Mnr. John Slabbert van die plaas Skilpadvlei, Moorreesburg, sê die koring lyk mooi, maar as jy in die lande ingaan, kan jy sien die droë tydperk het die koring geknou. Hy het op 20 Mei met 21 mm reën “weggetrek”. Daarna het die wind erg gewaai en het dit nie veel op ’n keer gereën nie. “Die grond het elke keer heeltemal uitgedroog voordat ons weer reën gekry het. Daar was nie opvolgreën dat ons die klamheid kon behou nie.”

Hy sê die koring groei redelik regop omdat dit te warm was om behoorlik te stoel. Die 65 mm reën wat hy in die week van 22 Junie gekry het, het baie gehelp. Hy twyfel of hy vanjaar so ’n goeie oes soos verlede jaar sal behaal. “Ek is dankbaar die reën het begin kom.”

Dit maak hom nogal bekommerd dat dit hierdie winter nie koud raak nie. “Dis Julie en ek loop met ’n kortbroek en plakkies rond.”

By Eendekuil het dit vanjaar min gereën, maar elke keer “net betyds”, sê mnr. Isak Smit van die plaas Sorgvliet. Hy sê die koring en kanola wat in die sandgrond geplant is, lyk mooi, maar in die Rooi-Karoo trek die gesaaides swaar. Dit maak hom bekommerd dat dit nie genoeg reën om die ondergrondse vog aan te vul nie.

Napier se koring vroeg

Mnr. Billy Stewart van die plaas Grootbakenskop, Napier, sê sy koring, kanola en gars lyk mooi, maar die weidings is nog kaal. “Die gesaaides lyk beter as verlede jaar hierdie tyd. Ons het reën gekry, nie baie nie, maar net betyds. Ons het van planttyd tot nou 100 mm tot 115 mm gekry. Dis minder as die langtermyngemiddelde.”

Hy het einde Junie 30 mm reën gekry. Hy voer nog die helfte van sy skape. Die ander helfte het nou op die weihawer, Japannese radyse, weiwieke en medics begin wei.

Stewart sê die graan is baie vroeg. “Van die koring is reeds in die vlagblaarstadium.”

Hy sê witroes het vanjaar so vroeg kop uitgesteek by die koring dat hy dit voor die gars moes bespuit.

Suid-Kaap sukkel

Mnr. Henk de Beer, hoofbestuurder van bedrywe by Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) op Swellendam, sê die tradisionele SSK-bedieningsgebied “wag en hoop vir ordentlike reën wat betyds kom”.

“Die reënval in April, Mei en Junie was laer as die langtermyngemiddelde en ons graan begin die ongunstige uitwerking daarvan wys. Bergwinde en hitte veroorsaak dat van die koring en gars begin are vorm. Dis vroeg vir dié tyd van die jaar.”

De Beer sê hulle kry redelik gereeld opvolgreën, maar “klein bietjies, soms net 3 mm tot 5 mm in ’n week, op ’n slag.”

Ten spyte daarvan is die gevoel dat vanjaar steeds beter is as die 2018-graanseisoen, maar hulle kort ’n ordentlike reënbui in die volgende paar dae om die graan se potensiaal te laat verbeter en om die hoë biomassa van die kanola te onderhou. “Ons kan ook nie regtig bekostig dat die klein bietjies reën wat ons darem nog weekliks gekry het, ons nou oorslaan nie.”

Ook mnr. Dirk van Papendorp van die plaas Voorstekop, Heidelberg, betreur die feit dat elke reëngebeurtenis so min reën oplewer. “Dit reën, maar dit het nog nooit meer as 17 mm op ’n slag gereën nie. Ons kry so 5 mm of 3 mm, maar dis darem goed gespasieer. Ons het nog nie lekker winterreën gehad dat die klowe loop nie, en ons damme is nie vol nie.”

Nietemin staan daar potensiaal op die lande, meen hy. “Die potensiaal is aangelê, as ons net van nou af normale reën kan kry, behoort ons ’n normale oes te behaal.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.