Hulle werk hulself dood net om te sien hoe hul geld vermors en gesteel word. Volgens hom is dit elke belastingpligtige se reg om regverdig en eerbiedig behandel te word en dat dit die staat se plig is om die land se geldsake verantwoordelik te bestuur.

Sy oog is seker meer op die groter boewe in die staatskapingsdebakel, maar Manie hoop dat Edward net so vinnig onder die onbevoegde, vetkat-amptenare op munisipale vlak sal inklim. Almal weet van die gemors ten opsigte van dienslewering wat hulle veroorsaak.

Ongelukkig lyk dit nie of genoeg boere ten volle bewus is van die bom oor eiendomsbelasting wat eersdaags kan ontplof nie. Veral die armer munisipaliteite wat nie behoorlik kan begroot en/of eenvoudig deurentyd oorbestee (veral aan salarisse) het skielik uitgevind die enigste manier om vinnig nuwe geld in te kry, is om boere in die grond in te belas. Dít is mos ’n lekker mak melkkoei.

Tariewe vir grondbelasting word op markwaarde gegrond, dus op die gemiddelde prys per hektaar van spesifieke groottes van plaasgrond wat oor die waardasietydperk behaal is. Uitskietpryse of die buitensporige pryse wat kleiner stukkies grond behaal, is nie veronderstel om die prentjie skeef te trek nie. Maar veral in marginale gebiede, waar grondwaardes vinnig kan val weens erge droogte, hael of swak produkpryse, kan munisipale waardes maklik ver bokant die werklike markwaardes vasgestel word.

En dan, as die heffing per miljoen rand waarde ook nog onrealisties hoog is, is grondeienaars, wat reeds sukkel om te oorleef, in diep moeilikheid. As dit só aangaan, is dit logies dat die amptenare stadig maar seker besig is om hul eie belastingbasis en inkomste te vernietig. Dit sal hulle nie verstaan totdat hierdie huis van kaarte ook intuimel nie.

Gelukkig kan boere wat ontevrede is met hul nuutste plaaswaardasies op die waardasierol by die stadsraadkantore, op ’n individuele basis, beswaar daarteen aanteken. Daar is selfs die moontlikheid van groepsgedinge indien genoeg grondeienaars meen dat hul ’n goeie saak het. Boere kan gewoonlik ook hul stemme dik maak op vergaderings wat gehou word voordat die nuwe koerse ingestel word. Maar dan moet dit alles gebeur vóór hierdie (die soveelste) koeël ook deur die kerk is.

Koop grond in SA of kry ’n ticket na Australië

Gevoelens onder politieke en ekonomiese ontleders op die onlangse Seil-Safari van Laeveld Agrochem op die MSC Musica was dat, hoewel ’n rowwe verkiesingstyd voorlê, grondonteiening sonder vergoeding – soos talle mense vrees – nié ná die verkiesing sal gebeur nie. Manie se kollega was onder die gelukkiges op dié Seil-Safari.

Afgesien van die prettigheid wat met só iets gepaardgaan, kon hy ook na baie gesaghebbende kenners luister. Een van hulle was Nick Serfontein – seker een van Suid-Afrika se bekendste boere ná sy ope brief aan die president. Dinge het verander in Suid-Afrika, en dinge gaan nóg meer verander, sê hy, maar hy kán nie sien dat grondonteiening sonder vergoeding ’n werklikheid sal word nie.

En Nick is ’n man met ’n oor naby aan die president – hy behoort te weet. Hy dien immers in die adviespaneel wat met grondhervorming te doen het. Radikalisme en rassisme vier hoogty in die aanloop tot die verkiesing. Die manier waarop die regering grondhervorming tot nou toe toegepas het, was swak. Dit het onrealistiese verwagtinge geskep van koorsdrome soos: “Kry grond en ry in jou dubbelkajuit.”

Die waarheid, sê Nick, is dat genoeg grond beskikbaar is waarop niks aangaan nie – genoeg om tot ná 2030 grond toe te ken aan wie dit toekom. “Net” R250 miljard is in die volgende tien jaar daarvoor nodig – “vergelyk dit met die Eskom-debakel, dan is dit eintlik ’n druppel aan die emmer”. Hy meen die ANC is bewus van wat in Zimbabwe gebeur het. Volgens Nick weet die ANC ook dat dit nie bekostig kan word dat Suid-Afrika in só ’n tragiese maalkolk van vernietiging ingesleur word nie.

Die probleem nou, meen hy, “is dat jy aan die een kant swart mense het wat kwaad is omdat grondhervorming te stadig gevorder het en hulle nie kry wat hulle belowe word nie”. Aan die ander kant is die kommersiële boere senuagtig oor wat die toekoms inhou. In die middel sit jy met ’n regering wat nog nooit boots and all in grondhervorming was nie.

Nou skielik maak die regering baie vreemde geluide. En dan is daar die finansiële sektor wat versigtig die kat uit die boom kyk. “Dus gebeur niks nou nie en daarom het ons ’n organisasie nodig wat alles wat met grondhervorming te doen het, bymekaar kan bring in ’n alles-in-een-diens en daadwerklik optree,” sê Nick. “Ons het twee keuses, naamlik om te aanvaar Suid-Afrika is in sy m**r in óf ons kan die probleme doelgerig oplos. “Ons moet glo in Suid-Afrika, Agri SA, Afrikaans, onsself en die Skepper – en ons moet aanbeweeg! Koop grond in Suid-Afrika of kry jou ticket na Australië – dis jou keuse.”

Baie geluk

“Wil julle weet hoe ek nou voel? Soos ’n donkie met ’n cowboy-saal op my rug,” is hoe die legendariese wynmaker en Springbokrugbyspeler Jan Boland Coetzee onlangs sy ontvangstoespraak begin het toe die Universiteit Stellenbosch (US) aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken het, ’n eer waarvoor Manie hom namens Landbouweekblad hartlik gelukwens.

Jan was aanvanklik onder meer wynmaker op Kanonkop waar hy ook ’n mentor was vir ’n ander “groot” wynman, Beyers Truter, voor hy Vriesenhof-wynlandgoed gekoop en verbeter het. Hy was langer as 50 jaar as wynmaker betrokke en het ’n groot rol in die wynbedryf gespeel. Hy was onder meer een van die stigterslede van die Kaapse Wynmakersgilde en die instituut vir wingerd- en wynkunde, ’n gesamentlike onderneming tussen die universiteit, die wyn- en tafeldruifbedryf en die Landbounavorsingsraad.

Hy is nie verniet onlangs deur die Britse joernalis, Tim Atkins, as wynmaaklegende aangewys nie en verdien dus sy nuwe titel as doktor in die natuurwetenskappe in landbou (D.Sc.Agric.). In dieselfde asem wil Manie ook een van ons rubriekskrywers, Jan Greyling, gelukwens wat op dieselfde gradeplegtigheid sy doktorsgraad verwerf het. Jan is ’n boer, navorser, landbou-ekonoom en dosent aan die US.

Hoe ver?

’n Man kom tuis ná werk en vra sy vrou: “Hoe ver is jy met aandete?”

“Fase 4,” antwoord sy.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.