In ’n vorige rubriek (“Veeboere, neem beheer en finansier eie bedryf”, LBW, 10 November 2017) het ek gewaarsku dat die kans vir ’n bek-en-klouseeruitbreking baie groot is, én dat dit die rooivleisbedryf miljarde sal kos. Om die waarheid te sê, ons het geweet dit is nie ’n kwessie óf dit gaan uitbreek nie, maar wanneer. Diegene wat gereeld met die staat werk, soos drs. Faffa Malan en Pieter Vervoort, kon die skrif aan die muur sien.

Van die staatsamptenare het in hul persoonlike hoedanigheid verskeie kere laat blyk dat hulle die rooivleisbedryf se hulp nodig het. Dit is byvoorbeeld baie moeilik om bek-en-klouseer in die kommunale gebiede langs die Krugerwildtuin te beheer sonder die bedryf se samewerking. Die probleem is veral hoe om die beweging van diere te monitor (naspeurbaarheid).

Van die staatsamptenare het al genoem dat hulle nie oor die kapasiteit beskik om al die nodige stelsels gereed te kry nie. Die werklikheid is dat dit maklik is om die staat te verkwalik vir die bek-en-klouseeruitbreking, asook vir die voerkrale wat noodgedwonge die markprys vir speenkalwers betaal noudat die uitvoermark opgeskort is. Die prys was in die somer tot Desember redelik, ondanks die ernstige droogte, juis omdat die voerkrale ten minste 4-5% van hul produkte kon uitvoer.

Alles moontlik word nou gedoen om die oorsese markte weer oop te kry. Soos die spreekwoord sê, die maklikste van enige jagekspedisie is om ’n sondebok te vind. Dit is tyd vir rooivleisprodusente en die rooivleisbedryf om introspeksie te doen, saam te staan en beheer te neem van die bedryf. Die staat sal samewerking ondersteun.

In nog ’n vroeër rubriek (“Vernuwing nodig vir rooivleisbedryf”, LBW, 18 Maart 2016) het ek die benadering uiteengesit wat die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf moet volg om ’n leier in Afrika te bly en die potensiaal te ontgin. Ek brei in hierdie artikel kortliks daarop uit.

Tabel 1

Uitvoermark krities

Suid-Afrika se pryse vergelyk swak met dié van oorsese eweknieë. In die 2017-rubriek het ek daarop gewys dat Suid-Afrika se slagpryse minstens 20-30% swakker is as dié van lande soos Amerika, Australië, Brasilië en China. Die speenkalfpryse is nou sowat 30-40% swakker. Tabel 1 toon die vergelykende karkaspryse van agt lande.

Suid-Afrika lewer ’n baie beter produk as lande soos Pakistan (waar bek-en-klouseer volop is, daar nie eers een ordentlike voerkraal is nie, en die produk van ’n swak gehalte is), maar slagpryse is min of meer dieselfde. Dit neem ongelukkig tyd en geld om ’n oorsese mark te vestig, en Suid-Afrikaanse voerkrale het reeds groot geld bestee om markte namens die bedryf oop te maak.

Suid-Afrika se buurlande verstaan die waarde van uitvoermarkte, en het reeds stelsels in plek om te sorg dat hul gesondheidstatus op ’n beter standaard as dié van Suid-Afrika is, veral wat betref potensiële bek-en-klouseeruitbrekings.

Namibië het byvoorbeeld die “rooilyn” in die verre noorde, wat sorg dat geen beeste in aanraking kom met dié van die suide nie, wat ’n bek-en-klouseervrye gebied is. Mnr. Mecki Schneider van die Namibiese Lewendehawe-produsenteorganisasie het al telkemale gesê hul pryse sou minstens 30% laer gewees het as hulle nie na Europa kon uitvoer nie.

Suid-Afrika sal ongelukkig nie in die nabye toekoms, weens sy swak gesondheidstatus, na Europa kan uitvoer nie. Gevolglik sal Suid-Afrika sy markte in die Midde-Ooste moet uitbou, en alles in sy vermoë moet doen om die Chinese mark weer oop te maak.

