Tydens die Covid-19-pandemie het ons ’n hele paar vriende en kennisse aan die dood afgestaan. Dit was egter die begrafnis van een van my goeie vriende wat my die meeste vrae laat vra het. Dit was ’n skamele elf weke nadat kanker by hom diagnoseer is. Hy is hospitaal toe vir die operasie, maar die dokter het hom teruggestuur en gesê die kanker is te wyd versprei en dat dokters niks meer vir hom kon doen nie.

Soos met so baie ander dinge het dit my weer aan die dink gesit oor al die gevolge van só ’n siekte. Dit het weer duidelik geword dat beplanning baie belangrik is in ’n stadium dat siekte en afsterwe nog glad nie op die horison is nie. Miskien is die bewustheid wat Covid-19 geskep het die ideale tyd om ons beplanning te hersien.

GEE AANDAG AAN PYNE EN SKETE

Ek het onlangs met ’n kliënt gepraat wat gesê het hy voel so goed ná sy galblaasoperasie. Hy het maar altyd gedink die pyne wat hy gevoel het, is weens ouderdom. Dit is ’n fout wat baie mense maak en ons is geneig om vroeë waarskuwings te ignoreer.

Niemand sal ooit ’n duur motor ry sonder om dit gereeld te laat diens nie. Tog voel ons dit is ’n mors van tyd en geld om gereeld vir ’n volledige doktersondersoek te gaan. As jy jonger as 50 is, behoort jy elke drie jaar vir ’n volledige ondersoek te gaan en bo die ouderdom van 50 elke jaar. Hoe vinniger enigiets opgemerk word, hoe groter is die kans dat dit genees kan word en hoe goedkoper sal dit wees. Ek weet van verskeie mense wat kanker oorwin het, maar nou in aftrede ingaan sonder reserwes.

DIE REGTE VERSEKERING

Dekking is beskikbaar wat ideaal is vir die verlies van ledemate en ander versekering is weer goed om dekking te bied teen gevreesde siektes soos hartaanvalle en kanker. Ander versekeringsprodukte bied weer aan jou ’n maandelikse inkomste of ’n enkelbedrag wanneer jy nie verder kan werk nie. Nie een is beter as die ander nie. Die gepaste dekking hang af van jou soort werk en ook jou familiegeskiedenis.

Dit is hier waar jou finansiële beplanner baie waarde kan toevoeg deur die verskillende opsies se uitsluitings en premies vir jou te vergelyk. Maar wees versigtig vir premies met ’n verpligte styging. Hoewel dit heelwat goedkoper is aan die begin, kan die premies onbekostigbaar raak as jy dit nodig kry.

GOEIE BEPLANNING

Ons huis word deur my vrou bestuur, waaronder ook die finansies. Tydens die Covid-19- inperking, met die besef hoe verganklik die lewe is, het sy ’n lêer opgestel waarin al ons dokumente is. Dit het geëindig in drie dik lêers. Vir die eerste keer weet ek nou watter betalings aan wie gemaak sal moet word en ook wat elkeen van ons werkers betaal word.

As daar nie só ’n lêer in jul huis is wat gereeld bygewerk word nie, kan julle verseker wees van chaos wanneer teëspoed oor jul pad kom.

LEEF VOLUIT

Lewe elke dag asof dit jou laaste is, want eendag gáán dit jou laaste dag wees. Maar leef ook ’n vervulde lewe. Op sy begrafnis het die predikant gesê my vriend André het so ’n lewe gelei dat selfs die vullisverwyderaar hartseer was met sy afsterwe.

Ons land waarvoor ons so lief is, het baie probleme, maar ons moenie van ons politici verwag om met oplossings vorendag te kom nie. Dit sal net regkom as elkeen van ons daaraan werk om dit te verander.

NAVRAE: E-pos: Ronald.King@psg.co.za