Daar word altyd gesê ’n boer se geld kan nog opraak, maar nie sy planne nie. Mnr. Frank Blumenthal van Hopetown en sy seuns neem hierdie gesegde duidelik ernstig op.

Die jongste pyl in hul boerderykoker is die toediening van mikro-elemente, melasse en spore van goedaardige swamme in die plantervoor om saailinge ’n kragtige hupstoot te gee.

Die middel word verskaf deur Penergetic, ’n internasionale maatskappy wat hom op ’n holistiese benadering in boerdery toespits.

Volgens sy webwerf het die maatskappy middels ontwikkel wat ’n gunstige verandering by mens, dier en omgewing teweegbring deur tegnologie wat die doeltreffende en optimale gebruik van natuurlike hulpbronne moontlik maak.

Dit sluit Penergetic P en Penergetic B in. Penergetic maak daarop aanspraak dat sy tegnologie die balans in landboustelsels herstel, die grond se struktuur verbeter en voedingstowwe beskikbaarder maak vir die gewasse.

Daarin speel voordelige swamme ’n sleutelrol deurdat die middel die mycorrhiza-simbiose (swamme) stimuleer.

Die Blumenthals dien ook melasse in die plantervoor toe, asook mikro-elemente om die ontkiemende plantjies ekstra woema te gee.

Dit werk sterker plante in die hand omdat hulle vinnig kan wegspring, wat uiteindelik tot ’n groter oes lei. Die middel word in ’n vloeibare vorm vanuit ’n bykomende tenk op die planter toegedien. 

FB Boerdery se bestuurspan voor die silokompleks. Van links is mnre. Frank, Fanie, Roy en Francois Blumenthal, Riaan de Wet en Christoff Aucamp. Foto: Charl van Rooyen

Ideale ligging

Die Zandraai-boerdery van Frank en sy seuns en ’n kleinseun se plase is tussen Hopetown en Orania geleë en grens aan die Oranjerivier. Die boerdery is dus ideaal geleë om die maksimum waarde uit die rivier se oorvloedige water te put.

Die boerdery produseer mielies, springmielies, koring en gars onder besproeiing uit die rivier, boer met Damaraskape (lees ook “Damaras diamant in boerderykroon”, LBW, 3 Junie 2021) en besit ’n kleinveeveilingslokaal waar hulle hul eie vee en ander boere s’n kan opveil.

Hulle hou ook wild aan vir jag en wildkyk en -fotografie, en bied kunsaashengel in die rivier aan. Daar is ook ’n gastehuis en konferensiegeriewe op die wildplaas, Gazella.

Die boerdery met die plaas Zandraai as hoofsentrum kom al ses geslagte ver. Tans is daar drie geslagte betrokke: Frank (wat Francois gedoop is), sy seuns, Fanie en Roy, dogter, Beulah, wat die betalings behartig, en kleinseun Francois (Fanie se seun). 

Mnr. Jaques Schoeman met ’n groot­bekgeelvis wat in die Oranjerivier gevang is. Hy verskaf op kontrakbasis leiding aan hengelaars wat die Gazella-wildplaas besoek. Foto: Verskaf

Die boerdery is in 1885 deur Frank se oupagrootjie Gustav begin nadat hy van Duitsland na Suid-Afrika geëmigreer het.

Gustav se seun, Francois, het in 1902 saam met hom begin boer. Frank se pa, Toffie (Christoffel), was van 1945 op die plaas en Frank het in 1971 begin boer.

Fanie het in 1996 op Zandraai ingeval en Roy is sedert 2012 betrokke. Francois het in 2020 matriek geskryf en studeer nou aan die Peritrum Agri-instituut in Bloemfontein, waarna hy heeltyds plaas toe sal gaan.

Hy werk reeds sedert sy skooldae gedurende naweke en vakansies op die plaas. 

