Dít blyk uit ’n studie wat daarop wys dat roofinsekte nie net prooi nodig het om te oorleef nie, maar langer leef indien hulle ook toegang tot ’n goeie voorraad nektar en stuifmeel het.
Dié soort insekte, waaronder liewenheersbesies, goudogies, sweefvliegies en myte, is belangrike bondgenoot in die bestuur van boorde en aangeplante gewasse. Roofinsekte is vaardige plaagbestryders en hul jagtogte verminder die nodigheid vir chemiese plaagdoders.
Daar is tot onlangs geglo roofinsekte oorleef slegs op prooi.
Navorsers van die Universiteit van Kopenhagen in Denemarke se departement plant- en omgewingswetenskappe het egter studies van reg oor die wêreld bekyk en tot die gevolgtrekking gekom dat die meeste roofinsekte grootliks bevoordeel word deur die teenwoordigheid van blomme.
Hulle kan selfs vir langerige tye op slegs nektar en stuifmeel oorleef. Dit verskaf goeie energie. Albei geslagte roofinsekte leef langer in die teenwoordigheid van blomme.
“Stuifmeel en nektar is ’n byvoeding waarop voordelige insekte kan oorleef wanneer daar nie plae in die omtrek is nie,” sê prof. Lene Sigsgaard in ’n verklaring deur die Universiteit van Kopenhagen.
Die Deense navorsers meen dit is daarom voordelig vir boere om stroke blomme in en om landerye aan te plant omdat dit roofinsekte, wat die natuurlike vyande van landbouplae is, lok.
Aangeplante blomme lok ook ander insekte waarop roofinsekte kan jag maak. Dit werk die beste om ’n wye verskeidenheid blomme aan te plant wat vroeg én laat in die seisoen blom, aangesien dit roofinsekte regdeur ’n groeityd help oorleef.
Die navorsers beveel aan dat inheemse, meerjarige blomme aangeplant moet word om ’n permanente habitat vir roofinsekte te skep, en waar hulle kan oorwinter.
’n Wye verskeidenheid spesies wat in verskillende seisoene blom en wat ’n verskeidenheid insekte bevoordeel, is belangrik. Aanplantings moet ideaal gesproke roofinsekte én bestuiwers bevorder.
Die navorsers benadruk dat dit belangrik is om maklik toeganklike, oopgesig-blomme, soos madeliefies, te plant. Dit is makliker vir roofinsekte om nektar in dié soort blomme te versamel. Hulle het nie lang voedingsbuise soos bye nie, en daarom sal tuitvormige blomme nie goed werk nie.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier