Planne om grond aan swart mense oor te dra, moenie van regeringskant af kom nie. Boere moet dit self bedink en uitvoer. 

“Die planne moenie van Pretoria kom nie, maar wel die doelwitte en beleidsparameters,” meen mnr. Hendrik du Toit, mede- uitvoerende hoof van die Investec-groep en een van die sprekers op Landbouweekblad en PALS se grondsimposium op Ceres van 14-15 November. Koop hier kaartjies om die simposium by te woon.

Hy meen as boere sélf die momentum skep, sal politici volg. Dis hoog tyd dat die onsekerheid wat deur die gronddebat geskep word, uit die weg geruim word. Die klem moenie op “onteiening sonder vergoeding” val nie, maar eerder op “grondhervorming”.

“Die feit dat dit (grond) ’n politieke speelbal is pleks van ’n legitieme inisiatief wat binne ’n duidelike beleidsraamwerk uitgevoer word, is betreurenswaardig.” 

Om die bal aan die rol te kry, moet mense meer met mekaar praat – ook een van die doelstellings van die Landbouweekblad- PALS-grondsimposium. 

“Die skrille politiek van die dag, sosiale media en die verwaarlosing van gemeenskapsgespreksforums tydens die Zuma-jare het ons kultuur van gesprek oor rasse-, politieke en geloofsgrense heen verwater. Dis ’n kultuur wat in die 1980’s gevestig is en het Suid-Afrika van ’n potensiële burgeroorlog gered. Ons moet weer begin praat, maar ons moet ook dóén, anders gaan niks verbeter nie.”

Die antwoord lê ook nie noodwendig daarin om landbougrond te hervorm nie, sê hy.

“Verstedeliking is ’n onomkeerbare proses. In 1900 het 60% van Amerika se mense op die platteland gewoon. Vandag woon net 20% op die platteland en slegs 1% op plase. 

“In die moderne wêreld is ’n ylbevolkte, groen en produktiewe platteland wat op toerisme en die landbou ingestel is, ’n beter proposisie as een vol groot dorpe gevul met werklose mense. Dis juis waarom stedelike grondhervorming baie belangriker is as landbougrondhervorming.”

Laat ons maar reguit wees daaroor, Suid-Afrika bevind hom nie tans op ’n goeie plek nie, sê Du Toit, wat onlangs aangewys is as Die BurgerNetwerk24 en die Kaapstadse Sakekamer se Sakeleier van die Jaar. Hy hou egter vas aan Martin Luther King jr. se woorde: “Only in darkness you can see stars.”

“Ons mag nooit hoop verloor nie, maar ons moet eerlik wees: Ons is in ’n donker tyd en dis normaal vir mense om te dink aan die toekoms van hul nageslagte.

“Kom ons plaas dit in perspektief. Daar was al baie swaarder tye in hierdie land van ons. Ons durf nie hoop verloor nie, maar ons moet ook nie naïef wees nie.”

Die volgende vyf jaar gaan deurslaggewend wees om die tafel te dek vir die volgende 10 tot 20 jaar in Suid-Afrika. 

“(Mnr.) Cyril Ramaphosa se verkiesing (tot staatspresident) het ons van ’n gewisse ramp gered, maar te min is nog gedoen om ’n rooskleurige toekoms vir Suid-Afrika se verseker. Daarom is initiatiewe soos PALS van sleutelbelang op die terrein van grondhervorming. Dit help nie om net te sit en kla nie. Ons moet nou almal inspring en ’n beter Suid-Afrika begin bou. Die land het so baie potensiaal. Oral in die wêreld is daar probleme en struikelblokke, nie net in Suid-Afrika nie.”

Dit is dus tyd vir moue oprol, maar wat kan gewone mense dóén?

“Kom ons bou gemeenskappe. Kom ons maak korrupsie dood. Kom ons raak betrokke by ons skole en kerke. Deur net die stelery te stop te sit, kan ons BBP-groei met ’n paar persentasiepunte lig.”

Maar dit is nie genoeg nie, sê Du Toit. Gaan kyk na onderwys en opvoeding.

“Kry dissipline terug in skole. Dit begin by die onderwysersunies. Konfronteer hulle en sit hulle op hul plek. Jaag dan uitnemendheid na. Maak dit Suid-Afrika se nasionale projek. 

“Die mense in Suid-Afrika betaal ’n duur prys, want hulle weet nie hoe meedoënloos die wêreld deesdae is nie. Asië wag vir niemand nie. As Afrika nie vinnig wakker word nie, gaan hy net verder en verder agtergelaat word. Dis tyd dat ons nasionale leiers begin reguit praat met die mense.”

