Al het party van die paaie ’n bietjie slaggate daarin, is enige volbloedboer nou al aan plattelandse paaie in Suid-Afrika gewoond en Manie glo dit sal niemand ontmoedig nie. Tewens, die verwagting is dat verlede jaar se rekord van 78 648 besoekers oortref sal word.

Vanjaar se 740 uitstallers is ook die meeste tot nog toe. Die eerste Oesdag is in 1967 op die plaas Donkerhoek naby Bloemfontein gehou en 200 boere het dit bygewoon. Daarna is dit op verskillende plase aangebied tot dit in 1974 ’n permanente tuiste 15 km buite Bothaville gevind het.

Sedertdien was die groei allemintig en vandag is dit sekerlik die grootste landbou-tentoonstelling in die Suidelike Halfrond wat in private besit is. Volgens Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, is vanjaar se tema “Doeltreffendheid met tegnologie” en ’n groot verskeidenheid nuwe tegnologie, produkte en dienste sal te sien wees.

Uitstallers van onder meer Israel, Pole, Engeland, Amerika, Argentinië, Indië, Frankryk, Italië, Denemarke, China, Turkye en Rusland neem deel. As die skou in ’n stad aangebied was, sou dit dalk nie so indrukwekkend gewees het nie. Nampo word egter op ’n plaas tussen Orkney en Bothaville gehou waar die infrastruktuur deur Graan SA geskep en onderhou moes word.

Dit behels alles van elektrisiteit en watervoorsiening tot geboue en paaie. Om ’n paar syfers te noem: Die terrein se oppervlakte is 209 000 m² groot, waarvan 17 000 m² onderdak is; daar is 26 000 m² se plaveisel, 5 km se kragkabels, 14 transformators, 9 boorgate en waterverbruik van 450 000 l per dag en 23 eetplekke.

Geweld voer ál meer hoogty

Meer as 30 vragmotors word op die N3-tolpad in KwaZulu-Natal geplunder en aan die brand gesteek; in Noordwes word dorpe in chaos gedompel en geboue aan die brand gesteek; by Fort Beaufort in die Oos-Kaap verloor honderde mense hul werk nadat ’n sitruspakhuis afgebrand word, en Kaizer Chiefs-ondersteuners maak amok in Durban.

Dít is alles tekens van ’n ontstellende en toenemende neiging van gemeenskappe wat hulle wend tot brandstigting, geweldpleging en plundery om hul ontevredenheid te toon. Hoe meer dit gebeur, hoe gouer versprei dit soos ’n veldbrand deur Suid-Afrika.

Manie sien een van die jongste brandpunte was toe rassegeweld op die Kaapse Vlakte uitgebreek het nadat swart plakkers na bewering ’n groentestalletjie van ’n geliefde groentesmous afgebrand het toe hulle oor dienslewering getoi-toi het.

’n Kitsbank en ’n vragmotor het ook in die slag gebly. Dié verwoesting van eiendom en die vraag oor wie eerste behuising moet kry, het kwaai spanning laat oplaai tussen die bruin mense van die Mitchells Plain-gemeenskap en die plakkers in die omgewing.

Die rassebotsing het nou die bendes laat opstaan om hulle gereed te kry om húl “vlakte” te verdedig teen die “swart indringers” van die Oos-Kaap. Hulle sê dit is al geslagte lank hul grond en hulle sal saamstaan om dit te beskerm. Dit klink na ’n tikkende tydbom.

Dit is maar een voorbeeld van die gevolge van onwettige grondgrype wat in ’n plofbare situasie ontaard het. Oor die geweld wat met grondgrype gepaardgaan, het pres. Cyril Ramaphosa gesê die Regering sal nie toelaat dat Suid-Afrika weens die grondkwessie in anargie gedompel word nie. Mense moet eerder sinvol deelneem aan die gesprekke oor grondhervorming. Manie hoop mense luister na die President . . .