FB Boerdery het ook wild wat vir jag en ekotoerisme aangewend word. Hier is mnr. Francois Blumenthal by ’n gemsbok wat daar gejag is. Foto: Gazella

Vraag na springmielies

Fanie sê hulle gaan van volgende jaar af dalk net springmieies aanplant omdat die buitelandse vraag daarna toeneem.

Dié nisproduk is ook winsgewender as gewone mielies omdat dit onder meer minder water, tyd en produksiemiddele verg.

Springmielies se inkomste is ruim 15% méér as dié van die geelmielies wat hulle verbou. Die opvolggewasse ná springmielies vaar ook beter as ná geelmielies omdat springmielies baie minder voedingstowwe aan die grond onttrek.

Die verskil is veral by die opbrengs. Mielies en springmielies onttrek dieselfde tipe voedingstowwe uit die grond, maar omdat die geelmielies by hulle gemiddeld 16,5 t/ha lewer teenoor 8,5 t/ha by springmielies, is die hoeveelhede kunsmis wat onttrek word, baie minder.

Die grootste besparing is dus op bemesting, water en krag. Die boerdery is die afgelope tyd ook met goeie koringoeste geseën.

Ondanks hael- en rypskade was die opbrengs die afgelope drie jaar gemiddeld 9,5 t/ha, met sommige lande wat meer as 10 t/ha gelewer het. 

In een van die springmielielande is die broers mnre. Fanie (links) en Roy (regs) Blumenthal. In die middel is Francois, Fanie se seun en die sesde geslag van hierdie familieboerdery. Hy studeer tans in Bloemfontein, maar is reeds by die boerdery betrokke. Foto: Charl van Rooyen

Grondvoorbereiding

Die grondvoorbereiding vir mielies en springmielies geskied albei volgens metodes vir minimumbewerking.

Tyd is hul vyand omdat hulle nie tyd kan verspeel nadat die koring en gars geoes is. “Sodra ’n koringland geoes is, begin ons mielies of springmielies daarop plant,” sê Fanie.

Hulle volg dus ’n brand-en-plant-benadering om so vinnig moontlik van die oortollige oesreste ontslae te raak sodat die volgende oes geplant kan word.

Daar is eenvoudig té veel koringreste nadat die gewas gestroop is, en hulle kan nie wag totdat die koringreste natuurlik afgebreek het nie.

As daar tyd en ’n groot vraag na koringstrooi is (soos tydens ’n droogte), baal hulle van die koringstrooi. Daarna plant hulle die saad in die vorige oes se oorblywende stoppels en bandplaas ’n kunsmismengsel agter die plantertande wat die grond losmaak.

Geelmielies word teen ’n plantestand van 95 000/ha geplant en springmielies teen ’n plantestand van 85 000/ha.

Planttyd is van begin Desember af en hulle maak op die laatste teen 15 Desember klaar.

“Dit gaan oor dagliglengte en temperatuur. Dit moet verkieslik nie warmer as 32 °C wees nie, anders staan die plante stil en groei nie. Ná bestuiwing moet dit ook nie onder 15 °C wees nie, anders is die bestuiwing swak.”

Plaagbestryding vir die springmielies begin met vooropkoms-onkruidbekamping en ’n chemiese middel om snywurms te bestry.

Drie weke ná opkoms spuit hulle weer onkruiddoder as dit nodig is. Op die sesblaarstadium volg ’n swamdoder en ’n middel om rooispinmyt te bekamp.

Dan hou hulle die gesaaides dop vir motvlugte wat ’n aanduiding van bolwurm en stronkboorder is. As daar weer wurms in die lande is, word dit met ’n middel deur die spilpunt bestry.

Bemesting en besproeiing

Vir die springmielies bandplaas die Blumenthals 300 kg 1:1:1 en strooi 300 kg Greensulf (kalksteen-ammoniumnitraat met swael en kalsium) per hektaar uit, gevolg deur 1 000 liter vloeibare topbemesting (8:1:3) in vier toedienings, versprei volgens groeistadiums.

