Renosterveld is oënskynlik ’n redelik “vervelige”, struikagtige plantgemeenskap, maar dit is die habitat met die hoogste persentasie bolplante op aarde. Dit is ook een van die mees bedreigde habitatte vanweë die ryk grond waarin dit aard.

Met verloop van jare is renosterveld omgeploeg om plek te maak vir graangewasse en ander landbouprodukte, soos druiwe en kanola. Oorbeweiding en die onoordeelkundige gebruik van gifstowwe veroorsaak verdere kwessies. Slegs een persent van alle bestaande renosterveld is in bewaarde gebiede.

Voëls en insekte speel ’n belangrike rol in die voortplanting van plante omdat hulle stuifmeel en vrugte versprei. Die oorblywende plantsoorte in renosterveld sal kwesbaar wees vir inteling en uitwissing indien voëls nie bestuiwing en die verspreiding van vrugte aanhelp nie.

GEFRAGMENTEER

Selfs al word aanvaar dat geen verdere renosterveld verlore sal gaan nie, is die oorblywende natuurlike veld erg gefragmenteer. In die meeste gevalle bestaan sulke veld nog net in steil skuinstes en klipperige gebiede waar daar nie geploeg word nie. Slegs 5% van die oorspronklike renosterveld in die Overberg bestaan nog. Die grootste enkele deel beslaan slegs 500 ha.

Navorsing in die Overberg en aan die Kaapse Weskus toon aan dat kleiner stukkies renosterveld tot verkleinde spesiediversiteit lei. Voëls en ander organismes het minder kans om te oorleef in kleiner kolletjies veld. Só kom die klein-rooibandsuikerbekkie minder voor in kleiner stukkies renosterveld en hulle versprei dus nie die belangrike gene waarvan sommige plante afhanklik is nie. Dieselfde geld sommige vrugtevreters.

Uit ’n voëlkyk-perspektief is renosterveld nie juis bekend vir groot biodiversiteit nie. Koesters en lewerikke is geneig om eerder in ou landerye as in natuurlike renosterveld te voer. Dit is egter belangrik om daarop te let dat sommige bedreigde spesies, soos die witkruisvleivalk en die swartvlerkkorhaan, van renosterveld afhanklik is om in te broei.

Hoe kan die oorblywende, gefragmenteerde stukkies renosterveld bewaar word? Die Overberg Renosterveld Bewaringstrust doen uitstekende werk in dié verband. Die ruggraat van sy benadering is die skep van bewaringservitute. Hierdie Amerikaanse konsep (conservation easements) behels die bewaring van veld in private besit.

Die doel is om die persentasie renosterveld wat bewaar word, te verhoog. Die projek behels ook die herstel en bewaring van rivierlope en aangrensende buffersones. Sodoende word deurgange tussen gefragmenteerde stukkies natuurlike veld gevestig.

Die swartvlerkkorhaan broei in renosterveld. Foto: Anton Odendal

WORD SÓ BETROKKE

Boere nader die trust, of personeellede van die trust bepaal gebiede wat volgens ’n stel kriteria geïdentifiseer is. Wanneer ’n boer belang stel, skryf die trust ’n verslag oor die waarde van die biodiversiteit van die spesifieke plaas se oorblywende renosterveld. Hulle gesels dan oor die bestuursbeginsels van die natuurlike veld en hoe die trust daarmee kan help.

Die ekologiese koördineerder van die trust stel – saam met die boer – ’n voorlopige bestuursplan op wat die beginsels onderliggend aan die servituut beskryf. Die ekologiese koördineerder en die trust se regsadviseurs stel die nodige regsdokumentasie saam sodra die grondeienaar met die ooreenkoms tevrede is.

Die ooreenkoms oor die servituut word dan deur die trust en die boer onderteken en in die naam van die trust by die aktekantoor geregistreer. Die servituut is van toepassing op die huidige én toekomstige eienaars van die grond.

Van hier af help die lede van die trust die boer of grondeienaar met die inwerkingstelling van die bestuursplan se bestuursingrepe, onder meer die bedrading van stukke natuurlike veld om die toegang van vee te beheer, die bestryding van indringerplante, die beplanning van en ondersteuning tydens ekologiese brande en die bekamping van erosie.

Die huidige deelnemers het hoofsaaklik op werksessies of op boeredae van die trust se werk te hore gekom. Ses plase het sulke servitute onderteken, wat die kritiek bedreigde renosterveld in private besit wat vir die nageslag bewaar word, op 1 500 ha te staan bring. Die werknemers van die trust sien daarna uit om meer grondeienaars betrokke te kry om sodoende meer bedreigde renosterveld vir die nageslag te bewaar. 

Dr. Anton Odendal is ’n lid van BirdLife Overberg en woon op Hermanus. Navrae: Dr. Odette Curtis-Scott, tel. 083 551 3341; e-pos: info@overbergrenosterveld.org.za; web: www.overbergrenosterveld.org.za.

Oorweeg dit om by ’n plaaslike voëlkykklub betrokke te raak. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou omgewing.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.