Streng regulatoriese vereistes waaraan boere en hul verskaffers moet voldoen, veroorsaak egter ook heelwat probleme.

Dit het na vore gekom op ’n internasionale media-inligtingsdag wat die landbouchemiese groep BASF in Nunhem in Nederland gehou het. Die groep beoog om binne die volgende nege jaar meer as 30 nuwe produkte bekend te stel en sy verkope teen 2030 met 50% te verhoog.

Die feit dat dié doelwitte in ’n uiters mededingende landboumark nagejaag word, beteken die klem moet deurlopend op volhoubaarheid en balans wees, sê mnr. Vincent Gros, president van BASF se afdeling vir landbou-oplossings.

“Daar is toenemende aandrang deur boere, reguleerders en verbruikers wêreldwyd dat BASF ’n bydrae tot die samelewing moet lewer; finansieel, maatskaplik en om die omgewing te bewaar.”

In die eerste helfte van 2019 het BASF se afdeling vir landbou-oplossings sy verkope met 38% tot €4,4 miljard teenoor dieselfde tydperk in die vorige boekjaar verhoog. Dit was hoofsaaklik te danke aan die verkryging van sake-eenhede en bates van Bayer in Augustus 2018. Dit is sedertdien by BASF se bedrywighede geïntegreer. Internasionale mededingingsowerhede het destyds vereis dat Bayer sekere van sy afdelings moes verkoop toe hy Monsanto oorgeneem het. Volgens Gros het deurlopende besteding op navorsing en ontwikkeling, en sterk vennootskappe ook die goeie vertoning verstewig.

BASF, wat bekendheid as verskaffer van landbouchemiese produkte verwerf het, bied nou ook produkte soos saad, saadeienskappe en digitale oplossings vir die landbou. Hy konsentreer strategies op sekere sleutelmarkte soos soja, mielies en koring in Noord- en Suid-Amerika, rys in Asië, en vrugte en groente wêreldwyd.

vincent Gros, BASF
Mnr. Vincent Gros, BASF se president vir landbou-oplossings. Foto: Vida Booysen

“Ons moet ons energie en hulpbronne benut in die markte waar ons ’n verskil kan maak,” sê Gros.

In 2019 sal die maatskappy ongeveer €900 miljoen op navorsing en ontwikkeling vir landbouprodukte bestee. Die nuwe produkte wat nou hul verskyning maak, sluit biologiese en chemiese oesbeskerming in. “Ons bestuur ons portefeulje aktief in die rigting van oplossings wat meer volhoubaar is, en dit geskied van die vroeë navorsingstadium tot die produkontwikkeling self,” sê Gros. “Dit stel ons in staat om hoogs doeltreffende en innoverende middels te ontwikkel wat boere, die samelewing en die planeet bevoordeel.”

Een van die groot probleme waarmee boere deesdae sukkel, is weerstandigheid teen plaagdoders. Die maatskappy glo sy nuwe swamdoder, Revysol, sal produsente help om hoër oeste van betroubare gehalte te lewer. Die produk, vir gebruik in graan-, sitrus, druiwe- en steenvrugte-verbouing, is deur Gros op die nuuskonferensie as ’n groot deurbraak en potensiële bron van inkomste bestempel. Dit is binne die riglyne van streng nuwe regulasies oor plaagdoders ontwikkel. Sodra registrasie afgehandel is, sal die produk internasionaal beskikbaar raak, dalk so gou as aan die begin van volgende jaar in sommige markte.

Mnr. Dirk Hartmann, direkteur van sakebestuur en oesbeskerming vir Afrika en die Midde-Ooste (die streek waarin Suid-Afrika val), het gesê al die nuwe produkte wat BASF die afgelope jare internasionaal bekend gestel het, was baie gou ná bekendstelling ook in Suid-Afrika beskikbaar.

“Anders as ander Afrika-lande maak Suid-Afrika se registrasiestelsel dit moontlik om die registrasieproses in Suid-Afrika aan die gang te sit sodra ons aan ’n nuwe produk begin werk. Ons hoef nie te wag dat dit byvoorbeeld eers in Europa geregistreer word voordat ons die proses in Suid-Afrika kan begin nie.” 

Dirk Harmann, BASF
Mnr. Dirk Hartmann, BASF se direkteur vir Afrika en die Midde-Ooste