Hierdie skrywe is slegs ’n baie klein blykie van waardering deur Strydenburg se boere, ’n gemeenskap wie se wortels droog en dor is weens ’n uitmergelende droogte. ’n Paar jaar van voer, stof en finansiële verliese het die blomme weggeneem uit ons veld en harte. Ons het darem nog vogtigheid – nie net trane van smagting na reën en hulp nie, maar ook van dankbaarheid en waardering.

Steeds bestaan die hoop, steeds staan ons vas in die geloof, anders verloor ons onsself as mens. ’n Stryd om oorlewing bring ons nader aan ons Skepper, aan mekaar en aan ons wonderlike weldoeners. Mense met omgee-harte, onbekende boere en instellings met mense waarin Sy genade en liefde floreer. Dit hou ons aan die gang, op die grond en naby Hom.

Elke vrag hoop in die vorm van ’n vrag voer of gratis of gesubsidieerde vervoerkoste is ’n sonstraal van liefde. Ons veld word leeg, ons diere minder, ons plante verdwyn, ons inkomste is weg. Ons bydraes tot mediese fondse en polisse verdwyn, maar ons bly glo aan môre, want ons is boere!

Baie dankie aan veral medeboere van die Vrystaat tot in die verre noorde. Jul liefde en omgee help ons dra. Julle is te veel om op te noem, maar sonder jul hulp sou van ons plaashekke al gesluit gewees het. Baie, baie dankie. Woorde van waardering is te min om ons innerlike dank oor te dra. Baie dankie aan droogtehulpkanale, geskep en bedryf deur mense wat alles gee. Van julle ken al die nommer 076 118 8378 uit die kop.

Dan is daar dae soos vandag, waar voer beskikbaar is, maar nie vervoer nie. Geld het ons te min, maar smeekgebede tot Hom genoeg. Dankbaarheid in oorvloed! Ons kragvoer is op en ons beursies so leeg soos ons droë boorgate, maar ons harte is vol – van hoop, geloof en dank. Wanneer jy ’n dooie skaap, bees, wildsbok of boom sien, bring dit jou nader aan Hom en ook aan hulle in wie se harte Hy werk.

Strydenburg salueer elke bydraer met eerbied en dankbaarheid. Mag julle in oorvloed geseën word. Bo-Karoo-groete.