In reaksie op mnr. Donald Trump, die president van Amerika, se vroeëre lys van invoertariewe op Chinese goedere, het China nou teruggeslaan met sy eie tarieflys. Die Chinese se lys sluit nou ook heelwat belangrike Amerikaanse landbou-uitvoerprodukte in, onder meer sojabone, katoen en bevrore beesvleis.

Mnr. Luan van der Walt, ’n ekonoom van Graan SA, sê hoewel die handelsoorlog al geruime tyd duur, was sojabone nie aanvanklik deel van die pakkie goedere waarop China gedreig het om invoertariewe te hef nie.

Die grootste uitwerking op landboumarkte is die feit dat China, as grootste verbruiker van dié gewas, en Amerika, wat die grootste produsent is, die vloei van sojabone nou vir mekaar moeilik maak.

In Amerika is daar juis tans groot sojaboonvoorrade beskikbaar nadat dié land die laaste twee jaar rekord-oeste gelewer het.

Hierdie nuwe druk op die handel plaas dus outomaties ook druk op internasionale pryse. Dit sluit Suid-Afrika in, hoewel die land ’n veel kleiner speler in die wêreldmark is.

China bly nogtans ’n groot invoerder van sojabone en sal daarvan afhanklik bly, sê Van der Walt. Dié land het reeds deur die loop van die seisoen meer sojabone uit Brasilië begin invoer, waar ook ’n rekord-oes verwag word.