Voor die pluimstadium dien hulle ook 25 kg magnesiumsulfaat per hektaar vir energie deur die spilpunt toe, asook 25 kg kalsiumnitraat.

Blaarsapontledings word deurgaans gedoen om betyds agter te kom as aanvullende mikro-elemente nodig is. Mnr. Riaan de Wet, die boerdery se produksiebestuurder, sê besproeiing vir springmielies is soortgelyk aan dié vir koring aangesien albei gewasse eenderse waterbehoeftes het.

Hulle doen besproeiingskedulering met behulp van vogmeters in die grond wat die hele seisoen in die grond bly. Dit bepaal wanneer besproeiing nodig is.

Die gewasse het verskillende behoeftes deur die seisoen wat danksy navorsing bekend is. Hulle gebruik spilpunte van Agrico en Valley.

Die vogmeters meet die vog elke 100 mm vanaf die bogrond tot op ’n diepte van 600 mm. Dit gee dan ’n aanduiding van hoeveel water (mm/ha) per rondte toegedien moet word om in die betrokke gewas se waterbehoefte te voorsien.

“Volgens ons grond se waterhouvermoë is toedienings van 15 mm op ’n keer gewoonlik voldoende. Ons het goeie, diep Clovellygrond van 300 mm tot 3 m diep; ’n kombinasie van sand, leem en klei.”

Die hoeveelheid water wat toegedien word, hang uiteraard van die hoeveelheid reën af. Die boerdery mag 1 100 mm per jaar (dus twee oeste) per hektaar uit die Oranjerivier besproei.

Die watergebruikersvereniging het vloeimeters begin installeer om die boere se waterverbruik te monitor.

Intussen meet die boere self hul verbruik aan die hoeveelheid ure wat hulle water pomp. Die springmielies word aan ’n besigheid op Hopetown, Biggi Brands, gelewer wat dit voorberei, verpak en uitvoer.

Saaiery en wisselbou

Die saaiery is die hoofvertakking van die boerdery. Hulle pas wisselbou toe met mielies in die somer, en koring (70%) en gars (30%) as wintergewas.

Fanie sê die gars word op die mielielande gesaai nadat die oesreste ingewerk is omdat gars nie wortelsiektes kry nie.

Gars word gevolglik oor ’n tydperk van drie jaar op al die lande verbou om die belangrike voordeel te verkry dat siektekettings verbreek word.

Die garsreste word ingewerk om organiese materiaal in die grond te vermeerder. Dié wisselboustelsel bekamp ook vrotpootjie en Fusarium sodat die koring wat op die land geplant word, broodnodige beskerming teen hierdie dodelike siektes het.

Die boerdery het sy eie graansilo’s met ’n kapasiteit van 7 500 ton op die plaas gebou om graan op te berg indien dit eers skoongemaak moet word om byvoorbeeld van ongewenste sade van onkruid ontslae te raak.

Daarvoor gebruik hulle ’n apparaat wat met lug werk en deur ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger, Japs, gebou word. Daarna kan die gesuiwerde graan na hul verkoopsbestemmings vervoer word.

Die Blumenthals het ook ’n weegbrug en apparaat om die graan te gradeer.

Fanie sê vir verminderde grondbewerking is Kongskilde se Vibroflex-tandwerktuie vir hulle die doeltreffendste op die koringlande. Vir die gars en mieliereste gebruik die boerdery Horscht se MT Tiger-skottel-tand-kombinasiewerktuig.

Die planttyd vir wintergraan is 25 Junie tot 25 Julie teen 70 kg saad/ha. Die koring en gars word van einde November af geoes. Vir die bemesting van koring gebruik Zandraai-boerdery Omnia se produkte.

Hulle doen nie bandplasing nie, maar strooi die korrelkunsmis uit en werk dit met ’n tandwerktuig in.

