Mnr. Cyril Ramaphosa het allesbehalwe bekommerd of ongelukkig gelyk toe hy aangekondig het dat daar eenparig op die afgelope ANC-kongres besluit is dat grond sonder vergoeding onteien gaan word en dat die wêreld se beste grondwet dienooreenkomstig verander moet word.

Hoewel daar mense is wat reken dit sal nie gebeur nie, weet ek nie hoe hulle dink Ramaphosa dit gaan keer nie. Dit is ook so dat die “optimistiese” mense gewoonlik baie ryk is. Hoewel hulle baie het om te verloor, het hulle genoeg om elders weer van voor af te begin of hulle het reeds iets in ’n ander land aan die gang. Ek het niks teen hierdie mense nie. Inteendeel, ek het baie respek vir hulle.

Ek is egter bekommerd oor die mense wat nié oor hierdie vermoëns beskik nie en geen ander keuse het as om hier te bly nie. Hulle kan alles verloor wat hulle besit en met baie harde werk en opofferings bymekaargemaak het om net ’n redelike lewe te kon leef. Wat my ook verbaas, is dat niemand nog bespiegel het oor hoe eiendom in Suid-Afrika gewaardeer gaan word indien die beleid wet word nie.

Grond wat sonder vergoeding onteien kan word, kan tog nie vir die eienaar iets werd wees nie. Die risiko is net te groot om ’n waarde te plaas op eiendom wat onteien kan word. So ’n balansstaat sal nie die ware stand van sake weergee nie. Die bates kan te hoog gewaardeer word.

Gaan banke bereid wees om verbande of lenings op sulke grond toe te staan? Banke se landboubestuurders, laat hoor gerus van julle. Wees asseblief net eerlik. Hoe sal boedelbelasting op die waardelose grond bereken word? Belastingadviseurs, laat weet ons hoe dit moontlik bereken gaan word.

Ek sal baie graag wil hoor wat die ouditeure se kommentaar is. Wat is die verkondigers van risikobestuur se menings? ’n Mens moet tog vroegtydig ál die risiko’s bepaal om dit sodoende te probeer verminder of selfs uit te skakel. Almal is net te stil. Ons het mos almal geglo Suid-Afrika is nie Zimbabwe nie.

Laat asseblief van julle hoor. Wat moet en kan ons doen? Ons moet sekerlik nie wag tot dit te laat is nie, of hoe? Wat my ook bekommer, is dat die smooth talkers so maklik aangehang en geglo word.

Kyk net hoe het die rand versterk, ten spyte van die mees anti-demokratiese en anti-kapitalistiese beleidsaankondiging nóg in die nuwe, demokratiese Suid-Afrika. Kom ons dink weer voor ons té seker is niks gaan gebeur nie en alles gaan voor die wind