag einde November stroop.”

Om die grondvrugbaarheid en -vog te bewaar, onkruidgroei te onderdruk en biomassa te verhoog, plant Randy ná sy tweede oes van die jaar dekgewasse. Dit sluit in verskeie kleingrane, soos korog, hawer, rog en koring. Hy het nie tans ’n veevertakking nie. Daarom word die dekgewasse later doodgespuit voor die volgende oes geplant word.

Vir hom is tydsberekening deurslaggewend. “Op 21 Junie is ons langste dag met die meeste son. Dan wil ek my sojabone in staat stel om die son optimaal te gebruik in die plant se reproduktiewe stadium (R1 tot R3). Die plantdatum is daarom baie belangrik.”

Sojabone word twee keer geïnokuleer – eerstens in ’n saadbedekker en dan weer in vloeistofvorm in die saadbed tydens planttyd. Op hierdie manier word siektes en swamme doeltreffend bekamp. Nog ’n faktor is die plantaksie. Randy mik vir ’n gelyke stand en opkoms met eenvormige groei.

“Ons gee baie aandag aan planterdiepte, want as die saad op gelyke dieptes geplant word, sal die opkoms ook konsekwent wees.” Hy plant sojabone op ’n diepte van ’n duim tot ’n duim en ’n half (’n vuurhoutjieboksie diep). Die plantdigtheid verskil tussen landerye, maar is gemiddeld 120 000 tot 140 000 plante per acre (290 000 tot 340 000 plante per ha).

“As jy regtig iets wil leer, kyk dan hoe en wanneer jou plante opkom en monitor die ontwikkeling. Verskillende opkomsdatums sal verskillende opbrengste lewer. Onthou, dit is gratis skepels wat jy kan wen deur bloot beter beheer oor die plant en opkoms van jou gewasse uit te oefen.” Noukeurige bestuur van die plantdiepte is volgens Randy moontlik deur die toepassing van tegnologie. Hy gebruik ’n Harvest International-planter wat in Iowa vervaardig is.

“Dit het al die tegnologie wat ek nodig het om elke saadjie op ’n presiese diepte te plant. Goeie kontak met die grond word ook daarmee bewerkstellig. Ek dien kunsmis albei kante van die saadbed toe sodat die wortels van alle kante af voedingstowwe kan opneem. Dit werk vir my.” Randy-hulle plant mielies in 15 duim- (381 mm) en 30 duim- (762 mm) rye.

Die plantdigtheid wissel tussen 28 000 en 40 000 plante per acre (68 000 tot 96 000 plante per ha). Dit versprei die risiko. Om dieselfde rede word verskillende saadmaatskappye en kultivars gebruik. Blaarvoeding word toegedien na gelang van die plant se status. Dít stel Randy vas deur blaartoetse by sy mielies en sojabone te doen vanaf die V3-stadium.

Blaartoetse word weekliks vanaf die V3-stadium gedoen om vas te stel of daar enige tekorte, siektes of insekplae is.

“Ons toets weekliks. Dit gee my ook die geleentheid om tussen die plante te beweeg en waarnemings oor plantgesondheid of siektedruk te doen. Jy kan nie vanuit jou bakkie hierdie waarnemings doen nie. Jy moet in jou landerye loop en alles mooi van naby bekyk.”

BEMESTING

Randy gebruik die Brandt Smart System-blaarvoedingsreeks by sy sojabone. Dit sluit Smart Trio (reg. nr. B4289, Wet 36 van 1947), Smart Quatro (B5317) en Smart B-Mo (B5320) in. Wat dit buitengewoon maak, is dat dié blaarvoeding versoenbaar is met glifosaat. In enige onkruidbstrydingsprogram is dit goud werd.

Die blaarvoeding en die onkruiddoder bly dus doeltreffend. Só kry die gewas die volle voordeel uit die tenkmengsel in een bespuiting. Vir die boer spaar dit tyd, moeite en bewerkingskoste. Smart Quatro en Smart B-Mo is Randy se eerste keuse omdat die formulasies mikro-elemente, soos sink, mangaan, boor, swael en molibdeen, bevat.

Dit voed die plant en bevorder gesonde groei, wat uiteindelik die opbrengs en gehalte verbeter. Toediening op die regte tyd is belangrik sodat die plant stresfaktore beter kan oorkom. Randy gebruik dié blaarvoedingsprodukte teen 1-3 liter per hektaar. Dit kan in die besproeiingstelsel of met ’n hoogloopspuit toegedien word.

Omdat Randy weekliks blaarmonsters neem vir ontleding, weet hy presies wanneer toediening nodig is. By mielies gebruik hy Smart Trio of Smart Quatro in die V4-V9-stadium en Smart B-Mo van VT tot R3. By sy sojabone gebruik Randy Smart Trio of Smart Quatro in die V3-R3-stadium en die molibdeenbevattende Smart B-Mo in die stadium voor blom en by peulvul. Indien nodig, meng hy dié middels met swamdoder of insekdoder.

SÓ WERK SY BOERESOM

“Ons moet die momentum behou en suksesse herhaal. Werknemers word aangemoedig om hierdie visie na te streef en uit te leef en hulle word vir suksesse vergoed. Dinge moet die eerste keer betyds reg gedoen word. Jy kry net een kans per oes. Om hierdie doelwitte te bereik, gebruik ons tegnologie waar ons kan en probeer deurgaans nuwe maniere soek om dinge beter te doen. Ons leer uit ons foute en versprei risiko.”

Dit is nodig om te vra of al hierdie bedryf- smiddele en blaartoetse ’n winsgewende en volhoubare boerdery skep.

“Ek het my somme gemaak. Die uitgawes sluit alle lopende en bedryfskoste in, soos lone, saad, bewerking, meganisasie, versekering, brandstof, besproeiing, kunsmis, blaarvoeding en chemikalieë. Die koste beloop $2,67 (R33,46) per skepel mielies (0,025 ton) wat gelewer is. My verkoopprys is $4 (R50,15) tot $4,50 (R56,40) per skepel. Die wins is dus $1,33 (R16,67) per skepel mielies.”

Om dit in perspektief te stel in randwaarde per ton (40 skepels is gelyk aan 1 ton mielies): Produksiekoste: R33,46 per skepel, oftewel R1 338,40 per ton geproduseer. Verkoopprys: R50,15 tot R56,40 per skepel, oftewel R2 006 tot R2 256 per ton gelewer. Wins R667,60 tot R917,60 per ton mielies.

Vir sojabone is die prentjie net so goed, waar ’n skepel sojabone op 0,027 ton omgereken word (37,03 skepels is gelyk aan 1 ton sojabone): Produksiekoste: $7,95 (R99,37) per skepel, oftewel R3 679,67 per ton.

Verkoopprys: $10,70 (R133,73) per skepel, oftewel R4 952,02 per ton, en die wins R1 272,35 per ton.

“As jy nie ’n goeie opbrengs op jou belegging kan behaal nie, gaan jy nie lank in die bedryf oorleef nie,” sê Randy.

NAVRAE: Webwerf: www.growbigcorn.com. Einde Mei tree Randy by vier boeredae in Suid-Afrika op. Vir besonderhede, besoek Facebook/Elimkunsmis of skakel tel. 012 252 4455.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.