Mnr. Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, het op die organisasie se Hoëveldse streekvergadering in antwoord op ’n vraag oor die waarde wat die heffing vir produsente inhou, gesê benewens hierdie aansienlike besparing op saadaankope gee Bayer R27 per sakkie saad van die tegnologieheffing terug aan boere en daar word goeie vordering gemaak met nuwe tegnologie wat inkom.

“Bayer het reeds verlede jaar sy aansoek ingedien vir die nuwe intacta-gene wat geregistreer moet word, terwyl ander maatskappye soos Cortiva ook nuwe tegnologie die land inbring vir toetse. Dit is ongelukkig iets wat tyd kos, maar ons is nou in die pylvak.”

Hy het gesê daar is die afgelope drie jaar reeds 30 nuwe sojakultivars die land ingebring, wat baie meer as in die verlede is. Daar is nou baie meer opsies vir die verskillende areas. “Een van die grootste multinasionale maatskappye, Don Mario, het hom nou plaaslik gevestig en dit sou nie gebeur het sonder die heffing nie.”

Volgens Louw het Graan SA saadmaatskappye gepols oor wat die heffing vir hulle beteken en Agri Seed het gesê die geld wat hy teruggekry het, is direk gebruik om ses nuwe Santa Rosa BR-kultivars (intacta) na Suid-Afrika in te voer. Daar word tans tien nuwe Don Mario-kultivars getoets en twee van hulle is beskikbaar in die nuwe sojaboonpakket vir die 2021-plantseisoen.

Die tweede jaar van die tegnologieheffing eindig einde Februarie. Dit was R65/ton in die eerste jaar en R80/ton in die tweede jaar. Die volgende twee jaar is ook reeds goedgekeur nadat toestemming daarvoor op die 2020-kongres gegee is.

Die heffing word gebruik om saadmaatskappye per markaandeel te vergoed vir nuwe tegnologie wat hulle na die land bring. “Die lede van Graan SA is die eienaars van die heffing,” het Louw gesê. “As ons nie tevrede is met hoe die heffing verloop, hoe die geld aangewend word en wat die teenprestasie is nie, het ons altyd die keuse om nie om ’n volgende ronde aansoek te doen nie en iets anders te oorweeg. Daarom monitor ons deurlopend die vordering sodat ons by ’n nuwe aansoek ’n ingeligte besluit kan neem.”

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het gesê dit is duidelik dat daar reeds voordele is, maar hy sien uit na die dag wanneer dit duidelik is dat opbrengste hoër en siektes minder sal wees.

Twee jaar gelede se gemiddelde Safex-prys per ton (1,2% daarvan) word gebruik om die heffingsbedrag te bepaal. Van 1 Maart af is dit R57/ton en van 1 Maart 2022 af is dit R55/ton.