Namibië is dalk meer bekend vir sy gevestigde veebedryf en as ’n gewilde jagbestemming as ’n land wat graan verbou. Nogtans staan akkerbou hoog op die lys van die grootste landbousektore met ’n verdienste wat verlede jaar sowat R408 miljoen beloop het.

Dit gebeur danksy saaiboere, soos me. Elize van Niekerk van die plaas Springvale by Summerdown, noordoos van Windhoek, wat erns van saaiboerdery maak.

Van Niekerk is vanjaar Namibië se Meesterakkerbouer. Sy plant wit mielies onder besproeiing en op droëlande, asook akkerbone en boer met ’n Braunviehstoetery, Dorperskape en kommersïële vleisbeeste.

Dorpers wei hier op aangeplante bloubuffelgras. Sy verkoop slaglammers op bestelling van die plaas af.

Hierdie ma van ’n vierjarige drieling boer in ’n streek wat op lang termyn gemiddeld 450 mm reën per jaar kry, hoewel die neerslag die afgelope vyf jaar net 325 mm per jaar beloop het.

Sy het matriek aan die Windhoek Afrikaanse Privaatskool geskryf en is daarna in Port Alfred as vlieënier opgelei. In 2007 is sy met mnr. Petrus van Niekerk getroud; ook ’n vlieënier. Hulle het daarna kommersieel in Namibië en elders in Afrika gevlieg.

Haar pa, mnr. Alfred Meyer, het in daardie stadium op Springvale geboer. Weens Alzheimer se siekte kon haar pa nie meer na die boerdery omsien nie.

“Ek het hier grootgeword en het baie in die boerdery belang gestel, maar terwyl ek as vlieënier gewerk het, sou ek nooit kon droom dat ek eendag gaan boer nie,” vertel sy.

Van Niekerk is in 2011 plaas toe om die boerdery oor te neem. Petrus het nog vir ’n jaar gevlieg en toe ook heeltyds plaas toe gegaan. Haar pa is in 2013 oorlede. Van Niekerk het later haar broer, ook Alfred, se deel van die erfporsie uitgekoop.

Noodlot slaan toe

In Mei 2014 het die noodlot toegeslaan toe Petrus en haar ma, Helené, in ’n motorongeluk naby die plaas dood is. Dit was net vyf weke voor hul drieling se geboorte. Só het sy alleenma van twee dogters, Amika en Helani, en ’n seuntjie, Divan, geword. Hulle is nou vier jaar oud.

Elize met haar drieling in die mielies. Hulle is van links Divan, Helani en Amika.

“Dit was nie ’n tyd in my lewe vir groot besluite nie. Ek het besluit om dit dag vir dag te neem en met die boerdery voort te gaan. Mettertyd het ek besef die beste besluit is om te boer, want die plaas is die beste plek om my kinders groot te maak.” Sy was nog nooit teleurgesteld oor die besluit nie, hoewel veral die eerste twee jaar baie moeilik was.

Met wilskrag het sy baie geleer en mettertyd het boerdery haar passie geword. Vir die beesboerdery het sy baie inligting met leeswerk ingewin. Summerdown is beeswêreld en dit is dus nie vir haar so ’n moeilike bedryf nie. Akkerbou is ’n ander saak.

Haar man het voor sy dood besluit om te saai en het sterk water raakgeboor en ’n spilpunt opgesit. Dit was egter net die begin van die saaiboerdery. Gelukkig kon Van Niekerk baie by vriende en kenners leer. “En daar is die internet. As jy iets nie weet nie, kan jy kundige raad op die regte plek gaan soek.”

’n Mielieland word besproei. Van Niekerk moniteer die waterverbruik noukeurig om hierdie skaars bron te beskerm.

Brei saaiery uit

Die res is geskiedenis. Vandag saai Van Niekerk 23 ha wit mielies onder drie spilpunte van 3 ha, 7 ha en 13 ha, asook 90 ha op droëlande.

Die opbrengs verbeter elke jaar. Onder besproeiing is die opbrengs gemiddeld 14 t/ha. Die droëlandmielies se opbrengs wissel baie weens die wisselvallige reënval. Die hoogste opbrengs was 5,2 t/ha. Die gelykspeelpunt op droëlande is 1,1 t/ha en onder besproeiing 6,5 t/ha.

Die mielieprys word deur Namibië se Akkerbouraad vasgestel, met die inagneming van onder meer die gemiddelde Safex-prys oor die laaste vyf jaar en die vervoerdifferensiaal. Met Landbouweekblad se besoek was die boerprys R4 670/t, maar dit word deur die loop van die seisoen aangepas.