Voor plant word 300 kg 7:15:7 per hektaar toegedien en ná plant 350 kg 7:0:2. Vier weke ná opkoms strooi hulle 300 kg Greensulf uit. Bobemesting is in ’n vloeibare vorm en word deur die spilpunte toegedien.

Dit bestaan uit 500 liter van ’n 8:1:3-mengsel wat gedurende verskillende groeistadiums in drie toedienings gegee word.

Die bemesting vir die gars verskil daarvan omdat die vraag na gars daal. Daarom oorweeg die boerdery dit om garsproduksie te laat vaar.

Onkruid en plae

Roy, wat ’n aandeelhouer in die maatskappy Novon Protecta is, behartig die onkruidbekamping. Hy sê hulle volg ’n standaardonkruidbekampingsprogram vir breëblaar- en grasonkruid.

Vyf tot ses weke ná opkoms van ’n gewas spuit hulle ’n breëspektrummiddel.

“Elke land word op grond van sy geskiedenis met onkruid getakseer, want elkeen het sy eie rekord van probleemgrasse of breëblaaronkruid.

Die lande word byvoorbeeld vir die bekamping van breëblaaronkruid soos hondebossie bespuit, maar net sommige lande word vir grasonkruid behandel.”

In Oktober word voorkomend vir swamme bespuit, en hulle hou elke land deur die seisoen dop vir enige siektes wat kan kop uitsteek. Insekplae bestaan grootliks uit luise, bolwurms en tot ’n mindere mate bladspringer.

Elke plaag word individueel behandel.

Omdat die water uit die Oranjerivier baie goed is, bly die grond se pH konstant op sowat 6,5, wat ’n goeie pH vir gesaaides is. Dit is dus nie nodig om kalk toe te dien nie.

In die verlede het die Blumenthals bladramenas op marginale grond geplant om probleme op te los en die vlak van produktiwiteit tot op die vlak van die ander grond te verhoog.

Hierdie gewas produseer baie materiaal wat ingewerk word. Bladramenas veroorsaak ook ’n natuurlike, chemiese reaksie in die grond wat aalwurms volgens Fanie tot 95% doeltreffend bekamp.

Ekotoerisme

Frank sê ekotoerisme, wat fotografie en wildkyksafari’s insluit, oorskry deesdae die jagafdeling.

Me. Mari Olivier bestuur die Gazella-herberg, wat oor konferensiegeriewe, blyplek, ’n swembad en borrelbad beskik en veral by maatskappye gewild is.

Die herberg is in een van die boerdery se twee wildkampe geleë. Daar is ’n groot verskeidenheid wild, soos springbokke, volstruise, waterbokke, tsessebes, koedoes, blesbokke en duikers.

Die neiging na ekotoerisme met die wildboerdery sluit goed aan by kunsaashengel in die Oranjerivier.

NAVRAE: Mnr. Frank Blumenthal, 082 496 2033, mnr. Fanie Blumenthal, 082 494 5031.



LBW vra . . .

Mnr. Fanie Blumenthal

Watter tegnologie is onmisbaar in jou boerdery? Grond- en blaarsapontledings en waterskedulering. Wie was jou mentor en watter belangrike leiding het hy jou gegee?

Mnr. Joel le Roux, ’n leierboer en gelukkig my buurman, het my baie van gewasverbouing en -bestuur geleer.

Mnr. Douglas Crawford, my eerste kunsmisagent, het my van waardevolle kennis voorsien en my aan goeie bemestingspraktyke bekend gestel.

Wat is die beste raad wat jy al gekry het? Jy kan die lewe in die grond herstel, wat ek by mnr. Kevin Fourie van Omnia en nog ’n kenner, mnr. Carl Bischoff, geleer het.

Wat is die grootste fout wat jy in jou boerdery gemaak het? Om nie die tegnologie voluit te benut nie. Wat is jou grootste knelpunte in die boerdery? Politieke onsekerheid.