In die Swartland is oeste min of meer gelyk aan die oeste wat gemiddeld in die eerste vyf jaar ná 2010 behaal is. Te min warm, droë dae bemoeilik egter die oesproses en benadeel garskwaliteit.

Mnr. Abrie de Wet van GAF Boerdery by Caledon wat al sowat 40% van sy graan geoes het, sê tot dusver is die kanola-, gars- én koringopbrengste “ver bo die gemiddelde”.

Soos die meeste ander boere in die oostelike graangebiede van die Wes-Kaap sukkel hy met 20% gebarste pitte by gars. Sodra daar meer as 1% gebarste pitte in ’n vrag gars is, word dit as voergars gegradeer. Voergars se prys is sowat die helfte van wat boere vir moutgars sou kry.

Hoewel die hektolitermassa by koring baie goed is, gradeer die koring B2 en B3.

De Wet sê dis ’n moeilike oestyd. “Ons sukkel met die weer, dis te koud. Ons sukkel om die graan droog te kry.”

Opbrengste hoof, maar barspitte pla

Vanjaar is ’n baie goeie jaar in sy gebied, sê mnr. Andries Duminy van die plaas Somona by Heidelberg. “Dis ’n laat jaar en dis nogal ongewoon, maar die laat graan vaar vanjaar aansienlik beter as die graan wat vroeg geplant is.”

In daardie omgewing behaal boere kanola-opbrengste van meer as 2 t/ha. Hy skryf dit toe aan die koel weer wat hulle in September en Oktober gehad het.

Hulle het verlede week altesaam 17 mm reën oor twee geleenthede gekry, maar elke keer het die wind die graan droog gewaai sonder dat daar skade was.

Hulle het ook ’n groot probleem met gebarste pitte by gars. Hy dink net 60% van sy gars sal moutgraad wees. Daar is boere wat niks moutgraad geoes het nie. Hulle weet ook nou dat Elim die kultivar is waarvan die minste pitte bars.

Duminy sê hul koring gradeer baie goed, meestal supergraad en B1.

Twee weke later

Mnr. Cobus Bester van UD Boerdery by Moorreesburg sê hulle het begin November begin oes en moet nog twee derdes van hul lande oes. “Die oes is twee weke later as gewoonlik.”

Die opbrengste wat hulle behaal, is gemiddeld, maar die proteïeninhoud is laag en lae hektolitermassas laat val die gradering wat die koring behaal.

Mnr. Tienie Theunissen van die plaas Drayton by Caledon sê hulle het ’n “fantastiese” kanola-oes behaal, maar sukkel met die uitwerking wat die nuwe garsbemarkingsplan op garsgradering het.

Hulle het in die eerste week van November 35 mm reën gekry, maar dit het nie juis ’n uitwerking gehad nie. Nog reën is middel November verwag.