“Dis nuttig om te weet wat die prys gaan wees, wat dit maklik maak om te besluit om mielies te plant.” Haar mieliewins het binne vier jaar van 55% tot 64% gestyg, danksy ’n gunstige mielieprys en die verbetering in die bestuur van produksiemiddele.

Sy sê sy dien minder water toe, maar met korter tussenposes op die sanderige grond om die loging van kunsmis te bekamp.

Stikstoftoedienings is in kleiner hoeveelhede, maar gereelder. Daarby let sy op temperature vir die toediening van kalium en stikstof, aangesien dit die opneembaarheid beïnvloed.

Die grondvog is stadig verbeter met die inwerk van organiese material, die opbreek van verdigtingslae en goed geskeduleerde besproeiing. Dit is belangrik om die tydperk van hoë vogverbruik met ’n versadigde grondprofiel binne te gaan.

Geen vogstremming, veral twee weke voor en twee weke ná die pluimstadium, geniet ook voorrang. Vanjaar was haar opbrengste onder besproeiing 15,8 t/ha. Met druktyd het sy nog nie die droëlandmielies geoes nie.

Verbouingsmetodes

Van Niekerk doen verminderde bewerking, maar met primêre werktuie. Die vernaamste werktuie is ’n bossiekapper, skotteleg, beitelploeg en saadbeddingvoorbereider.

“Weens die wisselvallige reënval doen ek dit wat ek kan, met dit wat ek het, daar waar ek is. Ek plant mielies saam met die reën volgens dit wat ek kan bekostig; nie volgens wat ek benodig nie. Die risiko’s in Namibië is net te groot.” Ná die vorige oes lê die land braak met die oesreste op die grond.

Dit word nie bewei nie omdat Van Niekerk al die organiese materiaal in die grond wil terugsit. Einde Augustus of begin September slaan sy die reste met ’n bossiekapper plat. Daarna volg ’n skottelegbewerking om die reste effens in te werk omdat daar veral op die besproeiingslande baie organiese materiaal op die grond agterbly.

Sy laat doen dan ’n beitelploegbewerking tot op ’n diepte van 750 mm omdat die sandgrond met slegs 7%-8% klei wat daar voorkom so maklik verdig en die verdigtingslaag gebreek moet word sodat die wortels van die mielies die grond diep kan binnedring. Daarna lê die lande só vir ses weke.

Van Niekerk besproei dan die betrokke lande en dien terselfdertyd 75 kg stikstof per hektaar saam met die spilpuntwater toe. Die land lê dan só tot middel November om die organiese materiaal kans te gee om af te breek. Daarna plant sy mielies. Sy doen elke twee jaar grondontledings om te bepaal hoeveel misstof toegedien moet word.

Die verdere bemestingsprogram (vir ’n opbrengsmikpunt van 14 t/ha) behels 300 kg stikstof, 63 kg fosfaat en 60 kg kalium per hektaar. Van Niekerk sê sy het vanjaar Yara se kunsmis gebruik.

“Ek hou by ’n basiese bemestingsprogram. Ek glo egter in die toediening van boor voor die mielieplante die vier- tot sesblaarstadium bereik, aangesien die oesgrootte dan bepaal word en dit bydra tot die vorming van stuifmeel en pitte.

“As jy vir jou mielies se wortels sorg, sorg hulle vir jou. Ek probeer sover moontlik die verdigtingslae opbreek sodat daar ’n maklike pad is vir die wortels se laterale groei. Ek bandplaas kunsmis tot op vyf weke. Terwyl die plantjies nog jonk is, reageer die kiemwortels goed op kunsmis wat in die ry geplaas is.”

Sy dien ook Kelpak toe teen 2 liter per hektaar om wortelgroei te bevorder. Die droëlande word met ’n skotteleg ná die eerste goeie reën en elke twee jaar met die beitelploeg bewerk.

Plaagbestryding

Sy dien net na plant ’n voor- en na-opkoms-onkruiddoder –’n mengsel van 710 ml Dual Gold (reg.nr. L5749 van Wet 36 van 1947) en 260 ml Callisto (reg.nr. L6795) per hektaar – met ’n Agromaster-balkspuit toe en besproei dan 7 mm water om die middels in te was. Vir onkruidbestryding op droëlandverbouiing gebruik sy 3 liter Bullet (reg.nr. L5623) per hektaar.

