Ek en Des, my vrou, het in April vanjaar vier weke lank in Australië getoer. Ons het ’n motor gehuur en altesame 5 000 km gery. Die roete wat ons gevolg het, was vanaf Sydney tot Canberra en dan deur die Snowyberge na Melbourne. Vanaf Melbourne het ons via die Great Ocean-pad na Adelaide, en toe deur die Riverina-gebied, terug na Sydney gery.

Australië het ’n enorme middelklas. Die meeste mense woon in die kusstede. Australië is die land met die hoogste mediaan-inkomste per volwassene ter wêreld. Die stede is baie duur, met die prys van kos en verblyf ongeveer dubbel soveel as in Suid-Afrika. Motors en petrol kos ongeveer dieselfde as in Suid-Afrika. Melbourne word as een die duurste stede ter wêreld beskou.

Australië het ’n groot immigrantbevolking. Altesame 30% van die bevolking is eerstegeslag-immigrante. Sowat 1 miljoen immigrante kom elke vier jaar die land binne. Elke stad bou so vinnig moontlik huise, maar kan steeds nie in die vraag voorsien nie. ’n Huis wat in Suid-Afrika R1 miljoen sou kos, kos ongeveer $1 miljoen in Australië (AU$1 = ±R10).

Sowat die helfte van kinders woon private skole by. Die staat se gesondheidstelsel is onder druk weens die vinnige bevolkingsgroei. ’n Private gesondheidsektor groei om die tekort teë te werk, saam met mediese skemas om die koste te dek.

Duisende hektaar katoen word nou verbou op grond wat voorheen gebruik is om voer vir skape te produseer.
Australië droog,
’n Magdom beeste op ’n veiling in Bordertown, Suid-Australië. Beeste is in die laat 1700’s vir die eerste keer na dié land ingevoer. Foto: Claude Cloete

VLOEDE EN DROOGTES

Die landbou by die plaashek verteenwoordig sowat 3% van die bruto binnelandse produk (in Suid-Afrika is die landbou 2,8% van die BBP). Sowat 60% van Australië se landbouprodukte word uitgevoer. Die land is erg geknou deur een van die ergste droogtes in die geskiedenis. In Queensland en die Noordelike Gebied is die erge droogte gevolg deur oorstromings. Talle diere wat nie in die droogte gevrek het nie, het in die vloede verdrink.

Melkboerdery oorheers die kusgebiede, met konsentrasies van melkplase rondom reusagtige fabrieke. Dié fabrieke verwerk enigiets van kaas tot vars melk. In ’n supermark kos melk $1,60 per liter teenoor $2 per liter vir gebottelde water. Wingerde en wynkelders is oor die hele land versprei en dit is glad nie ongewoon om 200 km ver deur ononderbroke wingerde te ry nie.

Vanaf Adelaide het ons oos in die rigting van Sydney gery. Die roete volg die Murray-rivier. Daardie gebied is deur die droogte verwoes. Ons het 1 000 km ver gery en niks anders as sand gesien nie. Die enigste teken van lewe is langs die rivier. Die gebied staan bekend as die Murry-Darling-kom. Dit beslaan 1,1 miljoen km² (Suid-Afrika is 1,22 miljoen km²).

Die gebied het 470 000 ha besproeiingsgrond waarop 40% van Australië se kos verbou word. Weens die droogte word boere toegelaat om slegs 7% van hul toegekende water te gebruik. Ons het baie gebiede gesien waar boorde (meestal sitrus) weens die watertekort bloot gelos is om te vrek. Boere word gedwing om waardevoller oesgewasse aan die lewe te hou.

Waterpolitiek is ’n ernstige probleem in Australië. Waterverbruik in die stede is nie ingekort nie, maar boere mag, soos genoem, slegs 7% van hul toekenning gebruik. The Greens, ’n Australiese politieke party, het ’n baie groot sê in waterkwessies. In ’n Eerstewêreldland word die landbou dikwels irrelevant. Ondanks al die probleme wat ons in Suid-Afrika het, word ons water goed bestuur.

Amandels word meganies geoes. In die meeste gebiede het boere boorde vanweë ’n watertekort laat staan. Hulle is gedwing om waardevoller oes­gewasse aan die lewe te hou.
Australië droog,
’n Groep jong skaapramme word in ’n dorre landskap gevoer. Die droogte het skaapboere gedwing om ’n kernkudde van hul skape in kampe rondom die plaashuis te voer. Foto: Claude Cloete

SKAAPBEDRYF

Die hele opvanggebied was in die verlede bekend om skaapboerdery. Die droogte het skaapboere gedwing om ’n kernkudde van hul skape in kampe rondom die plaashuis te voer. Dit word met aangekoopte voer gedoen. Hierdie seisoen sal wolproduksie die laagste in 100 jaar wees. Indien dit begin reën, sal dit 10 tot 20 jaar duur voor skaapgetalle na tot normaal sal terugkeer.

