Dit gaan oor verskillende instellings wat almal ’n eier te lê het oor die bekendmaking van ’n lys of lyste wat ter sprake is by onteiening sonder vergoeding.

Die bom het gebars toe die burgerregte-organisasie AfriForum ’n lys van 195 plaasname in spesifieke distrikte bekend gemaak het as die sogenoemde lys van plase wat die ANC oormerk vir onteiening sonder vergoeding. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het dit dadelik as ’n “fiktiewe lys” bestempel.

Die werklike “lys” is een wat die Regering wil gebruik as ’n toetssaak ingevolge huidige wetgewing om te kyk of die waarde wat die grondwaardeerder-generaal vir grond aanbied, aanvaar sal word nadat die staat en eienaars nie oor vergoeding ooreen kon kom oor bestaande eise nie.

Daar is nou talle oproepe dat die Regering dié lys bekend moet maak, maar Manie verstaan daar is regsprosesse wat gevolg moet word – soos om eienaars tyd te gun om op ultimatums te reageer. Feit bly staan – altesame 195 plaasname met distrikte en titelaktes (weliswaar met foute op) is bekend gemaak.

Iemand moet verduidelik waar die lys vandaan kom. Is dit totale fopnuus om net gemoedere op te jaag of is dit dalk ’n “wenslys” van toekomstige plase wat vir onteiening om verskillende redes geoormerk is? Sommige mense sê dit is onverantwoordelik om die lys bekend te maak sonder om eers die betroubaarheid te bevestig.

Ander sê nee, maak dit bekend dat almal weet en aandring op verduidelikings.

Wie skep verwarring?

Al wat Manie wel weet, is dit skep groot onsekerheid en verwarring. Onmiddellik was daar stories van plase wat geoormerk was weens die minerale wat ontgin kan word, die feit dat die grond afbetaal was en die feit dat politici hul oog daarop het. Manie wil darem ook net van sy kant af vir almal herinner wie eerste verwarring gesaai het.

Was dit nie die staat wat aanvanklik aangekondig het dat hy ’n klomp plase geïdentifiseer het vir onteiening sonder vergoeding en dit toe net daar gelaat het nie? Manie sien net een rede waarom só ’n aankondiging gemaak sou word sonder om verdere besonderhede te verskaf. Dit is om politieke munt daaruit te slaan.

Dit is presies hier waar die gevaarligte vir Manie helderrooi flikker, naamlik die onverantwoordelike gebruik van die grondkwessie vir politieke gewin. Die bereidwilligheid om die ooreenkoms wat in 1994 bereik is om private eiendomsreg te eerbiedig by die venster uit te gooi ter wille van politieke punte, is ’n bitter gevaarlike speletjie wat net sleg kan eindig.

Winkelsentrums en leeu-aktiviste

Saterdagoggend onthou Manie weer hoekom ’n mens nie onnodig stad toe gaan nie. By ’n winkelsentrum waar daar in enige van die honderde klerewinkels op een slag soveel mense is as wat verlede Saterdag by die Hervormde Kerk se basaar was, storm ’n jong kêrel met ’n kop vol kuif op Manie af en nooi hom om betrokke te raak in die stryd teen leeujag.

Manie se vrinne weet almal hy het min ooghare vir leeus. Hulle is mooi in hokke by die dieretuin of op ’n wildbesigtigingsrit in die veiligheid van ’n voertuig. Om met jou ou .303 in die veld te loop op soek na ietsie vir die pot en dan op Vuilbaard en sy familie se spore af te kom, is ’n heel ander ervaring.

In die veld is jy deel van die voedselketting en jou ou roer voel skielik baie klein. Deesdae is dit nie meer vreemd om te hoor van ’n rondloperleeu wat sommer vlak by ’n dorp of stad loop en prooi soek nie. En, moenie ’n fout maak nie. Leeus loop nie rond vir die oefening nie. As hulle loop, soek hulle prooi.

Nou wonder Manie hoeveel van die geld vir “ondersteuning” wat die knaap aan die Oosrand só saam met sy span anti-leeujag-aktiviste insamel, word gebruik om kos te koop vir die leeus wat hulle kamtig van nare jagters wil “red”. Weet die klein radikale groene dat leeus nie groente of vrugte vreet nie?

Elke leeu vreet maklik tot 15 kg vleis per dag. Waar koop hulle vleis vir die leeus? By supermarkte, slaghuise, voerkrale of regstreeks by boere? Wie doen die slagwerk, of gee hulle die kos lewend vir die leeus? Het Kuifie en sy maats besluit watter arme diere dan nou minderwaardig is om geskiet te word vir leeukos?

Dit laat Manie dink aan die kêrel wat eens die hele land vol gestap het om geld in te samel vir die beskerming van renosters. Nadat mense drie maande lank hul huise, harte en beursies oopgemaak het, bel ’n kollega van Manie die arme renoster-redder se “bestuurder” om te hoor wanneer word die geld oorhandig en aan wie.

“Nee,” sê die vent. “Ná al die salarisse en reiskoste van die ondersteuningspan en die stapper gedek is, was daar ongelukkig geen wins uit die projek uit nie.” Arme renosters! ’n Mens kan maar net hoop daar is darem iets oor om vir minstens een leeu ’n stuk vleis te koop as Kuifie en sy span klaar salarisse gekry het.

Betaal maar

’n Stedeling jaag op ’n plaaspad en ry ’n kalf dood wat oor die pad stap. Die motoris gaan verduidelik aan die boer wat gebeur het en bied aan om vir die skade te vergoed.

“Wel,” sê die boer. “Vandag is hy R2 000 werd, maar oor ses jaar sou hy R20 000 werd wees. Jy skuld my dus R20 000.” Sonder ’n woord skryf die motoris ’n tjek uit en oorhandig dit.

“Hier is die tjek vir R20 000. Ek het dit vooruit gedateer vir ses jaar van vandag af.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.