Die jongste oesskatting vir katoen dui op ’n oes wat 38% kleiner as verlede jaar s’n gaan wees, maar kenners glo daar is lig in die tonnel wat die bedryf in die nuwe seisoen weer ’n hupstoot sal gee.

Die derde skatting vir die 2020-’21-seisoen dui op ’n plaaslike oes van 80 000 bale vesel teenoor die 134 000 bale wat die vorige seisoen geoes is. Hoër pryse vir graan en oliesade het onder meer daartoe gelei dat net 16 700 ha katoen teenoor die vorige seisoen se 27 600 ha aangeplant was.

Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, glo dit kan in die nuwe seisoen net beter gaan. “Een groot ligpunt is dat pryse nou bykans 40% hoër as ’n jaar gelede is en dat wêreldverbruik nou hoër as die produksie is. Dit sal natuurlik ook produksie op ander plekke stimuleer, maar ek glo pryse sal bo die langtermyngemiddelde van 70 Amerikaanse sent per pond bly. Ek glo nie ons sal hoef terug te staan vir ander gewasse soos mielies en sojabone nie.”

Hy sê daar was die vorige seisoen ook bemarkingsleemtes en laat betalings aan boere wat hopelik nie weer ’n probleem sal wees nie. Die oesproses begin in Mei, maar sal eers teen Junie en Julie in alle erns geskied.

Wat die internasionale situasie betref, sê die ICAC (International Cotton Advisory Committee) dat die wêreldproduksie vir die 2020-’21-seisoen op 24,1 miljoen ton geraam word. Dit is ’n 8%-afname teenoor die vorige seisoen. Daarteenoor sal die wêreldverbruik na verwagting met 8% toeneem namate die vervaardigingsbedryf herstel. Dit word op die oomblik op 24,5 miljoen ton geraam. Hiervan sal 8,1 miljoen ton (31%) in China verbruik word.

Die laer voorraadvlakke ondersteun die prysvlakke wat in die loop van die seisoen bly styg het.  

Die seisoen se prysgemiddelde het in Maart op 87,7 Amerikaanse sent per pond gestaan, teenoor die vorige seisoen se gemiddelde van 71,3 sent per pond. ’n Seisoengemiddelde van 80,8 sent per pond word vir die 2020-’21-seisoen verwag.