Van die redes hiervoor sluit in groter wisselvalligheid weens klimaatsverandering, die moontlike uitwerking van minder kweekhuisgasse weens die inperking tydens die Covid-19-pandemie, ’n natuurlike variasie in klimaat met soortgelyke jare met ’n meer sikliese uitwerking wat al voorheen só aangeteken is, en die gekombineerde stand van die Enso (El Niño Suidelike Ossilasie) en Indiese Oseaan Dipool-(IOD) indeks. Só sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige.

WINTERREËN

Ná swaar reën in Julie het reënvooruitsigte verswak. Dit verbeter eers weer aan die einde van die eerste week in Augustus, met ligte reën wat dan oor die Suid-Kaap moontlik is, sê Van den Berg.

Vooruitsigte vir reën oor die Swartland en verder teen die Weskus is eers weer in die derde week van Augustus moontlik. “Dit wil voorkom asof die reënpatroon in Augustus en September gaan begin skuif vanaf die Suidwes-Kaap meer na die Suid-Kaap. Dit is nie goeie nuus vir die Swartland en omliggende gebiede nie, maar verblydend vir onder meer die wintergraanboere van die Suid-Kaap.

“Baie min of geen reën word ook verwag vir die res van die land en Namibië tot ten minste middel Augustus.”

Gevolglik het die risiko vir koue en nat toestande vir kleinvee- boere wat hul vee moet skeer, aansienlik verminder. “Die volgende paar weke kan ’n goeie geleentheid wees voor die kans vir somerreën verbeter, dus moet daar nou eerder vroeër as later geskeer word,” sê hy. “Dit is egter belangrik om korttermynvoorspellings dop te hou vir vinnige veranderinge.”

SOMERSAAIGEBIEDE

Van den Berg wys daarop dat Bothaville se winter vanjaar die tweede koudste was sedert 2000, gegrond op die aantal dae met temperature onder vriespunt. “Sedert die aanvang van die winter het 51 dae met ryp voorgekom vanaf die begin van die winter tot einde Julie. Slegs in 2007 het daar meer dae met ryp voorgekom, en dit was 54 dae.

“Hoewel dagtemperature oor somerreëngebiede reeds begin styg het, sal minimum of nagtemperature nog koel tot koud bly en kan ryp steeds verwag word oor veral die sentrale tot suidelike binneland en laergeleë gebiede, tot minstens einde Augustus. Die laaste ryp in die sentrale tot suidelike binneland word eers teen middel tot einde September verwag.

“Grondtemperature is ook laag ná die koue van die afgelope maande. Somergewasse moet eers aangeplant word wanneer grondtemperature begin styg en die risiko vir ryp baie laer is,” sê Van den Berg.