Botswana het verskeie gebiede afgesper wat heeltemal vry van bek-en-klouseer is. Mnr. Leonard Morakaladi, ’n leier in die bedryf, het op ’n rooivleisbedryfsaamtrek in 2017 genoem dat 80% van hul inkomste in die vleisbedryf kom van die 20% wat Botswana uitvoer. Die Botswana-regering pas gesondheidsbeheermaatreëls, met die samewerking van die bedryf, baie streng toe, want hulle besef wat dit vir die bedryf beteken.

Die Amerikaners voer ongeveer 13% van hul vleisbehoefte in, hoofsaaklik maalvleis, en voer 10% van hul hoëwaardesnitte uit. Die Amerikaanse rooivleiskenner en konsultant Greg Bloom beklemtoon in die artikel “Why an export market is critical to the US beef industry” die waarde van vleisuitvoer vir die Amerikaanse bedryf. Elke karkas in Amerika is na raming ongeveer R4 000 meer werd, slegs vanweë ’n uitvoermark.

Bloom sê dit is uiters belangrik om markte te soek, byvoorbeeld Rusland, Suid- Korea, Japan en natuurlik China, wat bereid is om ’n premie te betaal. Die Suid-Afrikaanse bedryf het die geleentheid benut ná die droogte in 2016-’17 en ongeveer 4% van die land se produkte word tans na hoofsaaklik buurlande en die Midde-Ooste uitgevoer.

Die ideaal sou egter wees om dit tot 10% te verhoog, omdat dit ’n wesenlike impak op Suid-Afrikaanse vleispryse het. Daarvoor moet Suid-Afrika egter ’n baie beter gesondheidstatus gereed kry en die bedryf behoorlik finansieel bystaan. Dit sal leierskap en die samewerking van alle instellings en die owerhede verg.

Beter gesondheidstatus ’n moet

Ander Afrikalande, soos Namibië, Botswana, Swaziland en selfs Ethiopië, is Suid-Afrika ver voor met die toepassing van nasionale naspeurbaarheidstelsels. Om só ’n stelsel te bestuur is nie so maklik nie, omdat elke dier se beweging gemonitor moet word.

In Suid-Afrika is dit egter makliker om ’n naspeurbaarheidstelsel in te stel as in ander Afrikalande, omdat byna 70-80% van die land se speenkalwers deur voerkrale beweeg. Die meeste voerkrale weet waarvandaan hul beeste kom en het reeds naspeurbaarheid van die voerkraal af na die abattoir.

’n Naspeurbaarheidstelsel word al hoe meer ’n voorvereiste om uit te voer, want invoerders wil weet waarvandaan die produk kom en dat daar ’n hoë vlak van beheer en kontrole in die uitvoerland is. Die Suid-Afrikaanse verbruiker vereis dit ook al hoe meer.

Mnr. Gerhard Schutte, bestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê hulle streef na volledige openbaarmaking. Dit gaan nie so maklik wees om toe te pas in kommunale gebiede nie, soos die bek-en-klouseerbeheergebied in Limpopo, maar dit is beslis haalbaar. Die rooivleisbedryf sal moet help, want dit gaan nie vanself gebeur nie. Net soos Suid- Afrikaners hul woonbuurte self, met die samewerking van die polisie, moet beveilig, moet daar saamgewerk word.

In Suid-Soedan word elke bees met ’n peutervrye oorplaatjie gemerk wanneer die bees ingeënt word. Beeste met oorplaatjies behaal ’n beter prys, en gevolglik wíl boere hul diere laat inent. ’n Naspeurbaarheidstelsel sal ook met die beheer van ander siektes, soos brucellose, help.

Dit sal egter deel van ’n omvattende bedryfsplan moet wees, want dit is nie maklik uitvoerbaar nie. Dit verg goeie administrasie en finansiering en is ’n groot stap vir die bedryf, maar dit hou voordele in. Op lang termyn sal dit die moeite werd wees, omdat dit die rooivleisbedryf tot ’n ander vlak sal verhoog.

Die Namibiese rooivleisbedryf put groot voordeel uit goeie gesondheidsbeheer en naspeurbaarheid. Dié bedryf het ’n “rooilyn” wat sorg dat geen beeste in die verre noorde van die land met ander in die bek-en-klouseervrye gebied in aanraking kom nie. Foto: LBW-argief

Belê in jou bedryf

Die internasionale norm is dat ’n bedryf minstens 1,5% van sy omset vir navorsing en ontwikkeling moet aanwend. Gewoonlik word naspeurbaarheidstelsels hierby uitgesluit, maar vir Suid-Afrika is dit noodsaaklik dat dit uit die ontwikkelingsfonds gefinansier sal moet word.

