Droogtes lei nie net tot moeilikheid in die gemoedere van diegene wat daardeur geraak word nie, maar het die afgelope twee weke ook groot drama tussen belanghebbendes veroorsaak, terwyl die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye onder kwaai kritiek deurgeloop het. Die rol wat die Oesskattingskomitee speel om ’n onafhanklike syfer deur te gee, is weer beklemtoon.

Die Oesskattingskomitee se verslae speel ’n groot rol in die prysbepaling waarby almal wat op die graanmark betrokke is, ’n finansiële belang het. Die verslag word nie lukraak en impulsief verwerk en uitgereik nie. Die insette en finale syfers word noukeurig bereken en deurdink voor die finalisering en publikasie daarvan.

Dit is nie ’n maklike taak nie, en diegene wat daarby betrokke is, is selfbeheers en gefokus. Hulle volg beslis nie die weg van die minste weerstand om by die finale oesskattingsyfer uit te kom nie. Kritiek deur diegene wat nie dieselfde mate van insette lewer wat die komitee aan die dag lê om ’n skatting te maak nie, is ongevraag.

Die syfer kan nie net gegrond wees op ’n gemiddelde van menings waarmee net jyself kan assosieer nie. Moenie net enige mening glo nie – doen ’n bietjie meer moeite as dit!

VERANDERLIKES

Die voorkoms van maandelikse reënval het tot begin Desember ’n soortgelyke patroon as in 2016 aangeneem. Die reënval was laat, en daar was ’n algemene konsensus nadat belanghebbendes hulself herhaaldelik oortuig het die aantal hektaar wat beplant is, sal heelwat minder moet wees. Scenario’s het toe ontstaan wat op dié aannames gegrond was.

Die moontlikheid dat produsente in Januarie vinnig sou kon opvang, is buite rekening gelaat. Daar is aanvaar die aanplantings moet minder wees, en prys- en bemarkingsbesluite is op grond daarvan met groter selfvertroue begin neem sonder dat ál die feite beskikbaar was.

Die gedagte dat aanplantings minder gaan wees, produksie laer as in die vorige jaar gaan wees en invoer gevolglik onafwendbaar is, het mielieprodusente gepas. Laer produksie wat deur hoër pryse aangevul word, kan produsente in staat stel om ’n redelike inkomste te behaal, pleks van dat pryse laag is. Die gedagte aan kleiner aanplantings was van pas. Daarom was die aankondiging dat die aantal hektaar wat beplant is, met die vorige seisoen ooreenstem, vir baie belanghebbendes nie ’n welkome gedagte nie.

Markdeelnemers in produksiegebiede waar droogte die aanplanting en voldoende opkoms van mielies grootliks beperk het, kan hulle deur hul omstandighede laat lei in hul bemarkings- en prysingsbesluite, terwyl sentrale JSE-mieliepryse die totale vraag en aanbod van mielies in Suid-Afrika weerspieël.

Verskillende prysaanbiedinge vir mielies om uit te kies, is dikwels nie by ’n spesifieke lewerinspunt beskikbaar nie. Kontantmarkpryse behoort deur die vraag en aanbod van mielies by die leweringspunt bepaal te word, en behoort nie ’n afgeleide prys van die sentrale JSE-termynprys te wees nie.

Die oesskatting weerspieël die aanplanting en produksie van mielies in ’n provinsie en op ’n nasionale vlak, maar dit gee nie die verskil in aanbod van mielies by ’n leweringspunt in die ooste en die ander in die weste van dieselfde provinsie nie. Die oesskatting in ’n provinsie kan dus vir elke produsent ander gevolge inhou, gegrond op sy eie omstandighede.

Ons ervaar droogtes as ongunstig. Dit hou verliese in wat ons wil vermy. Produsente se ervaring van die droogte wat tot in Desember opgebou het, is in kontras met die verrassende uitbreiding in aanplantings omdat hulle staatmaak op beter pryse indien produksie misluk. Dit is ook net menslik dat produsente hul hoop geplaas het op die moontlikheid van hoër pryse en ’n beter inkomste omdat alle voorlopige aanduidings daarop gedui het dat aanplantings minder en pryse hoër kon wees.

Nou blyk dit aanplantings is wel groter, en die vrees is dat pryse weens die uitbreiding kan daal. Indien dit gelyk het of ’n uitbreiding in aanplantings groter sou wees, sou bemarkings-, verskansings- en prysbesluite anders gelyk het. Die uitkyk sou waarskynlik konserwatiewer gewees het om verliese te bekamp.

In Februarie 2016 was die reënval onvoldoende om ’n beter oes te verseker. Omdat daar so ’n groot ooreenkoms tussen die maandelikse reënvalverspreiding in 2016 en 2018 was, is verwag dat dieselfde patroon in die res van hierdie seisoen kan voorkom. Dit kan verkeerd wees.

Dit sal net so verkeerd wees om te aanvaar dat vroeë ryp of vloed- en versuiptoestande glad nie vanjaar sal voorkom nie en dat boere vir die res van die seisoen van groot oesskade gevrywaar is. Die gemiddelde langtermyn-intreedatum vir ryp is vanaf die derde week van April. Dit is feite.

Vir elke dag later as die optimum plantdatum is die opbrengs van alle gewasse wat aangeplant is, ook laer. Al is die hoeveelheid hektaar wat beplant is, net soveel as in die vorige jaar, sal die gemiddelde opbrengs laer en onvoldoende wees om invoer en invoerprysvlakke in 2019 vry te spring.

Die waarskynlikheid van ’n droogte het min betekenis vir ’n produsent wat toekyk hoe sy mielies verwelk en sy produksie daal. Sy boerdery se kontantvloei is afhanklik van die potensiële prysstyging weens verwagte kleiner nasionale aanplantings. Normale aanplantings is nie in belang van die produsente wat op hoër pryse met ’n kleiner produksie staatmaak nie.

KYK VORENTOE

Produsente is nie robotte nie. Hul besluitneming verskil. ’n Produsent in die distrik Ermelo, wat gekenmerk word deur goeie produksiejare, se vooruitsig op ’n wins waar hy steeds ’n redelike opbrengs met selfs ’n laer prys kan verwag, verskil grootliks van die vooruitsigte van ’n produsent wat die afgelope paar jaar in ’n produksiegebied soos Bultfontein onder droogte deurgeloop het.

Die nut wat dié twee produsente kry uit ’n nasionale oesskatting waarin die nasionale aanbod in een syfer saamgevat word, sal verskil omdat die vraag en aanbod van mielies by Ermelo en Bultfontein verskil. Hul verwysingspunte vir prys en opbrengste verskil dus ook.

Ter wille van beter gemoedstoestande, verlaagde stresvlakke en beter kontantvloei moet ’n mens vertrou dat die res van die produksieseisoen goed sal verloop. Dit sal markdeelnemers in staat stel om meer kreatief te wees en planne te beraam om die struikelblokke van die volgende seisoen die hoof te bied.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.