Vir die bestryding van swamme, soos noordelike blaarskroei, asook stronkboorder en rooi spinmyt dien sy die volgende middels vier tot vyf weke ná ontkieming van die mieliesaad met die balkspuit toe: Inhibit 480 SC (Namibiese reg.nr. N-AR 1702) teen 1 l/ha, Cyperfos 500 SC (reg.nr. L7606) teen 1 l/ha en Mecti (reg.nr. L7008) teen 600 ml/ha.

“Die balkspuit is doeltreffender as die toediening deur die spilpunt.”

Moniteer water

Al die besproeiingswater kom uit twee boorgate wat by die departement van waterwese geregistreer is. Op elke boorgat is ’n vloeimeter. “Dit is noodsaaklik om water verantwoordelik te gebruik en die watertafel dop te hou.” Die twee boorgate lewer onderskeidelik 85 m3 en 20 m3 water per uur (altesame 105 000 l/h) en word met elektriese pompe gepomp.

Sonkrag word gebruik om water uit boorgate by veesuipings te pomp. Elders gebruik Van Niekerk elektrisiteit van NamPower.

Krag word deur die nasionale kragverskaffer NamPower voorsien. By die veeposte word sonkrag- en windpompe gebruik. Die besproeiingsmielies het 750 mm water deur die groeityd nodig. In ’n gewone reëntyd dien sy dus ’n bykomende 350 mm water toe, danksy ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 450 mm.

Die verskil is vir die benatting van die grond ter wille van grondvoorbereiding. Voor planttyd probeer Van Niekerk om die grondwaterprofiel vol te maak waarvoor ongeveer 6 m³ water per hektaar nodig is. Dit is té veel vir haar boorgate om op een slag al die lande nat te spuit.

Daarom beplant sy eers die kleiner lande van 3 ha en 7 ha en vyf weke later die groter spilpuntland van 13 ha om die tye wanneer die meeste water nodig is te versprei. Net ná planttyd kry elke land 7 mm water om die onkruiddoder wat ná die planter met ’n balkspuit toegedien word, in te was.

Hitte bepaal besproeiing

“Die hitte bepaal daarna wanneer die lande weer besproei moet word, maar dit is in die mielies se vroeë groeistadiums nie meer as 12 mm op ’n keer nie weens die sterk logingsuitwerking van die sandgrond. Teen week 4 kry die plante 40 mm per week in drie sessies. Week 8 vereis 80 mm per week wat oor vier of vyf toedienings versprei word.”

’n Belangrike produksiemiddel is om groot hoeveelhede kunsmis 7 cm weg van die saad te plaas om te voorkom dat die kiemwortels brand. Van Niekerk plant ultravinnige mieliekultivars onder besproeiing, naamlik Pioneer se P2369W en P1517W. Op die droëlande plant sy ’n mediumvinnige kultivar, Pannar se BG5285.

Alles is konvensionele basters omdat Namibië nie geneties gemodifiseerde kultivars toelaat nie. Die mielies word deur ’n kontrakteur gestroop. Alles word aan Namib Meulens in Windhoek met haar eie vervoeronderneming, wat sy saam met ’n vennoot besit, gelewer, asook ander beskikbare vervoer in die omgewing.

Plant ’n proef

Van Niekerk het vanjaar ’n proef onder besproeiing saam met Aqua Land, ’n landbou-onderneming van Okahandja, gedoen om vas te stel hoe die koste van produksiemiddele verlaag kan word sodat sy méér hektare mielies kan aanplant. Die plantestand was dus laag, net 30 000 plante/ha, en bemes vir ’n opbrengs van 9 t/ha.

Die land het net klein aanvullende besproeiings van 8 mm elke tweede dag ontvang. “Met ons mielieprys maak jy goeie geld as jy 12 t/ha of meer stroop. Hierdie proef is dus vir lande met ’n laer potensiaal en waar daar nie voldoende water vir volle besproeiing beskikbaar is nie, anders is dit die moeite werd om vir ’n groter opbrengste te bemes.”

Die proefland was met druktyd nog nie gestroop nie.

Beeste in die veld waar hulle die heeljaar bly met lekke om enige tekorte aan te vul. Dié beeste is Simmentaler-Bonsmara-kruisings.

Veevertakking vir slagvee

Die veevertakking bestaan uit ’n kommersiële Dorperkudde vir slaglamproduksie, ’n Braunviehstoetery en kommersiële vleisbeeste vir speenkalfproduksie, wat uit Simmentaler-Bonsmara-kruisings bestaan. Die rede vir hierdie kruising is die hoër speengewig wat hierdie twee rasse danksy basterkrag oplewer.

