Koring- en garsboere moet hulle staal om in die volgende tien jaar alles in hul vermoë te doen om doeltreffender te boer om winsgewend te bly. Die jongste vooruitskouing van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) voorspel dat plaaslike prysstygings tot 2029 onder die inflasiekoers gaan bly. Prysstygings van gemiddeld 2,7% en 3,1% per jaar word by onderskeidelik koring en gars verwag.

Dit is ’n gevolg van internasionale koringpryse wat na verwagting rondom $200/t (sowat R3 336/t) gaan bly vanweë rekord- oeste, veral in die Europese Unie, ’n groot oordragvoorraad en verdere verwagte goeie oeste. Die Internasionale Graanraad raam dat die 2021-oes ook groot gaan wees vanweë meer produksie in Rusland, Kanada, Australië en Argentinië. Nog ’n faktor wat tot laer pryse bydra, is die daling in die vraag na koring weens die koronavirus.

Al wat die plaaslike koringprys kan ondersteun, is die invoertarief wat veronderstel is om in werking te tree as die internasionale verwysingsprys vir ’n sekere tyd laer as $279 (R4 654) per ton is, en die verswakking van die rand.

Dis juis wisselkoersbewegings wat volgens BFAP sal sorg dat die koringprys teen 2029 amper 16% hoër as in 2019 sal wees.

By boere en Graan SA heers daar egter groot kommer oor die departement van handel en nywerheid se gesloer om nuwe, hoër invoertariewe af te kondig. Die jongste verhoging is reeds in Maart geaktiveer, maar is teen druktyd – meer as 115 werksdae later – nog nie in die Staatskoerant afgekondig nie.

Die verwagting is dat die rand se waarde teenoor die dollar in die volgende tien jaar aanvanklik gaan versterk, maar daarna swakker gaan word.

STEUN AAN BOERE NEEM AF

Volgens die BFAP-verslag het steun aan plaaslike koringboere die afgelope paar jaar agteruitgegaan. Die dollarprys wat as verwysingsprys vir die berekening van die invoertarief dien, is in 2017 van $294/t tot $279/t verlaag. Boonop kan lidlande van die Europese Unie elke jaar 300 000 ton koring tariefvry na Suid-Afrika uitvoer.

Dr. Dirk Strydom, hoof van ekonomie en bemarking by Graan SA, sê daar sal ’n wesenlike strukturele verandering moet plaasvind voordat graanpryse noemenswaardig sal styg. Intussen kan boere net probeer om hul doeltreffendheid te verhoog.

“Ons het ’n tegnologieheffing om beter kultivars te ontwikkel. Dís die tipe dinge waaraan ons moet werk. Wat ons aan die prysfaktor kon doen, het ons gedoen. Boere het al goeie vordering gemaak om hul doeltreffendheid te verbeter, maar ons kort nog hoër opbrengste.”

Mnr. Dirk van Papendorp van die Tweekop-boerdery by Heidelberg in die Wes-Kaap meen die plaaslike koringprys gaan nie styg voordat Suid-Afrika niks koring verbou nie. “Dis een van die graanbedrywe waarvan die oppervlakte en die hoeveelheid geoes net op die afdraande pad is. Daar is nie ’n wil by die staat om iets daaraan te doen nie, want die mense wat in hul ore fluister, sê die brood gaan duurder word as jy die koringboere help. Dis ’n wanindruk, maar dit is algemeen.”

Hy wonder ook waarom die minister van handel en nywerheid ’n tarief (op ingevoerde koring) instel, maar dit nie toepas nie. Hy sê die regering het daaraan gewoond geraak dat koring bloot ingevoer kan word as daar nie genoeg koring plaaslik verbou kan word nie.

Tog gaan die boere net al hoe minder produseer namate die koste hulle inhaal. Daar is ’n ooraanbod van koring in die wêreld, en voor dit nie verander nie, gaan plaaslik nie meer koring verbou word nie. “Ons sal produktiewer moet raak deur beter kultivars, soos wat die garsbedryf gedoen het.”

Vooruitskattings toon dat koringpryse in die volgende tien jaar nie met die inflasiekoers gaan tred hou nie. Dit sal boere dwing om doeltreffender te boer, en navorsers sal hulle met beter boerderymetodes en kultivars moet ondersteun.

KORONA MORS MET CASTLE

Soos koring, word daar vanjaar ’n rekord- moutgarsoes wêreldwyd verwag. Die ver- wagte laer pryse sal in 2021 kleiner aanplantings tot gevolg hê. Bierverbruik het nog nie herstel nie, en BFAP verwag groot wêreldvoorrade vanjaar en volgende jaar, en gevolglik moontlik laer pryse.

Plaaslike garsverbouing het die afgelope paar jaar sodanig toegeneem dat Suid-Afrika amper selfvoorsienend ten opsigte van moutgars is, en selfs onlangs kon gars uitvoer.

Daar word verwag dat AB InBev se aan- kope van die garsoes van 2021 aansienlik laer gaan wees omdat beperkings op alkoholverbruik gedurende die Covid-19-inperkingstyd mout- en broubedrywighede tot stilstand gedwing en voorrade laat toeneem het.

Mnr. RD Erasmus van die plaas Fonteinskraal by Caledon sê die mooiste oes die afgelope 23 staan vanjaar daar. Dit is nog vroeg, maar hulle verwag ’n garsoes wat vanjaar heelwat groter is as die mandaat vir aankope wat die garskoper vanjaar aangekondig het. “Dit kan gebeur dat ’n groot deel van die gars as voergars verkoop sal moet word.”

