Die mosie wat in die Parlement aanvaar is – dat die betrokke klousule in die Grondwet verander moet word om grond sonder vergoeding te onteien – het ’n groot vertrouensbreuk tussen die landbougemeenskap en die ANC en sy nuwe vennoot, die EFF, veroorsaak.

Dit is ten spyte van die klem daarop dat landbouproduksie en voedselsekerheid nie geskaad word nie. As ’n mens die debatte volg, is die ontsteltenis nie net tot landbougeledere beperk nie. In die sakemedia word die een gevaarteken ná die ander beklemtoon. Die uiters nadelige ekonomiese gevolge van die besluit en die implikasies daarvan vir die ekonomie en veral die landbou, word ontleed.

Dit is natuurlik nog te vroeg om te praat. ’n Parlementêre komitee sal die mosie ondersoek om teen einde Augustus met ’n gedetailleerde voorstel na vore te kom. Dit kan onder meer ’n wysiging van Suid-Afrika se Grondwet insluit. Die artikel in die Grondwet wat die ANC wil verander, verwys na eiendomsreg.

Dit sluit egter nie net landbougrond in nie, maar alle eiendomme en aspekte wat daarmee verband hou, soos aandele en patente. Die definisie is omvattend en kan talle nadelige, ongunstige gevolge meebring. Daar is egter voldoende bewyse dat dit nie die Grondwet is wat die struikelblok is by grondhervorming nie.

Dit is die staat se totale onvermoë om sy eie beleid suksesvol uit te voer. ’n Hoëvlak-ondersoek na staatsbeleid deur mnr. Gwede Mantashe, nou nasionale voorsitter van die ANC, en ’n komitee het ook tot die slotsom gekom dat dit die staat se onvermoë is om sy eie beleid toe te pas.

Die feite is skaars, maar skynbaar het 90% van die sowat 4 000 kommersiële plase wat die staat vir swart begunstigdes gekoop het, tot stilstand gekom. Boonop hou die staat steeds die titelaktes. Dit keer nuwe begunstigdes om finansiering in die mark te kry om hul produksie te finansier.

Die ander werklikheid is dat die staat se syfers wat aangehaal word oor die rasseverdeling van grondbesit (in ’n nie-rassige demokrasie!) heeltemal verkeerd is. Verskeie studies en oudits deur die private sektor (soos die grondoudit van Agri SA en Landbouweekblad) het bewys die syfers is verkeerd.

Mnr. Mike Schüssler, ’n ekonoom, se navorsing uit syfers van Statistieke SA dui aan dat swart mense sowat 7,66 miljoen huise en wit mense sowat 730 000 huise besit, terwyl bruin mense en Indiërs saam soveel huise soos wit mense besit. Die waarde van swart mense se eiendom is sowat 53% van die totaal, met Indiërs, bruin en wit mense wat die res van die syfer uitmaak.

As die staat dus eiendom onteien, sal sowat 10 keer meer swart mense as wit mense verarm word. Kortom, Schüssler sê dit gaan eintlik ’n onbegonne taak en dwase aksie wees om so ’n beleid deur te voer. Die beleid moet eerder wees om titelaktes van stamgronde en munisipale en HOP-huise na swart mense oor te dra en hulle besitters van eiendom te maak. Plakkers moet ook die titelaktes kry van die grond waarop hul hutte staan. Dít sal welvaart ’n groot hupstoot gee.

Waar staan ons?

Die vraag is nou waar die kommersiële landbou staan te midde van die geroesemoes oor beleid waarmee ons tans stoei. Die vraag geld natuurlik alle ander besitters van eiendom. Dit gaan weer ’n onstuimige tyd wees met hoë risiko’s. Almal sal koelkop moet bly om nie verkeerde en impulsiewe besluite te neem nie.

Die private sektor en die georganiseerde landbou sal baie hard moet werk om gesonde verstand te laat seëvier. ’n Mens moet ook onthou onsekerheid oor beleid ontmoedig belegging en ekonomiese groei wêreldwyd. Suid-Afrika se kommersiële landbousektor is van die wêreld se landbousektore wat die minste subsidies kry.

Boonop het Suid-Afrika van die laagste invoertariewe om plaaslike bedrywe te beskerm. Ongeag die ras van die boer of die grootte van die boerdery is daar net een manier hoe ’n kommersiële boer mededingend kan bly en kommersiële hoeveelhede voedsel verbou vir sowat 55 miljoen mense wat kos van die winkelrakke af koop.

