Die winter van 2020 was een van die koudste winters in ’n hele paar dekades. Die gemiddelde minimum temperatuur van 1 Mei tot 31 Augustus 2020 vir ’n plek soos Botha- ville in die Vrystaat was -0,55 °C, ongeveer 1 °C laer as die vorige laagste minimum temperatuur sedert 2001 van +0,53 °C wat in 2007 gemeet is. Daar was voortdurend koue temperature vir die grootste deel van die winter van 2020.

In teenstelling met die algemene verwagting is ’n konstante “koue” winter oor die algemeen minder gevaarlik vir ryp- en koueskade as ’n minder intense koue winter. Gewasse wat onder konstante koue toestande groei, vergoed vir die omgewingstoestande en sogenoemde afharding kom voor. ’n Koue winter veroorsaak ook dat groei vertraag word en dat plante nie te gou in versnelde groei gaan nie.

Verskillende soorte Ryp

Ryp kom voor wanneer die temperatuur van die aarde se oppervlak of aardgebonde voorwerpe soos plante onder vriespunt daal.

Twee soorte sigbare ryp kan onderskei word. Met witryp is die lug vogtig genoeg dat ys op die blare en ander voorwerpe vorm indien die temperatuur onder vriespunt daal. Tweedens is daar sogenoemde swartryp wat voorkom indien die lug te droog is om sigbare ys te vorm, maar die temperatuur is wel onder vriespunt.

Die manier hoe ryp gevorm word, kan in twee groepe ingedeel word, naamlik stralingsryp wat op windstilnagte gebeur, en adveksieryp wat veroorsaak word deur windbeweging. In albei gevalle is daar ’n netto verlies aan energie wat die temperatuur laat daal. By stralingsryp word meer energie teruggestraal na die atmosfeer as wat inkom, en by adveksieryp veroorsaak windbeweging dat energie weggevoer word.

Stralingsryp kom gewoonlik in laaggeleë dele voor omdat kouer lug swaarder as warmer lug is en in laer dele versamel om sogenoemde rypholtes te vorm. Koue lug sal soos water beweeg en versamel waar daar obstruksies is, of in “damme”.

Daarteenoor kom adveksieryp voor in gebiede wat die meeste aan windbeweging blootgestel is. Dit sluit in die boonste gedeelte van hoërgeleë dele, teen die hange of op baie gelyk oppervlakke wat aan windbeweging onderhewig is.

Wanneer kom rypskade voor?

Verskillende soorte plante het verskillende drempelwaardes van wanneer skade voorkom. Rypskade gaan dus nie noodwendig voorkom indien die temperatuur onder vriespunt daal nie.

Verskillende groeistadiums het ook verskille ten opsigte van drempelwaardes van wanneer skade voorkom. Daarby kan die voorafgaande temperatuurtoestande ’n veranderde drempelwaarde tot gevolg hê, want afharding kan plaasvind indien konstante koue toestande voorkom in die voorafgaande groeitydperk. Dit kan veroorsaak dat plante laer temperature kan weerstaan.

Daar word onderskei tussen twee soorte rypbeskermingsmaatreëls, naamlik passiewe en aktiewe metodes. Passiewe metodes is gewoonlik dit wat gedoen word met die aanvanklike beplanning voordat ’n gewas geplant word, of gedurende die seisoen as voorsorgmaatreëls.

Passiewe Maatreëls

Dié soort maatreëls sluit die volgende in en is gewoonlik die kostedoeltreffendste.

Die perseel waar geplant gaan word. Waarskynlik die belangrikste beskermingsmaatreël is die keuse van die plek waar aanplantings gedoen word. Om stralingsryp te beperk, is dit nodig om na die topografie van die gebied te kyk. Laaggeleë gedeeltes en dele wat minder straling kry, soos suidelike hellings, behoort vermy te word. Temperatuurverskille van meer as 5 °C is binne ’n kort afstand moontlik as gevolg van verskil in hoogte en topografie op windstilnagte.

Daar moet ook gekyk word na hindernisse soos heinings wat lugbeweging na laergeleë gedeeltes kan beperk en rypskade hoër teen ’n helling kan veroorsaak.

Plantdatum en kultivarkombinasie. Dit is veral wintergewasse soos koring wat skade kan opdoen indien aanplantings te vroeg gedoen word, veral kultivars met ’n lae kouebehoefte. Koring kan lae temperature in die vegetatiewe stadiums weerstaan, maar indien die reproduktiewe stadiums begin voorkom, is dit baie gevoelig vir temperature naby vriespunt.

Indien aanplantings te vroeg gedoen word, is die ontwikkeling te vinnig en kan lae temperature in veral Augustus en September groot skade veroorsaak, veral as die winter ook nie baie koud was nie.