Erasmus sê gars is ’n baie goeie veevoer, maar meen die gehalte het sodanig verbeter dat die prys darem beter moet wees as die huidige 80% van die mielieprys. Wat hulle kan help, is as AB InBev vanjaar die verwagte surplus ook kan opneem, al neem hy volgende jaar minder in.

“Oor volgende jaar se aanplantings het ons beheer, maar ná die afgelope paar droë jare het ons ’n finansiële hupstoot nodig. ’n Goeie garsoes wat as moutgars ingeneem word, sal baie daartoe bydra.”

Van Papendorp sê gelukkig het AB InBev betyds begin om met die boere te kommunikeer oor hoe hy sy inname van moutgars vir die 2021-oes gaan verminder. “Ek weet hoe hy daarby uitgekom het, maar ek dink die voorgestelde 50%-verlaging in inname is dalk oordrewe.” Hy is tog dankbaar dat die maatskappy boere betyds laat weet het dat hulle hul produksiebeplanning vir volgende jaar kan doen.

MEER KORING GEPLANT

BFAP verwag dat die Wes-Kaap se bydrae tot Suid-Afrika se koringoes vanjaar 65% gaan wees. Met ’n relatief hoër koringprys en aansienlik verminderde moutgarsaankope deur AB InBev in 2021, word daar verwag dat koringaanplantings in die Wes-Kaap op kort termyn gaan toeneem.

Oor die tien jaar van sy vooruitskouing verwag BFAP egter dat dit bietjie gaan inkrimp en dat daar teen 2029 net 310 000 ha koring in die provinsie geplant gaan word. Die rede daarvoor is dat sy projeksies toon dat gars- en kanola-aanplantings tot onderskeidelik 117 000 ha en 91 000 ha gaan styg.

Die oppervlakte onder koring in die Vrystaat gaan teen 2029 op sowat 100 000 ha stabiliseer. BFAP verwag nie dat koring- en garsverbouing met onderskeidelik meer as 12% en 10% in die besproeiingsgebiede gaan toeneem nie.

BFAP se projeksies toon dat die koringopbrengs die vinnigste in die Wes-Kaap gaan styg. Hy verwag ’n verbetering van 38% teen 2029 danksy ’n verbetering in tegnologie. Hy waarsku egter dat die styging vergeleke met die opbrengs van 2017 tot 2019 is, waarvan twee jaar droog was.

WAT SÊ DIE BOERE?

Mnr. Gerhard Bruwer van die Genade-boerdery by Douglas sê hy is optimisties oor die produksiekant van koringverbouing onder besproeiing, veral omdat daar opwindende nuwe kultivars is. Hy betreur egter die gesloer met die afkondiging van hoër tariewe op ingevoerde koring.

Hy sê as boere ’n billike prys kry, sal dit nie nodig wees om so baie koring in te voer nie. “Ek hou van die koringbedryf, maar ons moet darem geld kan maak. Die huidige Safexprys van R4 849/t is ’n goeie prys. As dit met sowat 6% per jaar kan styg, het ons goeie vooruitsigte.”

Hy sê as die prys reg is, sal boere meer koring verbou en sodoende plattelandse ekonomieë en werkskepping versterk. “In dié stadium skep ons werk in ander lande waar boere dikwels subsidies van hul regering kry.”

Mnr. Cobus Bester van die UD-boerdery by Moorreesburg sê as boere volhoubaar winsgewend met droëlandkoring wil boer, sal hulle die koste per ton in toom moet hou. “Dit is waar ’n langrotasiestelsel wat ’n peulgewas en dekgewasse insluit, jou baie kan help. Die punt is steeds dat jy in die swakste klimaatsjaar nie met oorlaatproduksieskuld moet sit nie. Boer dus met ’n stelsel op jou plaas wat jou pas om bogenoemde reg te kry, dan sal jy oorleef.”

Mnr. Marius Coetzee wat by Thabazimbi met koring, katoen en gars onder besproeiing boer, sê hy is baie opgewonde oor hoe goed gars by hulle vaar. Hy het vanjaar vir die tweede keer gars geplant, en vind dat dié gewas makliker is om te bestuur en “meer vergewensgesind” as koring is.

“Ons is nog in ’n beginfase, maar ons ervaar dat die gars die natrium in ons besproeiingswater en koue beter verdra. Ons kry beter garsopbrengste ná katoen as met koring. Boonop is die insetkoste van gars- produksie laer.”

DALK MINDER INVOER?

Suid-Afrika gaan in die volgende tien jaar ’n netto invoerder van koring bly.

Hoewel BFAP se vooruitskouing toon dat die hoeveelheid koring wat ingevoer word, aanvanklik gaan toeneem tot bo die vlak wat dit vanjaar is, gaan dit nooit tot meer as 52% wat dit gemiddeld van 2017 tot 2019 was, styg nie.

Die BFAP-ekonome verwag dat Suid-Afrika teen 2029 46% van sy koringbehoefte sal moet invoer.

Die rede daarvoor is dat Suid-Afrika teen 2029 25% meer koring sal produseer as in 2017-2019. Eweneens verwag hulle dat die vraag na koring nie so drasties sal toeneem nie omdat verbruikers se koopkrag in die swak ekonomie verswak het en vanweë mededinging met mielies.

“Die stadige herstel van koopkrag gaan veroorsaak dat koringverbruik eers weer teen 2023 op die vlak gaan wees wat dit in 2019 was. Teen 2029 sal koringverbruik 11% hoër wees as in die 2017-2019-basistydperk.”