Dit is om in die nuutste tegnologie te bly belê om koste laag te hou en internasionaal mededingend te wees. As jy nie in nuwe tegnologie belê nie (soos tans gebeur), raak jy baie vinnig agter. As die malligheid oor ’n jaar of drie sy lê gekry het, gaan jy so ver agter wees dat jy kwalik sal kan meeding en in die moeilikheid gaan beland.

Dit geld eweneens vir nuwe boere. Om in nuwe tegnologie te belê het jy finansiering nodig, wat net uit twee bronne kan kom. In die eerste plek kom dit uit jou winsgewendheid en die wins wat jy terugploeg in jou boerdery (wat nie nou gaan gebeur nie).

Tweedens is die opsie eksterne finansiering, waar finansiële instellings titelaktes vereis as eerste vorm van sekuriteit. Een van die groot struikelblokke is natuurlik om die landbou in groot dele van Afrika (en in Suid-Afrika se stamgebiede en grondhervormingsplase) te finansier.

Wat lê nou voor?

Grafiek 1 toon hoe die skuldlas in die landbou oor die laaste aantal jare toegeneem het. Dit was namate boere ál meer van eksterne finansiering gebruik moes maak om in ongunstige toestande te bly boer. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het landbouskuld teen einde verlede Junie op sowat R151 miljard geraam.

Die waarde van vaste bates en grond word geraam op R244 miljard. Dit beteken vaste bates dra sowat 62% van die skuldlas. Vee en masjinerie is saam sowat R217 miljard werd. As die waarde van grond en vaste bates wegval (weens die een of ander absurde beleid) beteken dit die skuldlas op die oorblywende bates gaan sowat 70% wees.

Dit is totaal onvoldoende sekuriteit vir die finansiers. Die banke neem in elk geval nie vee as sekuriteit in ag nie. Finansiers vir die landbou word dan deur groot verliese in die gesig gestaar as die waarde en sekuriteit van grond vir finansiering deur swak beleid verlaag word. Die ander kommerwekkende neiging is dat belegging in die landbou oor die afgelope paar jaar ’n dalende neiging toon.

Grafiek 2 toon belegging in die landbou as persentasie van omset. Die skerp dalende neiging is duidelik te sien. Sonder voldoende sekuriteit en winste sal beleggings bly daal. Suid-Afrika sal ál minder internasionaal kan meeding en die kreeftegang voortsit. Grond en vaste verbeterings is die primêre sekuriteit as dit by eiendom kom.

Volgens berigte is daar tans ’n oorvloed plase op die mark ná die parlementêre besluit oor moontlike onteiening. Dit druk reeds grondwaardes af, wat die moontlikheid vir boere om finansiering te kry, verminder. Balansstate verswak dus en kan vinnig ’n baie nadelige sneeubal-effek teweegbring.

Dit kan groot skade aan boerderye, banke en landboubesighede se balansstate veroorsaak en die hele plattelandse ekonomie in die gevaar stel. Die scenario sal weer verdere werkloosheid tot gevolg hê, terwyl ’n daling in beskikbare hoeveelhede kommersiële voedsel teen hoër pryse noodwendig gou ’n werklikheid gaan word.

Waaraan moet jy intussen aandag gee? Diversifiseer jou beleggings weg uit die landbou. Dit is ’n aanvaarde en geykte beleggingstrategie dat jy nie al jou eiers in een mandjie moet sit nie; veral soos sake nou staan. Gebruik die grond waarop jy boer maksimaal voor jy nóg grond aankoop.

Ek dink boere gaan ál meer grond huur namate sommige boere besluit om hul eerder tot ander sektore te wend. Die gesprekke oor onteiening wil te kenne gee dat die voorgestelde beleid veral gemik gaan wees op grond wat nie optimaal benut word nie. Boer in verskillende sake-eenhede. Dit het na my mening beter belastingbeplanningsvoordele.

Ek dink jy kan só ook makliker aan die nuwe SEB-kodes voldoen. Die draadsitters moet nou inskakel by die georganiseerde landbou. Dit is van die min organisasies waar boere as groep teen die staat standpunt kan inneem en die beleid oor onteiening kan teenstaan.

Dit gaan nie oor kleur nie, maar ekonomiese werklikhede: Min boere sal met verloop van tyd suksesvol wees en internasionaal kan meeding as daar nie standvastige eiendomsreg en beleidsekerheid is nie.