Tabel 2 verstrek die bedrag wat die verskillende bedrywe in Suid-Afrika in hul bedryf belê as ’n persentasie van die omset. Die varkvleisbedryf belê byvoorbeeld 0,5% van sy omset in navorsing en ontwikkeling. Mnr. Dave Osborne, bekende vark-en-beesboer van Queenstown, het vroeër by ’n rooivleisbedryfsaamtrek in Pretoria gesê die varkheffing is R50 per vark, en vir die beesbedryf moet dit minstens dieselfde wees om mededingend te word.

Die gemiddeld vir alle bedrywe is 0,4%, wat steeds ver onder die internasionale norm is. Die rooivleisbedryf se heffing van sowat R10 per bees is ’n skamele 0,1% van die omset en eintlik minder, as die gedeelte van die heffing wat spesifiek vir navorsing en ontwikkeling gebruik word, in ag geneem word.

Die feit is dat ’n mens nie jou bedryf kan bevorder indien jy as boer nie bereid is om daarin te belê nie. My voorstel is dat die bedryf ’n behoorlike sakeplan ter tafel lê en kyk wat dit gaan kos om sekere strategieë in werking te stel, sodat ’n gewenste posisie in die toekoms bereik kan word.

Suid-Afrikaners moet in die rooivleisbedryf belê. Die universiteite van Pretoria en die Vrystaat is bekommerd dat daar nie vir jong gegradueerdes ’n toekoms in die rooivleisbedryf is nie, veral wat aspekte soos teling en vleisnavorsing betref. Hoe motiveer jy die beste studente om diereproduksie en teling te studeer, as daar nie ’n toekoms vir hulle daarin is nie? vra proff. Esté van Marle-Köster en Frikkie Neser.

In teenstelling met die heffing van R10 per bees in Suid-Afrika is die heffing per bees in Amerika, Australië en Nieu-Seeland sowat R150. Lede van die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf moet bereid wees om in die toekoms te belê, of hulle sal moet aanvaar dat die potensiaal nie bereik gaan word nie. Hulle sal gevolglik met laer speenkalfpryse moet saamleef.

Sambreelliggame belangrik

Die Wêreldbank het al telkemale beklemtoon dat die groot verskil tussen ’n mislukte en welvarende land die sterkte van die sambreelbedryfsliggame is, en veral die vermoë van mededingers om hul eie belange opsy te skuif en met ’n gemeenskaplike doel saam te werk. Dit is juis die rol van ’n bedryfsliggaam. ’n Bedryf wat nie kan saamwerk nie, sal op lang termyn misluk.

Maak gerus ’n draai by Gull Foods in Doebai, die wêreld se grootste kosskou (ook rooivleis), om samewerking te sien. Amerika het die grootste uitstalling, waar al sy bedrywe saam onder die vaandel “trots Amerikaans” hul produkte vertoon. Dieselfde geld in Ierland, die meeste Europese lande, Australië en Nieu-Seeland.

Vir maatskappye in die meeste ontwikkelende lande gaan dit oor eiebelang en hulle sal gewoonlik op hul eie uitstal. Dit is tragies, en die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf, een van die grootste landboubedrywe, met baie potensiaal, moet sorg dat hy nie in hierdie slaggat trap nie. Dit gaan samewerking en leierskap verg om te verseker die rooivleisbedryf bereik sy volle potensiaal.Op verskeie gebiede het Suid-Afrika al vir die wêreld bewys hy kan dit doen. Dit is nou die tyd vir die rooivleisbedryf om op te staan en self skouer aan die wiel te sit. 

Dr. Michael Bradfield is hoof uitvoerende beampte van die SA Wagyu-beestelersgenootskap. Hy het die grade B.Sc. aan die Universiteit van die Vrystaat, M.Sc. aan die Universiteit van Edinburgh, en Ph.D. aan die Universiteit van Nieu-Engeland verwerf.  Bron: www.meatingplace.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.