Die beeste se dragtigheid beloop omstreeks 90% en die speensyfer is sowat 84% weens verliese deur jagluiperds. Erdvarkgate eis ook hul tol wanneer die kalwers inval en vrek. Van Niekerk het twee dektye vir die beeste: Van Desember tot einde Februarie en weer van Junie tot einde Augustus.

Die winterkalwers, wat gedurende Februarie gespeen word, speen teen 210 kg tot 230 kg, terwyl die somerkalwers uit die ander dektyd swaarder is en 240 kg tot 260 kg met speentyd in Junie/Julie weeg. Die ideaal sou wees om al die koeie in die somer te laat kalf en die kalwers in die winter te speen.

Die twee dektye sorg egter vir deurlopende kontantvloei. Sy verkies ’n mediumraamkoei van rondom 450 kg. In haar omstandighede is ’n koei-tot-kalf-verhouding van 52%-55% dus moontlik. Die speenkalwers word op speenkalfveilings in Gobabis verkoop.

Kommer­siële beeste op die plaas. Van Niekerk spits haar toe op speenkalfproduksie. Dié beeste is Braunvieh-Bons­mara-kruisings.

Goeie voervloei

Die beeste loop regdeur die jaar op natuurlike soetveldweiding. Bosindringing verlaag die drakrag en sy boer tans met een grootvee-eenheid (GVE) op 15 hektaar. Daarom het Van Niekerk vyf jaar gelede 500 ha veld chemies met handearbeid ontbos. Dit het die drakrag met 1:10 verbeter, wat ’n groot rol gespeel het om die afgelope droogtejare te oorleef.

Die res van die plaas moet nog ontbos word. Wanneer die eerstekalfverse kalf, word hulle vir observasie naby die huis gehou op 30 ha aangeplante bloubuffelsgras wat vir beter gehalte voeding sorg. Die Dorpers is deur die loop van die jaar op natuurlike weiding.

Van Niekerk plant ook akkerbone wat sy met peule en al oes en met mieliekopmeel meng om vir die lammerooie te voer. Sy slag die lammers op die plaas en verkoop dit regstreeks aan verbruikers.

Daarvoor het sy ’n koelkamer ingerig. Só het sy doelgerig gemeet en geleer om haar kennis te verbreed, haar vertakkings uitgebrei om haar inkomste te verhoog en die risiko’s te versprei en met geloof en wilskrag vooruit geboer.

LBW vra . . .

Me. Elize van Niekerk

WAT WAS JOU BESTE BESLUIT NOG?

Wat akkerbou betref, die oprigting van spilpunte. In algemene boerdery, om meer te luister en te doen as om te praat.

WIE WAS JOU MENTOR?

My oorlede man, Petrus, en ’n vriend van hom, mnr. Leon Hinze. Die lewe leer ’n mens baie . . .

WAT WAS DIE BESTE RAAD WAT JY NÓG GEKRY HET?

Doen dit wat jy kan, met dit wat jy het, net daar waar jy is.

WAT IS DIE GROOTSTE BOERDERYFOUT WAT JY GEMAAK HET?

Om dit wat ’n ander boer suksesvol op sy plaas doen, op jou grond toe te pas sonder om jou nodige huiswerk met betrekking tot jou grond se potensiaal en beperkinge te doen.

Doen suksesvolle droëland-akkerbou in Namibië op die basis van weervoorspellings. Ek het geleer dat jy nooit jou aanvangsbemesting meer moet maak as vir ons gemiddelde opbrengs per hektaar nie.

WAT IS JOU GROOTSTE PROBLEME?

Om ’n bestendige, finansiële platform te midde van die veranderlike natuurelemente te skep. Ook om altyd aanpasbaar te wees. Daar is nie een jaar dat jy akkerbou op die vorige jaar se struktuur kan doen nie. Om my trekkers en werktuie in ’n goeie meganiese toestand te hou, is vir my as vrou soms ’n probleem.

WATTER TEGNOLOGIE IS ONMISBAAR?

My Beefpro-beesbestuursprogram en my FieldNET-afstandbeheer by my spilpunt. Verder vergemaklik my kunsmisprogram op Windows Excel my bestuur, aangesien ek dit vir my omstandighede geskryf het en dit gegrond is op die afgelope vier jaar se produksiemiddele en opbrengste.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.