Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) het in sy jongste skatting vir die 2020-produksieseisoen die verwagte koringoes geraam op 2,148 miljoen ton, wat 1 370 ton (0,06%) minder as die vorige skatting is. Die verwagte opbrengs is 4,21 t/ha. Dit sal die grootste koringoes sedert die 2002-oes van 2,427 miljoen ton wees.

Die meeste van die koring (52%) sal in die Wes-Kaap geproduseer word, gevolg deur die Vrystaat met 20% en die Noord-Kaap met 13%. Suid-Afrika se jaarlikse verbruik is sowat 3,4 miljoen ton, waarvan 1,5 miljoen ton tot 1,9 miljoen ton normaalweg jaarliks ingevoer moet word.

Die NOK het die produksieskatting vir moutgars met 0,46% afwaarts aangepas tot 550 246 ton. Die oppervlakte onder gars is 141 690 ha, en teen ’n verwagte opbrengs van 3,88 t/ha sal dit Suid-Afrika se grootste oes nóg wees.

Ook die kanola-oes sal die grootste ooit wees teen ’n beraamde oes van 163 256 ton nadat dit met 10% opwaarts aangepas is. Daar is na raming sowat 74 120 ha onder kanola en die verwagte opbrengs is 2,20 t/ha.

Die verwagte haweroes vir ontbytgraan is onveranderd gelaat op 47 400 ton. Die oppervlakteskatting is 26 200 ha en die verwagte opbrengs is 1,81 t/ha.