Die nasionale oesskattingskomitee (NOK) het in sy tweede produksieskatting vir die 2020-’21-seisoen bekend gemaak dat die totale somergraan- en oliesade-oes nou op 18,7 miljoen ton staan, vergeleke met 17,6 miljoen ton die vorige seisoen. Dit is 1% meer as verlede maand se skatting en word toegeskryf aan skattings vir mielies, sojabone en sorghum wat hoër is, terwyl sonneblomsaad, droëbone en grondbone se oeste afwaarts aangepas is.

Volgens die skatting staan die mielie-oes nou op 15,9 miljoen ton, wat op ’n jaargrondslag 4% meer is, en beloof om die tweede grootste oes ooit te wees. Die skatting vir sojabone staan op 1,7 miljoen ton, wat 39% meer as die vorige seisoen is en die grootste oes ooit sal wees. Die skatting vir sonneblom is op ’n jaargrondslag met 12% afwaarts aangepas tot 712 940 ton.

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA, sê die oesskatting kom nie as ’n verrassing nie. “Daar het so hier en daar boere begin stroop en alles verloop goed hoewel reën die proses nou vir eers stopgesit het. Koringboere in die Wes-Vrystaat sê dit is selfs te nat om nou te begin plant.”

Volgens die skatting is die hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies nou 2,755 ha met ’n verwagte opbrengs van 5,78 t/ha. Die skatting van witmielies staan op 8,8 miljoen ton en vir geelmielies is dit 7,1 miljoen ton.

Oes nog groter?

Daar is selfs verwagtinge dat die oes nóg groter kan wees. Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê hul eie skatting staan op 16,7 miljoen ton en dié van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) op 17 miljoen ton. “Gegewe die optimistiese opbrengste wat ons van boere hoor en ons eie waarnemings, glo ons daar is ruimte vir die NOK om die skatting vorentoe verder te verhoog.” – Nico van Burick

Die drie vernaamste mielie-produserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes gaan na verwagting 84% van die oes produseer. Die NOK wys daarop dat die huidige skatting gegrond is op ’n objektiewe opbrengsopname vir Mpumalanga deur die Landbounavorsingsraad. Soortgelyke opnames volg vir die Vrystaat in April en vir Noordwes in Mei. Die huidige opbrengssyfers is hoofsaaklik verkry van produsente in die onderskeie provinsies.

Die NOK het sy produksieskatting vir sojabone verhoog met 6,6% tot 1,728 miljoen ton teen ’n verwagte opbrengs van 2,09 t/ha. Vir sonneblom is die skatting 692 290 ton, wat 2,34% laer is as die vorige skatting teen ’n verwagte opbrengs van 1,46 t/ha. Die verwagte grondbone-oes is nou 57 900 ton, vir sorghum is dit 187 670 ton en vir droëbone 62 117 ton.