Sakemense kan ook nie meer aanvoer dat hulle nét sake doen nie. Nee, hulle moet óók by gemeenskapsbou betrokke raak. En hieroor kan Korporatiewe Suid-Afrika ’n blaadjie uit die landbousektor se boek neem.

“Die private sektor het ’n belang daarby om ’n sukses van die land te maak. Ons het ’n plig om deel te neem. Dink maar aan (wyle dr.) Anton Rupert se konsep van deelgenootskap. Hy het gesê: ‘Ek kan nie slaap as my buurman honger ly nie.’ In Suid-Afrika slaap ons tans lig. In die 1980’s het maatskappye soos Anglo American die leiding geneem en ingrypings gemaak wat gehelp het. Wat die private sektor – spesifiek sakelui – kan doen, is om hulpbronne te verskaf – hoofsaaklik kundigheid, maar ook geld en infrastruktuur. Dit kan ’n goeie impak in gemeenskappe maak.”

Vir elke struikelblok is daar ’n geleentheid. En die wêreld bied juis nou ongelooflike kanse vir diegene wat uitnemendheid nastreef pleks van teer op ’n stelsel. Sy raad aan Suid-Afrikaners is om hulle só te posisioneer dat hulle die kanse kan aangryp.

“Versamel kennis en kundigheid en werk so hard soos jy kan. Die wêreld skuld jou niks en die mededinging is meedoënloos, maar die geleenthede is daar. Dís die manier om ’n bydrae te lewer om ’n beter Suid-Afrika te bou. Die pessimiste bou nooit groot besighede nie, die naïewe optimiste gaan bankrot en die optimistiese realiste maak hul drome ’n werklikheid.”

Suid-Afrika het mededingende voordele in die landbou, mynbou en dienstesektor. Die staat moet dinge net vergemaklik, sê Du Toit. Dit behels sake soos veiligheid, beter paspoortprosesse vir buitelandse besoekers, grond- en mynbousekerheid en die aktiewe aanmoediging van internasionale maatskappye om streeksbassise in die land te vestig.

“Ek is bevoorreg om te sien hoe ons vindingryke kliënte deurgaans nuwe geleenthede vind om internasionaal mee te ding en te wen. Dié stories moet vertel word om die nasie te inspireer!”

In ’n wêreld waar tegnologiese en gemeenskapsverandering aan die voorpunt is, het die aard van werk heeltemal verander, wat gemeenskappe baie onrustig kan maak. 

Om te registreer vir die Landbouweekblad-PALS-grondsimposium, of nog inligting daaroor te kry, klik op hierdie skakel en kontak gerus vir Jacolette Kloppers by jacolette.kloppers@landbou.com.

“Ons is midde-in ’n tydperk van ongekende tegnologiese en gemeenskapsverandering. Die kombinasie van verstedeliking, bereikbaarheid (3,5 miljard slimfone vir 7 miljard mense), ontwikkelings in kunsmatige intelligensie, die noodsaaklikheid van volhoubaarheid in die konteks van die bedreiging van skadelike klimaatsverandering en omgewingsvernietiging, asook wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang werk mee om die wêreld waarin ons leef, radikaal te verander.

“Die prys van dié vooruitgang is die verlies aan baie van die ou sekerhede. Ons moet dié wat agterbly, help om op die wa te bly, anders gaan die ‘vooruitgang’ tot groot onstabiliteit lei. Hierdie neiging lê die grondslag vir ’n beter, groener en produktiewer wêreld. Ons moet die verandering en vooruitgang benut, nie beveg nie,” sê Du Toit.

Ook vir boere is daar baie geleenthede (maar ook risiko’s) in die “nuwe ekonomie”.

“Daar is ’n nuwe ekonomie wat geskep word danksy nuwe energiebronne en nuwe maniere om goed te maak en kos te produseer. Ons jong mense is baie reguit daaroor. Hulle vra jou wat doen jy om jou koolstofspoor te verklein. Ons eet anders. Die wêreld gaan verander. As ’n landbouer reg geposisioneer is daarvoor, kan hy regtig goed vaar. Dink maar aan die avokado- en bessierevolusie!”

Du Toit is ’n gebore stadsjapie, maar het ’n diep liefde vir die platteland. Daarom is sy wens dat die regering die breë boeregemeenskap op die hande dra. 

“Hul rol as voedselprodusente, werkgewers, welvaartskeppers en bewaarders van die platteland behoort lof en agting van ander gemeenskapsektore, maar veral die regering te ontlok. Ons het darem nou ’n president wat met beeste en wild boer.

Hortgro