Die witborskraai, Corvus albus, is ’n bekende gesig in die Suid-Afrikaanse landskap. Daar is egter aanduidings dat hul getalle beduidend gestyg het, veral in die suidwestelike dele van Suid-Afrika. Kommer bestaan dat dit biodiversiteit kan benadeel omdat die kraaie roofvoëls teister (veral die ikoniese witkruisarend) en ander voëls se eiers en kuikens aas.

Ander diere wat dit ontgeld, is paddas, slangetjies en veral klein skilpadjies. Mnr. Nollie Lambrechts, ’n boer van Ceres, het in 2012 ’n broeipaar witborskraaie se nes op ’n ou windpomp in die Ceres-Karoo bestudeer. Hy het gevind die kraaie het 160 skilpadjies aan hul vier kuikens gevoer. In die volgende jaar is 315 skilpaddoppe onder die nes opgetel!

Boere is ook bekommerd oor die skade wat kraaie by skaapkuddes aanrig omdat hulle ooie tydens lamtyd pla en jong lammers se oë uitpik. Dié voorbeelde van skade behoort deeglik ondersoek te word. Navorsing deur Arjun Amar en Susan Cunningham van die Percy FitzPatrick-instituut vir Afrika-ornitologie aan die Universiteit van Kaapstad bevestig ’n toename in witborskraaigetalle in die suidweste van Suid-Afrika. In die noorde en ooste van die land het hul getalle egter gedaal.

Die kraaie het 160 skilpadjies aan hul vier kuikens gevoer.

Klimaatsverandering en kragmaste

Die navorsing toon dat dit met klimaatsverandering verband kan hou. Vergelykende studies oor ’n tydperk van 20 jaar toon aan dat die toename in kraaigetalle veral in die Karoo en in fynbos-habitatte beduidend is. Witborskraaie verkies habitatte met ’n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 19 °C – en dit is waarheen temperature in die suidwestelike dele van Suid-Afrika op pad is.

Die afname in witborskraaigetalle in die noordoostelike dele van die land hou waarskynlik verband met die geleidelike daling in temperature. Die landskappe waar kraaigetalle toeneem, bestaan hoofsaaklik uit struikgewasse met min natuurlike bome. Die beskikbaarheid van kragmaste in hierdie droë dele blyk ook baie voordelig vir die kraaie te wees – dit laat hulle toe om neste in ’n byna boomlose landskap te bou.

Die navorsing het bevind dat ’n kombinasie van klimaatsverandering en die beskikbaarheid van die kragmaste dus die belangrikste verklarings vir die toename in hierdie voëls se getalle in die suidweste is.

Navorsing nodig 

Mense is wêreldwyd agterdogtig oor kraaie en oor eeue heen word ongunstige kenmerke aan hulle toegedig. Daar is gereeld versoeke, veral uit die landbougemeenskap, om kraaie se getalle te beheer. Navorsers maan egter dat aannames oor die nadelige impak wat witborskraaie op biodiversiteit kan hê, met omsigtigheid hanteer moet word.

BirdLife Suid-Afrika vra in ’n verklaring om dringende wetenskaplike navorsing om hierdie verskynsels beter te verstaan en om die graad van kraaie se bedreiging vir natuurlewe in die algemeen en veral ander inheemse voëls in die streek te bepaal. Drie spesifieke kwessies word vir sulke studies uitgestippel.

Eerstens moet die impak van kraaie op die broeisukses van bedreigde roofvoëls, hetsy deur mededinging om prooi, die verwildering van voëls wat jag of die roof van kuikens, beter verstaan word. Tweedens moet die impak op die broeisukses van kleiner voëlsoorte – veral dié wat op die grond broei – nie onderskat word nie. Laastens behoort kraaie se impak op kleiner reptiele, soogdiere en paddas ook bestudeer te word. Die doel van die navorsing is om die oorsake van dié probleem te probeer verstaan in ’n poging om sinvolle en weten- skaplik verantwoordbare oplossings te vind.

Ander sondaars

In dié verband is die witborskraai egter nie die enigste sondaar nie. Die withalskraai, Corvus albicollis, en swartkraai, Corvus capensis, het ook ’n impak op biodiversiteit deur hul natuurlike gedrag as aas- of roof- voëls. Die transformasie van landskappe en klimaatsverandering kan dalk veroorsaak dat dié voëlsoorte ook ’n nadelige impak het.

Ek het gehoor van gevalle in Langebaan en Stanford waar withalskraaie ook skilpadjies vang. Daar is bevind dat die swartkraai se verspreidingsgebied ook besig is om te vergroot. Dit is dus belangrik om die impak wat al drie die kraaisoorte op biodiversiteit kan hê, beter te verstaan. BirdLife Suid-Afrika ondersteun nie die beheer of vergiftiging van enige van die kraaisoorte nie. Ingrypings in dié verband kan slegs voorgestel word as wetenskaplike bevindings aandui dat dit nodig is.

Wêreldwyd reageer diere en plante op klimaatsverandering deur hul verspreidingsgebiede en gedrag te verander en dit het ’n impak op hul getalle. Klimaatsverandering is ’n gegewe en totdat die impak daarvan beter verstaan word, sal die beheer van kraaie debatteerbaar bly. ’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.

  • Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg en die Wes-Kaapse Voëlforum. Hy woon op Hermanus.