Die oes van droë mielies – heelwat droër as Suid-Afrika se oorsese eweknieë waar baie van die toerusting hul oorsprong het – het die MD Foundation van Ficksburg hoofbrekens besorg. Die opeenhoping van oesreste op ’n stropertafel het kosbare werktyd laat verlore gaan.

Uit radeloosheid oor wat na ’n kultivarprobleem gelyk het, het die verskaffer van saad besef mnr. Theunis Pretorius se probleem is eerder ’n ontwerp-kwessie. Hy kon Pretorius verwys na ’n vindingryke oplossing op ’n buurplaas. Die gevolg is ’n verfyning van ’n plan met dubbele harkvingers weerskante van die awegaar wat plantmateriaal vinniger verwerk.

MD Foundation, een van die groot suksesverhale van saamwerk en omkeer, is in 2010 gestig toe die belange van mnre. Jacques en Xavier Moll (Mollshoop), Theunis en Gert Pretorius (onder meer Smaldeel), Hannes Pretorius (Gedenktrust) en Friedel von Maltitz (Saxon Farms) saamgevoeg is.

MD Foundation se stropertafels is destyds van van vier tot ses rye opgegradeer. “Tóé het ons gedink die sesry is groot. In 2014 het ons na twaalf rye oorgeskakel,” sê Theunis. “Die groot probleem het egter ’n jaar of wat later ontstaan toe ons ’n tweedehandse 16-ry-tafel in die hande gekry het.”

Die awegaar se lemme van die John Deere 616C-model was al effens weggeslyt en dit het nie die droë plantmateriaal vinnig genoeg weggevoer nie. Die oesreste en mielieblare, wat van die kante van die stropertafel met die awegaar deurgevoer word, het gevolglik in die middel van die tafel opgehoop en ’n verstopping veroorsaak. “Die probleem is egter nie net tot bepaalde kultivars beperk nie, maar dit duik ook in sekere oesjare met wisselende produksietoestande op.”

Mnr. Theunis Pretorius van MD Foundation by Ficksburg.
Die plasing van die twee stelle staafvingers wat afgewissel word om enige verstopping van materiaal teë te werk.
Droë oesreste wat duidelik in die middel van die stropertafel versamel word, maar wat deur die harkvingers onder bedwang gehou word.

Eiesoortige plaaslike toestande

Theunis meen die meeste gewilde stropermodelle vir Europa en Noord-Amerika word ontwerp waar produsente mielies natter oes as in Suid-Afrika. “Die plaaslike mark is só klein dat dit nie spesiale aanpassings van vervaardigers regverdig nie.”

Hy was in oestyd teen einde Julie vanjaar só radeloos dat hy mnr. Rossouw Grobbelaar, die Oos-Vrystaatse verteenwoordiger van Pannar, gebel het om te sê hy sou nie meer ’n spesifieke kultivar kon plant nie. Grobbelaar het onmiddellik gesnap wat die verstopping veroorsaak en het hom vertel van ’n praktiese oplossing van mnr. Cobus van Zyl van die Van Zyl-familietrust, op die plaas Prairie by Ladybrand.

Cobus en sy pa, Theo, het die opeenhoping van oesreste in die middel van die stropertafel teëgewerk deur harkvingers aan weerskante van die middelpunt van die awegaar aan te bring. Daarmee word die oortollige plantmateriaal vinniger weggewerk en die stroper kan die oesproses teen ’n hoër snelheid afhandel.

Die stropertafel met die harkvingers van voor af gesien.
Die plasing van die staafvingers ten opsigte van die vloerplaat van die awegaar wat nog genoeg ruimte bied sodat die stawe nie onderdele van die stropertafel beskadig nie.
Mnr. Stefan Pretorius, Theunis se seun wat ná bykans ’n jaar se werksondervinding in Amerika na die boerdery teruggekeer het. Sy ondervinding met oeswerk is nou goud werd vir MD Foundation.

Aanpassing kan afgebout word

MD Foundation se meganisasiespan onder leiding van mnr. Gerrit Pretorius het met behulp van foto’s die harkvingers aangepas. Die twee stelle is toe elk 300 mm breed teenoor Cobus se ontwerp van onderskeidelik 250 mm en 200 mm breed. Die vier staalstawe van 20 mm in deursnee word aan ’n strook platyster van 300 mm x 10 mm vasgesweis wat op sy beurt aan ’n soortgelyke basisstrook vasgebout word.

Die basis word met ’n stukkie platyster op die hoeke versterk. Die punte van die stawe is in die draairigting van die awegaar gebuig om as ’n doeltreffende hark te dien. Die tandstelle met vier staaltande wat aan die voorpunt gebuig is, kan ook van die basishegting afgebout word indien die harkvingers onnodig is.

Volgens Theunis verloop die oesproses gewoonlik soggens vlot, maar soos dit ná die middaguur begin warm word, begin die oesreste op die stropertafel ophoop. Met die aanpassing op die stropertafel aangebring, kon sy span moeiteloos werk. Ná die aanpassing was die omwenteling van die stroperawegaar sowat 550 per minuut teenoor die gebruiklike 650 per minuut. “Die voordeel van die laer omwentelinge is dat die pitte nie meer so kwaai rondspat nie,” sê Theunis.

Die stroper se werkspoed is sowat 7-8 km/h teenoor die 4-5 km/h van tevore. Die 16-ry-tafel kan maklik gemiddeld 9 ha/h handhaaf. Die gemiddelde opbrengs is 5,9 ton/ha en die voginhoud van die mielies sowat 15%.

’n Video van Theunis waarin hy die vurktande by sy vriende op sosiale media aanbeveel, het gunstige reaksie uitgelok met verskeie produsente wat sy raad volg.


Navrae: Mnr. Theunis Pretorius, e-pos: theunis@mdfoundation.co.za; 083 451 0613.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.