Nuwe Sacau-leier

Dok Theo de Jager tree vandeesweek uit as voorsitter van die Suider-Afrikaanse konfederasie van landbou-unies (Sacau) nadat hy dié posisie sedert 2013 beklee het. Benewens die feit dat hy die eerste Suid-Afrikaner was wat Sacau gelei het, was hy van 2014 tot 2017 ook die eerste Suid-Afrikaner om die Pan-Afrika-boerevereniging (Pafo) te lei.

Hy was ook die eerste Suid-Afrikaner wat die voorsitter van die wêreld-boereorganisasie (WFO) was. Manie hou sy betrokkenheid by hierdie organisasies nog altyd fyn dop en is trots op die manier waarop hy Suid-Afrika se naam hoog hou.

Sy geesdrif waarmee hy nuwe oplossings vir Afrika se landbouprobleme gesoek het en die manier waarop hy die landbou se kwesbaarheid teen klimaatsverandering op internasionale verhoë in die kollig geplaas het, is alombekend.

Sy pogings om ’n werkbare internasionale versekeringskema vir die landbou op die been te bring waarby landbou-unies ook finansieel baat kan vind, is nóg ’n voorbeeld van sy belangrike rol. Sacau is tans van die sterkste landboustreeksorganisasies ter wêreld en geniet erkenning én vennootskapstatus van verskeie internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies, die Europese Unie, die Afrika-unie, die Nuwe Vennootskap vir Ontwikkeling in Afrika (Nepad), die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeen- skap en die WFO, ontwikkelingshulpagentskappe, soos Agricord, Agriterra, We Effect, die Andreas Hermès-akademie en die Verenigde Nasies se Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling, en filantropiese bemagtigingstrukture in die private sektor, soos die Bill en Melinda Gates-stigting.

Onder Theo se voorsitterskap het Sacau homself as ’n betrou- bare rentmeester, kanaliseerder en moniteerder van buitelandse ontwikkelingshulp gevestig en landbou-unies in Madagaskar, Swaziland, Lesotho, Botswana en die Seychelle geskep of versterk. Konsensusstandpunte wat tot beleidsontwikkeling gelei het, is bereik oor grondeienaarskap, GMO’s, klimaatsverandering, landboufinansiering en digitalisering in die landbou.

Sacau het ook sy eie gebou naby die Gautrein-stasie in Centurion gekoop. Theo sê hy het ná meningsver- skille en ’n poging om sy lidmaat- skap te beëindig verlede jaar die bestuur van Agri SA in kennis gestel dat hy nie verder as sy verteenwoordiger in Sacau beskikbaar is nie en as voorsitter gaan uittree.

Hy verteenwoordig Zimbabwe se boere by die WFO waar hy hom einde vandeesmaand op die organisasie se jaarvergadering verder gaan beywer vir ’n versekeringsgedrewe lidmaatskapsmodel vir landbou-unies wat wêreldwyd toegepas kan word.

Groot geeste oorlede

Twee groot geeste in die landbou is verlede week oorlede en Manie dra sy en Landbouweekblad se medelye oor aan hul naasbestaandes. Mnr. Schalk Pienaar (68), voorsitter van die landbousakekamer Agbiz, en voormalige uitvoerende hoof van Suidwes Landbou, is Sondag 6 Mei aan ’n hartaanval oorlede.

Hy was sedert 2010 voorsitter van Agbiz en was van 2001 tot 2012 uitvoerende direkteur van die Suidwes Groep. Verlede Maandag is mnr. Lullu de Jager, voormalige hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, op 79-jarige ouderdom oorlede nadat hy verlede maand ’n noodoperasie vir bloeding op die brein ondergaan het.

Netwerk24 het op 17 April berig hy is in die hospital opgeneem nadat hy nie meer kon praat nie. De Jager het die afgelope ses jaar aan prostaatkanker gely. Al was hy afgetree, het De Jager hom nog besig gehou met navorsing oor grondhervorming.

Gevaarlik om te eet

Ná die herrie oor polonies en listeriose het navorsers nóg ’n voedselsoort geïdentifiseer wat steeds groot pyn en lyding veroorsaak – selfs jare nadat jy dit geëet het: Troukoek!