Nóg ’n faktor wat die skaap-en-wolbedryf beïnvloed, is die feit dat groot maatskappye groot dele van die beste besproeiingsgrond koop. Arbeidskoste plaas ook druk op skaapboere. Die minimum loon is $20 per uur. Daar is verder ’n groot tekort aan skeerders.

Gewasboerdery is makliker om te meganiseer as ’n skaapplaas. Duisende hektaar katoen word nou verbou op grond wat voorheen gebruik is om voer vir skaapboerdery te produseer. Op die dorp Hay, voorheen die middelpunt van die skaapbedryf, word katoen deesdae grootliks verwerk. Groot gebiede is ook met haselneut- en olyfbome beplant.

Dié syfers wys waar die beste opbrengs per megaliter water verkry word en verduidelik hoekom skaapboerdery onder druk is: Vee/weiding – $300. Katoen – $600. Rys – $200. Suiker – $400. Vrugte – $1 500. Druiwe – $900. Groente – $1 800.

Australië het geen inheemse herkouers nie en gevolglik is die natuurlike plantegroei nie geskik vir beweiding nie. Voor die Europeërs se koms het die beskikbaarheid van drinkwater die getal inheemse diere beperk. Die mens het gekom en kunsmatig watertoevoer geskep en herkouers, skape en beeste ingevoer.

Die natuurlike plantegroei kon nie die verhoogde druk hanteer nie en gevolglik is weiveldverbetering gedoen. Klawer, lusern en jaargrasse is aangeplant. Dit is alles goed en wel as dit reën, maar hierdie spesies is nie droogtebestand nie.

In die hoërreënvalgebiede is Afrika-grasse met groot sukses gevestig. ’n Plantlyn van oumansoutbos wat by Grootfontein ontwikkel is, is onder meer in die droër gebiede geplant. Die boere in Australië pas nie drakrag per hektaar toe soos ons in Suid-Afrika nie.

Wanneer dit reën en daar is kos, koop die Australiese boere vee om die plase te bewei. Wanneer ’n droogte kom, word die diere weer verkoop. Dit lei tot groot wisselings in veepryse en ’n eindelose kringloop van voorspoed en bankrotskap. Australië het ’n kultuur van dobbel, van perderesies tot muntoutomate. Ek meen hierdie kultuur syfer deur na die manier waarop hulle sake doen.

Daar is ’n swaai, veral onder jong boere, na die sogenoemde Savory-beginsels, wat holisties beplande weiding behels. Dié boere stel volhoubare weidingstelsels in en gebruik volhoubare, aangepaste diere. Die ou stoetstelsel waar die boer sy bes probeer om hom bankrot te bestee aan voer, is nie volhoubaar nie. Dit is nie meer volhoubaar om vee vir produksie te teel en te voer nie.

Die dam by Conargo, Nieu-Suid-Wallis, is net 8% vol. Dit is een van die grootste damme in die land.

VOOR- EN NADELE

Konyne is in 1827 vanaf Engeland na Australië gebring vir voedsel en sportjag. Met geen gepaste roofdiere nie, het die konyne gou ’n plaag geword wat oor die hele Australië versprei en oral plantegroei verwoes het. Daar is beraam dat op die hoogtepunt daar 600 miljoen konyne in die land was. In die verlede is boere betaal om die konyne te bestry en te skiet. Ná baie navorsing is ’n virus (RHDV) ontwikkel wat die konynbevolking in bedwang gebring het.

Die meeste huise in Australië het sonkragstelsels en dit is moontlik om krag terug te voer in die netwerk. Voorheen was betaling vir hierdie krag goed, maar weens oorvoorsiening tydens dagligure is die uitbetaling egter nou baie laag. Die Snowy-berge is baie indrukwekkend. In die berge is ’n groot pompopbergskema met 14 damme en 7 kragsentrales. Dieselfde water word verskeie kere gebruik om elektrisiteit op te wek voor dit uiteindelik in die Murray-rivier inloop om vir besproeiing gebruik te word.

Elke land het sy voor- en nadele, maar elke land het ongelukkig ook sy politici. Tydens ons besoek was Australië in die middel van ’n verkiesing en, soos in Suid-Afrika, het hulle ook politici wat nie altyd dink voor hulle praat of optree nie!

Claude Cloete,
Claude Cloete

Mnr. Claude Cloete is ’n Merinoboer van Dordrecht in die Oos-Kaap.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.