Waar daar duidelike verskille by kultivars is ten opsigte van die blomdatums, soos okkerneute en ander neut- en vrugtesoorte, moet die kultivars wat eerste ontwikkel, in meer rypbestande gebiede soos hoërgeleë noordelike hellings geplant word.

Keuse van helling. Dit is beter om teen noordelike hellings te plant, want dit kry meer energie van die son as gevolg van die hoek waarteen die son die helling tref. Meer energie word bedags gekry en in die grond gehou om snags beskikbaar gestel te word. Die probleem is dat meer energie in warmer gedeeltes die groei en ontwikkeling versnel en dikwels meer skade veroorsaak omdat plante vroeër in gevoelige stadiums van ontwikkeling kom.

Toestand van grondoppervlak. Vir rygewasse en vrugtebome is die teenwoordigheid van bedekkings soos onkruid, dekgewasse en deklae nadelig om rypskade te beperk. Hoewel ’n deklaag soos strooi waterverlies kan help beperk, voorkom dit dat sonenergie in die grond opgebou en gehou kan word. Eerstens word meer energie van die oppervlak af weerkaats, en tweedens kan die energie wat wel opgeneem word, nie na die grond oorgedra word om hitte op te bou nie.

Grondbewerking moet ook so min moontlik gedoen word, want los grond bevat baie lugleegtes wat voorkom dat energievloei plaasvind. Die beste is om die grondoppervlak skoon te hou en selfs te rol en die oppervlak vas te stamp sodat maksimale hitte-energie in die grond opgebou kan word.

Grondwaterinhoud. Hittegeleiding en hitte-inhoud van grond word baie beïnvloed deur die hoeveelheid water in die grond, want geleiding en opgaar van hitte is doeltreffender indien die grond in veral die boonste 30 cm redelik nat is.

Daar kan egter ook nadelige aspekte wees, soos wanneer die wind waai en grondoppervlakverdamping plaasvind, kan dit die temperatuur verlaag. ’n Verdere nadelige gevolg is dat wanneer plante saam met die grond benat word en die blare snags nat bly, dit die moontlikheid vir rypskade vergroot.

Gesonde plante en gebalanseerde bemesting. Hou in gedagte dat plante wat reeds onder stremming is, makliker skade kan opdoen. Die regte bemesting sal kan help dat die plant die optimale vriesweerkombinasie van sappe in die selle opbou.

Chemiese behandeling deur die seisoen. Chemiese produkte kan doeltreffend wees om die optimale chemiese sapsamestelling te bewerkstellig. Dit is egter belangrik om dit nie net kort voor verwagte ryp toe te dien nie, maar as ’n voorkomende maatreël regdeur die seisoen.

Aktiewe maatreëls

Dit is gewoonlik ’n tipe krisisbestuur en nie noodwendig altyd doeltreffend of kostedoeltreffend nie. In sekere gevalle kan dit selfs meer skade tot gevolg hê. Dit kan die volgende insluit:

Maak van ’n rookkombers. Dit kan doeltreffend oor ’n kleiner oppervlak wees wanneer omgewingstoestande dit toelaat. Die brand van buitebande en strooi kan help om die uitstraling van energie van die oppervlak af te beperk deur die energie wat uitgestraal word, vas te vang of terug te kaats van die wolkkombers na die aarde toe.

Die probleem is om te bepaal waar om die rook in ’n land te maak, want windbeweging kan die rookwolk in die verkeerde rigting laat beweeg.

Windmasjiene en helikopters. Die beginsel is dat die lug warmer is hoe verder dit van die aarde se oppervlak is (vir die eerste paar meter bo die oppervlak tot by die inversielaag). Indien lugvermenging plaasvind, kan dit die temperatuur nader aan die oppervlak verhoog.

Die gevaar is egter dat dit in sommige gevalle die aanvoelbare temperatuur kan verlaag, veral as die oppervlak van die plante nat is. Windmasjiene is ook staties en ’n hele paar masjiene sal strategies geplaas moet word om groter oppervlakke te bereik.

Oorhoofse benatting. Die energie van water uit ’n groot bron soos ’n dam of boorgat is bokant vriespunt en indien dit oorhoofs op plante toegedien word, kan dit hitte-energie toevoeg. In die praktyk kan dit egter skade verhoog indien dit nie reg toegepas word en omgewingstoestande soos humiditeit nie reg is nie. Die toediening moet byvoorbeeld begin vóórdat dit te koud word en dit moet aanhou tot ná die omgewing se temperatuur bo vriespunt is.

Indien die lug baie droog is, kan die aanvanklike tydperk van benatting die temperatuur op die blare verlaag en skade veroorsaak. Dit is ook nie altyd prakties moontlik om die hele oppervlak op dieselfde tyd te benat nie. 

Mnr. Johan van den Berg is ’n onafhanklike landbouweerkundige.