Acalitus vaccinii kom reeds voor in die omgewing van Amsterdam, Lydenburg en Dullstroom in Mpumalanga. Die myte leef binne-in die blomknoppe en is te klein om met die blote oog te sien. Dit veroorsaak abnormale groei.

Die besmette blomknoppe vorm rooierige, rosetagtige galle pleks van bessies, en laat die knoppe vrek. By ernstige besmetting mag blomknoppe verlep en vrek selfs nog voor hulle blomme begin vorm.

Die navorsing wat dr. Charnie Craemer van die Landbou-Navorsingsraad by Roodeplaat in Pretoria oor die plaag gedoen het, is onlangs in die vakjoernaal Acarologia gepubliseer.

Op die plaas waar sy die meeste van haar navorsing gedoen het, het die myt veroorsaak dat die bloubessie- opbrengs van amper 50 ton in die 2011-’12-seisoen tot sowat 10 ton in die 2014-’15-seisoen verminder het. Die plaas en die produsent se identiteit word nie in die studie genoem nie.

VATBAARHEID

Volgens Craemer se navorsing van wetenskaplike literatuur is nie alle bloubessie-kultivars ewe vatbaar vir A. vaccinii nie. “Die meeste kommersiële produsente in die land is in die Wes-Kaap, en verbou relatief nuwe kultivars, soos Bluecrisp, Star, Emerald, Jewel en Snowchaser. A. vaccini kan skadelik wees vir Bluecrisp, en kan in groot hoeveelhede op Star voorkom.”

Die isolasie of kwarantyn van dié knopmyt is in dié stadium onmoontlik.

Sy sê as in ag geneem word dat die Wes-Kaap met sy Mediterreense klimaat veel warmer winters as die Mpumalanga-Hoëveld het, sou die pes baie goed daar kon aard indien dit na die Wes-Kaap sou versprei.

Volgens haar navorsing is geen pesdoder geregistreer vir die beheer van knopmyte op bloubessies in Suid-Afrikaanse toestande nie, maar snoei mag ’n beheer-opsie wees. Biologiese beheer van A. vaccinii is nog kwalik bestudeer, en is waarskynlik nog nie ’n opsie in Suid-Afrika nie.

“Die isolasie of kwarantyn van dié knopmyt is in dié stadium onmoontlik of moeilik omdat dit hoofsaaklik deur wind versprei word. Die skade wat met die eerste voorkoms van die pes verband hou, dui egter daarop dat aktiewe monitering van verboude bloubessies voortaan nodig sal wees,” skryf Craemer.

Dit is nie duidelik presies hoe die myt Suid-Afrika binnegekom het nie. Craemer meen dit kon via ingevoerde kweekmateriaal gewees het, maar dit is onseker in die lig van Suid-Afrika se streng fitosanitêre maatreëls. Lees Craemer se volledige studie by hier.